Ode aan skoonmakers
Vanoggend het ek
traag opgestaan. Ek moet die kasteel skoonmaak. Ek is nie die beste huiswerker
op die koning se werf nie…
As ek so afstof en
ek kom by ‘n hopie tydskrifte wat uitgesorteer moet word… Wel, dan begin ek net
eers gou daai artikel lees voor ek besluit na wie toe die tydskrif aangegee
moet word. En dan sien ek daai ou reseppie wat ek net weer na wou kyk vir
inspirasie, ens.
Later sien ek die
stofsuier in die middel van die vloer staan en wonder of hier ‘n inbreker in
die huis was…
Uiteindelik het ek
flink aan die gang gekom. Dit was nou wel na ‘n stadige begin, maar die ou
enjin moet mos eers bietjie opwarm.
En siedaar! ‘n
Heerlike skoon kasteel! Die koning sal met sy tuiskoms absoluut in sy skik
wees. Dis nou as hy dit agterkom….
Ek wil sommer ‘n lied
sing vir die skoonmakers. Die mense wat elke dag skoonmaak. My vriendinne wat
al die jare hul huise self skoonmaak. En dit so uitstekend doen. En dit boonop
met ‘n lied in die hart doen! Liewe mense wat my gehelp het om in ‘n skoon plek
te woon! Die skoonmakers by Seepunt se swembad -is elke keer verras met hoe
goed die plek in stand gehou word en gebruik word! (En nee, ek gaan nie
daarheen om te swem nie, maar die staproete gaan daar verby en senior burgers
mag gratis ingaan.) Die ou wat elke papiertjie by Cape Sun se ingang optel. Die
mense wat getrou elke nag die stad skoonmaak. Die vriendelike man wat ons
woonstelgebou se gange skoonmaak en vullisdromme uitgooi.
En natuurlik ook
vir manlief wat al vir Little Miss Sunshine op ‘n skoonmaakrit geneem het! So
leer ek hom om selfstandig te wees. En jammer tog dat ek nooit selfstandig
geraak het met die grassnyer se werkinge nie…
O ja, ek het
probeer in my jonggetroude dae. Toe maak manlief die foutjie om my te vertel:
As jy nou hier klaar gesny het, dan sny jy daai stuk gras. En as jy daar klaar
is, die ander stukkie aan die agterkant van die huis. Toe hou ek (vir goed) op
voor ek klaar is. Ek weet immers waar al die grasperke op die erf is. Lekker
harregat gewees! Maar ek sou dit sekerlik nie so goed soos hy kon doen nie!
Kom kuier, dan wys ek jou! Ons maak weer anderdag skoon!
No comments:
Post a Comment