Friday 6 May 2016

As die wind jou waai soos hy nou daar waai…

Dis ‘n stormwind wat van vroegoggend af in die Kaapse middestad waai.

As mens in ‘n woonstelblok woon, word jy in die nag wakker met ‘n waarskuwing: dis sulke tyd! Elke venster en deur wat nie behoorlik toegegrendel was nie, vertel jou die storie van die wind. Nogal met ‘n harde slag. En nie net een nie!

Ek wonder of sommige inwoners hier om ons met oorpluisies slaap. Of dalk luister hulle heelnag musiek? O ja, sommige het seker bietjie laat (of vroeg…?) in die bed gekom.

Skynbaar klap deure en vensters digby party snorkendes sonder dat dit hulle pla.
En dan is daar dierbares wat die gange op- en afstap om die vensters toe te maak en die deure dig te maak met wat ookal naby is. Maar so raak ons slim en begin al daai rondtes vroegaand doen as dit windmakerig hier om ons raak…

Dis nogal iets om te sien hoe swart plastieksakke hier op die tiende verdieping verbywaai. Hoog die lug in. Ek het altyd gedink die meeste goeters val afwaarts, maar die sakke van allerlei groottes skep lug en gaan soos heliumbalonne met ‘n spoed hier verby – ver bokant die hoogste geboue die lug in.

Ons gebou is op vaste fondamente gebou. Geen wankelrigheid hier nie.

Maar die krag van die wind moet nooit onderskat word nie.


Onlangs het ‘n reuse-ruit uit ‘n gebou hier naby gewaai. Gelukkig in die nag en niemand beseer nie. En dan is daar die dapper werkers wat herstelwerk moet doen. 


Hierdie man werk aan ruite aan die buitekant van omtrent die twintigste verdieping ...
Gelukkig op 'n windstil dag!

2 comments:

Unknown said...

Sjoe party mense is darem dapper of miskien geniet hy selfs die adrenalien terwyl hy aan daai stukkie tou vas is

Unknown said...

En ja, oral waar mens in die stad loop, sien mens werkers wat hoog teen geboue aan die werk is. Dis nou natuurlik as mens boontoe kyk - wat ook 'n storie op sy eie is!!!