Wednesday 4 May 2016

As die skoen jou pas…

Manlief stap eendag by die werk in by ‘n teekamer tussen ‘n klomp vroue wat gesels oor hul skoene. Hulle wil toe by hom weet of sy vrou ook so baie skoene het….

Nee, ek het nie baie skoene nie.

Om eerlik te wees, sou ek meer wou gehad het, want ‘n prettige skoen is mos darem net gemaak om ‘n ekstra huppeltjie in jou stap te sit! Maar hoeveel skoene is nou genoeg? Ek het mos elk geval meer as wat ek in my leeftyd kan kafdraf!


So stap ek onlangs in St George’s Mall verby ‘n skoenwinkel wat ‘n toemaak-uitverkoping adverteer. Ek stap in en slaan my hande same. Ek dink my mond het oopgehang!
Ek het die skeppings al op televisie gesien, maar nie geweet dat dit hier in onse dorp ook beskikbaar is vir onse vrouens nie. Hoe loop mens oor die Kaape Vlaktes met dié gedoentes? En dan wonder ek of dit mans is wat dit ontwerp het? Om vrouens te pynig? Dalk is dit die soort wat mens net per geleentheid vir ‘n kort rukkie aantrek? Om weer vinnig uit te trek? Hoe lieflik moet dit nie by die tuiskoms wees om jou skoene letterlik en figuurlik uit te skop as jy op dié stelte moes balanseer nie!!!



Omdat ons baie stap en omdat gerief hoog op my prioriteitslys is, is gemaklike skoene vir my baie belangrik. Ek wil nie voel ek het skoene aan nie.

Onlangs sit ek langs ‘n dame wat meen die plat ballerina-tipe skoene wat baie (ek ook!) dra, is glad nie vleiend nie. Volgens haar behoort vrouens met hoё hakke te loop. Gelukkig kan ons van mening verskil!

Tydens ‘n vakansie in Parys merk ek op: Daar is twee soorte vrouens – dié wat met hoёhakskoene dra en dié wat met plathakskoene rondloop. Manlief is toe gladdebek met sy waarneming: Daar is drie soorte vrouens – die wat met platskoene loop, die wat met hoёhakskoene kán loop en die wat nie met hoёhakskoene kan loop nie. Goeie waarneming!

Oor die naweek gly my oё oor die pragtige handgemaakte skoene wat by Decorex uitgestal word. Pragtig mooi. Sag. Verleidelik. Ek sien die goue puntjie van die mooi skoentjie onder ‘n kledingstuk uitloer. Ek stap nader. Word verder verlei met die ligte skoentjie in my hand… Tot ek die prys hoor…


Het Aspoestertjie self betaal vir haar glaspolvytjie???

NS En ja, ek het onlangs by 'n baie spoggerige restaurant gesien hoe 'n lyfie bo-op so'n einste paar skoene gebalanseer word - met grasie! Sy kan maar! 

2 comments:

Unknown said...

Ja skoene is sowaar'n saak waaroor ek opgewonde en gepynig voel. Dis soo lekker om mooi skoene aan te hê maar ai die pyn ek kan noe een paar onthou wat my nie met 'n blaas of twee gelos het nie. Anderdag gaan wys 'n ander vriendin vir my Strand se outydse inkopiesentrum en daar loop ek toe 'n paar 'hotter' skoene raak nou ja dit was ook een van daai 'vinnig neersit' skoene maar ek moes dit net eers aanpas en kon nie glo hoe ongelooflik sag en lekker dit was nie. Eendag as ek groot is gasn ek een van hulle koop.

Unknown said...

Doen daai ding! Skoene wat knyp is aaklig!!! Ons stap pas verby 'n vrou wat moeilik loop met die hakke. Ek meens sy gaan vanaand 'n sug van verligting gee as sy hulle uittrek. En selfs haar lyf gaan so lekkerkry, want die klere was ook 'n paar nommers te klein. Sjoe! Eina!