Saterdagsake
Saterdae is
spesiale dae.
Vir baie is dit
werksdag.
Vir party is dit
die dag wat liefie verklaar: “Kan mens nie daai muur ‘n ander kleur verf nie?”
So staan ek
vanoggend in die verfwinkel. En nee, dis nie vir my huis se mure nie.
Ek geniet dit om
die paartjies wat instap te beskou. Manlik met vaste tred, want vandag moet hy
vasstaan. Sy met sprankeldrome in die oë van hoe daai muur gaan lyk na die
opknapping gedoen is.
Die meubels word
weggeskuif. One thing leads to another.
Terwyl
die gordyne in die pad is, haal ons dit sommer af en was dit. En kyk, die
vloerlyste moet ook bygekom word. Sommer die hele vertrek s’n. En nou lyk die
muur langsaan nie so goed nie. Die kleure van die mure verskil dan nou…. En die
kussings lyk uitgebleik teen die muur met die nuwe verflaag.
Daar skop die
rugbyspan af! Die vuur brand nog nie vir die potjiekos nie! Daar is nog
verfwerk wat gedoen moet word! Die skoonmense kom môre kuier. Gemoedere loop
hoog.
Dis nou sulke tye
wat my man rustig glimlag. Sy Saterdae is weer sy eie! Dis nou die voordeel as
mens huur.
No comments:
Post a Comment