Tuesday 31 May 2016

Goeie nuus?

Vandag gaan niemand my oortuig dat die koerant net vol slegte nuus is nie! (Buurman van lank gelede het altyd na die Afrikaanse dagblad verwys as “Die Staatskoerant”. Dit was toe.)

Dis ‘n stil dag hier om my. Selfs ou Poi gaan my nie vandag pla nie. (Nou nie asof hy nie  hard aan die probeer is nie!)

Behalwe dat ek nie lekker die hoofopskrif “’n Skok, sê pa van nuwe Bok-kaptein” verstaan nie (in die berig is die pa nederig dankbaar vir die eer wat sy seun te beurt val), is daar heerlike leesstof in my mooie taal. As dit nou die manier is om die koerant vanoggend te verkoop, is dit seker beter as om dit met die nuus van (nog ‘n) nare moord te doen…

Ag, nou ja, die eerste paar velletjies is maar karig en narig.

Maak nou eers ‘n lekker koppie koffie, sit ‘n kussing op die stoel en vou daai Kuns & Vermaak deel oop. Pieter-Dirk Uys gee my sommer weer ‘n huppel in my stap. Ek hou van sy eerlikheid. En ai, Hermanus se FynArts fees klink na absoluut dit: ‘n Fees!

My hart is saam seer oor die Victoriameer. En dan vrolik Kiewiet en sy span my lewe weer op! Hou aan, jongman! Mag jy en jou span nog baie houtwerk doen dat die saagsels so spat!

En met Gatebe se Comrades-oorwinning maak ek sommer ‘n draai in KZN waar stukkie van my hart lê.

Die Buite-Burger vertel verder van ons dapper avonturiers wat die Expedition Africa aangepak het. Ons mag dalk net duskant die rommelhoop lê as dit by sommige sake kom, maar die Suid-Afrikaners weet van uithou en aanhou! Volgens die volstruisstorie kan sommige atlete dalk oorweeg om saam met dié langnekke te oefen.


En so na die laaste slukkie koffie wonder ek of daai kuier langs die Weskus se reservaat nie dalk op die emmerskop-lysie moet kom nie…. My enigste probleem is dat ek dikwels onbedaarlik wil begin giggel sodra ek doodstil moet sit in ‘n voëlskuiling… 

Monday 30 May 2016

Die ABC

Anderdag vertel ‘n onderwyser aan my man dat hy ‘n “storiesom” vir die klas gee om te doen. Iets soos: Daar is vyf rye bome. Daar is dertien bome in elke ry. Hoeveel bome is in die boord?

Van die leerders vra: Wat is ‘n boord?

Die onderwyser verduidelik dat bome wat vrugte dra wat geëet kan word en in rye geplant word, ‘n boord is. Hy besef ook dat hulle nie weet wat ‘n plantasie is nie.
Die enigste manier hoe hy vir hulle kan wys hoe ‘n boord en ‘n plantasie lyk, is om sy selfoon in die klas om te stuur om vir hulle te wys hoe dit lyk. Hy spreek die wens uit om ‘n projektor in sy klas te kan hê sodat hy vir die kinders kan wys hoe dit – en baie ander wonderlike dinge – lyk.

En nee, die skooltjie is nie in die boendoes nie.

Sjoe, ek is bederf!

Ek geniet my rekenaar en besoek die Universiteit van Google wanneer ek iets meer wil weet – soms in die middel van ‘n tv fliek of storie wat ek lees, kyk ek gou bietjie oor die dinge waaroor ek wonder. Die dae van projektors is vir my iets van lank gelede… en daai kinders het nie eens so-iets in hul klas nie!

Later die dag ry ons verby ‘n ander skool en ek merk op hoe donker dit binne-in die klasse is. Dis om elektrisiteit te bespaar.


Sjoe, ek is bederf!


Sunday 29 May 2016

Die stilword op ‘n Sondag

So uitgesien na vriende se kuier vandag hier by ons in onse kasteel. Maar toe raak manlief siekerig en besluit ons dat dit nie reg sal wees om die kieme verder te versprei nie.

Dis ‘n rustige dag hier. Stilword. Rus.

Met heerlike kos! Ek geniet myself om rustig te kook met die vars produkte wat gister aangekoop is. En ek hoop die heerlike geure laat liefie spoedig kans sien om te kom aansit aan die gedekte tafel. Net vir hom. Met baie vitamines!

Gelukkig is hier genoeg mooi tennis op die tv om ons besig te hou!


Sien steeds uit na die kuier saam met vriende! Dit bly kosbaar en spesiaal! Ek kook daai maaltyd vir julle op ‘n ander keer. Met ‘n gesonde man aan my sy!


Saturday 28 May 2016

Mmmmmm



Lekkergoed is lekker goed.

Of hoe?

Soetgoed is mos stout goed.

Darem sekerlik nie altyd nie!


Ooooo, die lekker goed! 

Friday 27 May 2016

Skryf in styl

Elke dag van 8 tot 5
sit sy fluks en skryf

Soms gee dit ‘n knak in haar lyf
maar manlief gee nie om om te vryf

Die vriendin van my skryf dikwels oor ‘n wille wyf
genadiglik hou haar karakters hul nie besig met drank en ‘n gekyf.



So word ek geseën met baie verskillende maatjies oor my pad wat my lewe opkikker!

Vir een kan ek ‘n sms stuur en vra: kyk jy ook tennis? Vir ‘n ander kan ek in nood laat weet: bid asb vir my! Vir een stuur ek ‘n foto van my jongste prentjie wat ek teken en hoor: ek sien uit na die eindproduk. By ‘n ander kan ek sommer net gaan sit en gesels. Een is my sielkundige. ‘n Ander my mentor. Een geniet ‘n koppie koffie, ‘n ander drink nie eens ‘n glasie wyn! Met sommige gesels ek net nou en dan, maar ons kan altyd met die gesprek aangaan waar ons voorheen opgehou het...

En saam kan ons net mekaar geniet. So dankbaar dat hulle my aanvaar soos ek is.

Ek wil nie hê een van hulle moet verander nie. Elkeen so kosbaar en spesiaal. En in my hart het ek plek vir elkeen - en nog baie, want soos die seisoene aangaan, kom nuwe vriende by wat nuwe perspektief aan my lewe gee.

Dankie dat ons saam kan dra aan die swaar en saam kan swymel in die soet…

Miskien is vriendskap vir my die gemak waarmee ek met iemand kan omgaan…

Tyd om verder te gaan lees aan daai vriendin se boek!

Thursday 26 May 2016

Op watter oktaan loop jy?

Pas terug van ‘n reis van hier tot George en terug. Synde ‘n afgetrede aanhangsel te wees, het ek die voordeel om in te klim as die lorrietjie se wiele draai – werk of plesier!

Dit was ook vir my die ideale geleentheid om tyd met kosbare vriende te spandeer.

So met verloop van die reis is daar mos maar die noodsaaklike stop vir volmaak. Dis nou waar mens moet seker maak jy maak vol met die regte soort. En die regte oktaan. (En dan is dit ook sommer terselfdertyd ideale tyd om leeg te maak! Maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.)

Ons kon oor die naweek saam hartseer wees oor die verlies van ‘n maat. Om van die wonderlike herinneringe te kan terugroep. Om saam te kan lag oor wat was. Om saam by die groot oseaan te staan en te weet ons sal nooit verstaan nie - ons hoef ook nie te verstaan nie. Maar om ook seker te wees dat vreugde deel is van die verdriet. Die vaste fondamente wat gebou is, is uiteindelik al wat troos. Die regte brandstof waarmee die reis verder aangepak word… Ja, mens kan straal deur hartseer en verlang en swaarkry. Ons vriendin leef dit.

En vanoggend, as my innerlike soek na die saamkuier op mooi plekke en lekker koffie saam met spesiale mense, weet ek daar is net een raad: gaan maak vol met die regte brandstof!





Tuesday 24 May 2016

Die skade wat skel aanrig

Iemand erken onlangs dat hy homself skuldig maak aan padwoede.

Natuurlik kan ons almal in onse mooie landjie onsself daarmee vereenselwig. Die menslike natuur is tog maar so dat ons ons bloediglik vererg as ‘n voertuig ons pad versper. Of voor ons inswaai. Dis gevaarlik en dis sommer net swak maniere.

En dan is daar ook die saak van voertuigbestuurders wat nie geldige lisensies het nie. Dit is vir my ‘n saak van groot kommer en ontsteltenis. Wie dié saak gaan aanvat, sal wysheid moet hê ver bo menslike verstand… Wat doen mens met die oortreders? Hoe word die verskaffers van onwettige lisensies vasgevat?

Die afgelope paar dae is ons op die langpad langs die mooie tuinroete. En telkens is daar ‘n duur, deftige voertuig wat teen ‘n blinde hoogte en teen die sperstreep, voertuie verbysteek. Die man (ja, gewoonlik ‘n manlike bestuurder) weet van beter! En soms ook sonder ‘n lisensieplaat…

En tog praat ons so maklik van “die taxi’s” wat ons bloeddruk laat styg.

“’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af”. Dit bly maar wyse raad wat ons uit die Waarheid leer. En so ook as dit kom by geduld met mede-padgebruikers. Harde woorde en vingerswaaiery in die hitte van die oomblik gaan niks beter maak nie. Gee maar die ander een ‘n kans – en doen dit met ‘n glimlag. ‘n Sagte een en nie ‘n sarkastiese een nie…


“For every minute you are angry you lose sixty seconds of happiness.”
 Ralph Waldo Emerson


Sunday 22 May 2016

Spesiaal net vir jou

Het jy al onwelkom gevoel?

So asof jy nou effe spyt is dat jy die werf betree het. Wens jy kon in trurat weer terugbeweeg deur die voorhekkie.. ..

So sleg soos wat dit is, so wonderlik is dit om met ope arms en ‘n hartlike glimlag ontvang te word. Hoe lekker om toegevou te word in ‘n welkomgroet! Om te weet daar is uitgesien na ‘n weersiens. Om sommer net aan te gaan met die gesels waar julle laas opgehou het… Om te weet: hier kan jy maar saam lag en saam trane afvee.

Wanneer jy by ‘n vriendin kuier en daar is vrolike tuinblommetjies in ‘n uitsoekpotjie op die kassie voor jou bed, hoef jy nie eers twee keer te dink nie: dis vir die kuiergas(te) bedoel.


Dan weet jy – dis spesiaal net vir jou!


Saturday 21 May 2016

Wysheid

Soos kinders groter word, word sake wat seermaak en wat saak maak, meer ingewikkeld. Gewoonlik gaan dit gepaard met meer vrae as antwoorde. Dis ook dikwels meer emosionele sake wat krap aan geloofsoortuiging en dit waarin ons glo – of nie glo nie.

Nie meer so maklik om sommer net ‘n soentjie te gee of ‘n pleister op te plak nie. Ook ‘n roomys of melkskommel maak dit nie sommer reg nie.

Dis hier waar tyd belangrik raak.

Maar om tyd met ‘n tiener deur te bring, is ook nou nie so maklik nie. Dis mos daai stadium waar hulle agterkom dat hulle die domste ouers in die ganse heelal het!

Op ‘n keer toe ek in ‘n winkelsentrum gewerk het, het daar eendag ‘n moedelose en taamlik bedremmelde ma by ons winkel ingestap. Sy was na aan trane. Haar tiener het fout gevind met alles – die manier hoe sy aantrek, hoe sy loop, en ja, selfs hoe sy asemhaal was nie vir hom aanvaarbaar nie! Hoe wreed! Maar hoe hartseer dat die ma dit toegelaat het!


En dan raak hulle ouer en groot en volwassenes! So lekker om te hoor hulle is lief vir hul ma – net soos sy is!!!!  


Friday 20 May 2016

Sonskyndae

So kosbaar. Die sonskyndae in die herfs wat mens buite kan sit en net alles om jou kan geniet.

Tot daar ‘n R.O.T. knap by jou verbyhardloop…

Ek sit onder ‘n groot boom en geniet middagete. So soort van ‘n bederfie. Sou sekerlik lekkerder wees met iemand wat dit saam met my kon geniet, maar nou sit ek op my eie. Ook lekker, maar nou het ek niemand wat my gaan help om op die stoel te klim as die gedierte dit nader waag nie!

Ja, soos in enige stad, is daar rotte in Kaapstad. Seker ook nie net in stede nie …

En dan vertel hulle my die eekhoring is eintlik ‘n rot. Ag nee wat, dit was nou nie nodig om daai kennis met my te deel nie! Sal graag liewer wil dink die ou goedjies met die lieflike sagte krulstertjies is liewe, onskuldige diertjies.

Tot ek hoor hoe my jong vriendin gesukkel het om die eekhorings uit hul plafon te kry! Blykbaar ‘n moeilike sakie…

Anderdag staan ek in die ry in Die Tuine en wag vir ‘n oop tafel. Langs my staan ‘n lang ry Amerikaanse toeriste. Die toergids wys hulle die ou fraai eekhorinkie. Waarop die een vrou op tipiese Amerikaanse wyse almal in die omgewing in luide taal laat verstaan hulle moenie naby haar kom nie, because it looks so much like a R.A.T. Sy wil nie eens die naam hardop sê nie en hoop seker die dier kan nie spel nie!

So wil ek toe nou nie tydens my solo ete te veel aandag vestig op my benoudheid nie en gee so ‘n halfhartige “sjoo” na sy kant toe. Die ding spring viervoet direk in die lug op en hol weg! Ek dink sy eerste paar tree was in die lug! So ‘n lekker Disney aksie gewees. Maar moenie dink hy is heeltemal afgeskrik nie! Paar minute later draf Ta verby met nog ‘n maatjie agterna….

Nee wat, as julle kom kuier, gaan sit ons iewers onder ‘n boom. Dan gesels ons só dat ons net die goedjies met die sagte krulsterte sien. Die ander, wat moontlik nie kan spel nie, is dan hopelik iewers in ‘n winterslaap…





Wednesday 18 May 2016

Knus kuiertyd

Wintertyd is kuiertyd!

So ontmoet ek en ‘n vriendin vanoggend mekaar vir koffie. En gesels net verder – so al asof ons mekaar nie jare laas gesien het nie!

Ons vriendskap het 34 jaar gelede in ‘n hospitaalkamer begin. Ek en sy het toe beide ons jongste ryker geword. En ons het so lekker gekuier en gesels, dat die dokter gepraat het van “die twee vrouens wat nie haastig is om huis toe te gaan nie”. Dit was beide se derde … en ons het beslis geweet wat tuis wag. Dus het ons die luukse van bedien word, behoorlik geniet.

Hoe kosbaar is vriendskappe tog! Heerlik om terug te dink aan al die lekker en die amusante insidente. En ook om die swaar met mekaar te kan deel.

Elke vriendskap is so spesiaal. Van elke vriendin kan ek ‘n storie skryf! Vir elkeen sou ek graag ‘n gedig wil skryf!

Sommer net so lekker dat hulle my aanvaar vir wie ek is. Dat ons saam kan lag en “onthou-jy-nog” kan saamspeel.

En om te weet hulle elkeen gee om - elkeen op 'n baie unieke manier.





Tuesday 17 May 2016

Hoe ver is jou onthou?

My lewe voel soos fases.

Van baba-wees weet ek niks.

Van kindwees onthou ek die Langstraat-huis op Bredasdorp met my pa se kantoor styf langsaan. Die lang tuin met die garage (ja, daai dae was dit die woord wat mens gebruik het) aan die onderpunt langs die groot moerbeiboom, die houtswaai, die groot tuin en  eendedammetjie… Lekker speel in die groot ou kokerboom in die agterplaas en al die Saterdagmiddag flieks se serials oorgespeel het! Tannies wat kom baby-sit en Bybelstories met slaaptyd lees – en bewaar jou siel as jy nie die antwoorde ken van die vrae na daai Bybelstorie nie... Buurkinders  - beide kante dierbare Joodse gesinne.

Laerskooldae. Kuiers by die oupas en oumas op hul buurplase. Baie spesiale kuiers by familie in Kaapstad waar ons sorgeloos kon rondloop in die stad en op en af met die roltrap in OK Bazaars gery het en elke hoed opgepas  het – met die nodige gegiggel. Toe nie geweet dat kinders ontvoer kan word nie! Ook nie dat mense mekaar kwaad wil aandoen nie.

Hoërskooldae, tienersake. Kosbare vriendskappe.

Studentwees. ‘n Nuwe lewe. Die mooi van dinge om my. Stellenbosch!

Juffrou-wees by ‘n verbeteringskool vir meisies (van hulle so oud soos ekself!). Die kennis maak met “die wrede wêreld daar buite. (Soos manlief tersluiks opgemerk het: Jy het nie verbeter nie, so hou maar op!)


En toe is ek ‘n grootmens! Maar was ek toe al ‘n volwassene? Dis die verskil tussen
being grown-up and being an adult. Laat mens nogal dink wanneer daai volgende een gebeur het!



Monday 16 May 2016

Klem in die kaak?

Sy staan voor my in die ry.

Die verkoopsdame skud die items professioneel uit om dit op te lui en op te vou.
Huh-uh, daai wat ek hier vlakby my gadeslaan, gaan nie daarin pas wat daar in daai sakkie gesit word nie …

Dis daai stywe goed. Sommige stiliste meen dis wat elke vrou in haar kas behoort te hê. En aan haar bas behoort te hê.

Ek kry engtevrees. ‘n Benouenis pak my beet. Ek dag die gloede is weer terug. Sal ek die vrou waarsku? Of dalk koop sy dit vir haar tienerdogter…

Ek dink aan daai dag toe ek vir my enetjie gekoop het om die koue bolangs weg te hou. Toe ek dit aantrek, het dit ekstra stamina vereis. Toe ek dit wil uittrek, was ek byna in ‘n spasma. Toe ek dit vir my dogter wil skenk, lag sy lekker oor ons dieselfde gevoeltes oor die besigheid het.

En die vrou voor my koop twee! En dis vir die kant wat mens soms skielik moet aftrek.
Sal sy goeie beheer hê? Uitstekende wilskrag? Weet sy van mind over matter soos wat ek en vriendin in Afrika moes toepas as die busbestuurder nog ver van ‘n stilhouplek in sy visier het? Tot die uiterste toe? En dan moet mens nie eens begin dink aan daai onbedaarlike giggel nie. Nee wat, dan is dit tickets! Weet die vrou mens kan nie die onderlangses terugneem as jy eers by die winkeldeur uit is nie? En dat daai materiaaltjie nie geskik sal wees vir vloerlappe nie…

O, wat ‘n wonderlike verligting gaan dit wees as sy daai besigheid uittrek. Die heerlikste vryheid! Dit laat my wonder oor daai een wat altyd ‘n skoennommer kleiner gekoop het as wat moes – want dit was so heerlik om daai skoene saans uit te trek…


Sunday 15 May 2016

Wingerdstok

Vandag het ons die voorreg gehad om rustig in die lieflike Constantiavallei tyd saam deur te bring. Sommer net saamweestyd. Om lekker te gesels oor die dinge wat vir ons saak maak, die dinge waaroor ons verskil, die dinge waaroor ons saamstem, die dinge waaroor ons wonder.

Dis ‘n lieflike herfsdag.

‘n Dag waarop mens so kan besig raak met die mooi om ons, dat ons die Waarheid wat hierdie Pinkstersondag weer vir ons oopsluit, so maklik kan laat verbygaan.

By Open Door Restaurant het hulle die mooiste wynstokke teen die muur monteer.

Laat my net weer seker maak dat ek in die Ware Wynstok “geloot” is. 




“Ek is die wingerdstok, julle die lote.
Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte,
want sonder My kan julle niks doen nie.” 
Johannes 15:5

Saturday 14 May 2016

Saterdagsake

Saterdae is spesiale dae.

Vir baie is dit werksdag.

Vir party is dit die dag wat liefie verklaar: “Kan mens nie daai muur ‘n ander kleur verf nie?”

So staan ek vanoggend in die verfwinkel. En nee, dis nie vir my huis se mure nie.
Ek geniet dit om die paartjies wat instap te beskou. Manlik met vaste tred, want vandag moet hy vasstaan. Sy met sprankeldrome in die oë van hoe daai muur gaan lyk na die opknapping gedoen is.

Die meubels word weggeskuif. One thing leads to another.   Terwyl die gordyne in die pad is, haal ons dit sommer af en was dit. En kyk, die vloerlyste moet ook bygekom word. Sommer die hele vertrek s’n. En nou lyk die muur langsaan nie so goed nie. Die kleure van die mure verskil dan nou…. En die kussings lyk uitgebleik teen die muur met die nuwe verflaag.

Daar skop die rugbyspan af! Die vuur brand nog nie vir die potjiekos nie! Daar is nog verfwerk wat gedoen moet word! Die skoonmense kom môre kuier. Gemoedere loop hoog.

Dis nou sulke tye wat my man rustig glimlag. Sy Saterdae is weer sy eie! Dis nou die voordeel as mens huur. 









Friday 13 May 2016

Poi se dinge

Synde Vrydag die 13de, het baie mense vandag seker in die bed gebly. Die stadsverkeer lyk glad nie so erg nie…

Hier onder in die straat staan Poi. Vandat ons hier ingetrek het, is Poi op sy pos.
Ons hoor die gereelde roep en wonder wat op aarde dit is wat die man sê. Tot ons eendag tot naby stap en hoor: “Sea Point! Green Point!” Die “poi” is die enigste wat ons hoor!

Dis die man wat naby die taxi staan of by die venster uithang om die roete te adverteer en klante aan te moedig om in te klim. Skoonseun sê mens noem hom ‘n “guy’tjie” - of is dit ‘n “guide-tjie”? Ieder geval – of hy die outjie is wat die mense moet naderhark en of dit ‘n gids is wat vertel waarheen, uitspraak bly dieselfde met die lekker “tjie” aan die einde. Dis tog immers ‘n Kaapse ding. Of is dit?
Om die taxi’s hier van die woonstel se balkon af dop te hou, is nogal ‘n belewenis. Dis nou as jy regtig niks anders te doen het nie! En met ‘n koppie koffie in die hand kan mens die spulletjie rustig beskou.

Die taxi staan waar hy wil. Op ‘n streep waar sy klante hom mooi kan sien. Netjies.
Daar is tog immers twee ander bane waarin die verkeer kan beweeg…

Moenie dat die opposisie se taxi daar intrek nie! Dan is dit moeilikheid!
Natuurlik jaag die verkeersman hom gereeld weg.

Waar hop ek weer soos ek skrik toe daai taxi sy toeter hier langs my blaas! As dit nie Poi is wat in my oor skree nie, is dit die taxi-bestuurder wat adverteer – of daar nou mense naby is of nie, daai toeter word getoet! Dalk is dit ‘n uitlaatklep vir opgeboude en ingehoue spanning?



Dit laat my sommer dadelik my stapskoene aantrek. Tyd om ontslae te gaan raak van die week se dinge! Sal net mooi skuins verbyhou by Poi en die se maters.


















Thursday 12 May 2016

Ode aan skoonmakers

Vanoggend het ek traag opgestaan. Ek moet die kasteel skoonmaak. Ek is nie die beste huiswerker op die koning se werf nie…

As ek so afstof en ek kom by ‘n hopie tydskrifte wat uitgesorteer moet word… Wel, dan begin ek net eers gou daai artikel lees voor ek besluit na wie toe die tydskrif aangegee moet word. En dan sien ek daai ou reseppie wat ek net weer na wou kyk vir inspirasie, ens.

Later sien ek die stofsuier in die middel van die vloer staan en wonder of hier ‘n inbreker in die huis was…

Uiteindelik het ek flink aan die gang gekom. Dit was nou wel na ‘n stadige begin, maar die ou enjin moet mos eers bietjie opwarm.

En siedaar! ‘n Heerlike skoon kasteel! Die koning sal met sy tuiskoms absoluut in sy skik wees. Dis nou as hy dit agterkom….

Ek wil sommer ‘n lied sing vir die skoonmakers. Die mense wat elke dag skoonmaak. My vriendinne wat al die jare hul huise self skoonmaak. En dit so uitstekend doen. En dit boonop met ‘n lied in die hart doen! Liewe mense wat my gehelp het om in ‘n skoon plek te woon! Die skoonmakers by Seepunt se swembad -is elke keer verras met hoe goed die plek in stand gehou word en gebruik word! (En nee, ek gaan nie daarheen om te swem nie, maar die staproete gaan daar verby en senior burgers mag gratis ingaan.) Die ou wat elke papiertjie by Cape Sun se ingang optel. Die mense wat getrou elke nag die stad skoonmaak. Die vriendelike man wat ons woonstelgebou se gange skoonmaak en vullisdromme uitgooi.

En natuurlik ook vir manlief wat al vir Little Miss Sunshine op ‘n skoonmaakrit geneem het! So leer ek hom om selfstandig te wees. En jammer tog dat ek nooit selfstandig geraak het met die grassnyer se werkinge nie…

O ja, ek het probeer in my jonggetroude dae. Toe maak manlief die foutjie om my te vertel: As jy nou hier klaar gesny het, dan sny jy daai stuk gras. En as jy daar klaar is, die ander stukkie aan die agterkant van die huis. Toe hou ek (vir goed) op voor ek klaar is. Ek weet immers waar al die grasperke op die erf is. Lekker harregat gewees! Maar ek sou dit sekerlik nie so goed soos hy kon doen nie!













Vir troosprys (omdat die kasteel blinkgepoets is) het ek opgestap in St George’s Mall. Op ‘n Donderdag is daar heerlike marktafels met interessante kos en verleidelikhede.

Kom kuier, dan wys ek jou! Ons maak weer anderdag skoon!

Wednesday 11 May 2016

Daai gedagtes …

THINK LEFT AND THINK RIGHT AND THINK LOW AND THINK HIGH.

OH, THE THINKS YOU CAN THINK UP IF ONLY YOU TRY!  

- Dr Seuss

Ek hoef nie eens te “try” om te dink nie.

My gedagtes neem my gereeld op sleeptou.

So lê ek soms snags wakker … en as ek eers begin dink, dan kan ek maar weet: hier kom ‘n nag met baie goetertjies wat bedink word.

En o, hoe lekker “skryf” ek nie snags nie! Nee, nie met pen en papier nie - in my gedagtes.

My liewe skoonpa het dikwels soggens met ‘n laggie vertel aan wie hy die vorige nag weer ‘n brief geskryf het. Dikwels aan SARS. Hy sou my nagtelike skrywersvernuf waardeer. En simpatie daarmee hê.

Met my kinders se kliniekdae was ek dikwels moedeloos oor die beslommernis wat dit meegebring het. Ouboet moes saampiekel wanneer sus haar inspuiting en wat ookal moes kry. Met aankoms het ons almal in ‘n ry reg in the rondte teen die stadsaal se muur gesit. Dankie tog, ons was so bevoorreg dat dit onderdak en binnenshuis was! En ek kon met ‘n motor tot daar kom en nie te voet / bus / trein / taxi nie. (Was daar in daai dae so baie taxi’s?) Soos die prosessie gevorder het, moes iedereen - met volle pakkasie - elke keer een stoel aanskuif. Musical chairs op sy beste. Na een van dié sessies kla ek by my pa (wat te doen gehad het met klinieke). "Ek skryf sommer ‘n brief!" Waarop my pa voorstel dat ek dit wel doen, maar op die regte manier. En met my naam en van onderaan. Geen anonieme briefskrywery nie! Wyse raad wat ek gevolg het. Met uitstekende gevolge. Met nommer drie was daar al sowaar 'n kliniek!

So skryf ek nog baie briewe. Maar hulle bly in my gedagtes. Soms. Soms skryf ek hulle in ‘n blog!



I write because I don’t know what I think until I read what I say. 
Flannery O’Connor

Monday 9 May 2016

Prioriteite

Vandag is dit ‘n grys dag in die Kaapse middestad.

Nou en dan lig die wolkekombersie op oor die berg, maar dan blaas die windjie weer ‘n nuwe grys lagie nader.

Ek trek my tafel tot teenaan die venster om maksimum lig te kry. Vandag wil mens nie in duister gehul wees nie. ‘n Maandag is op sigself ver genoeg van die volgende naweek af!

Met mooi musiek wat om my spoel, kry ek sommer moed vir die taak wat wag: dis tyd om die vorige maand se uitgawes vierkantig in die oë te kyk. Dis nodig om te kyk hoe ons verandering van leefstyl ons ekonomiese situasie raak. Maar Aprilmaand het verskonings van sy eie – drie verjaardae en ‘n gesinsfees…

Ek spaar graag weer fluks vir ‘n volgende kuier saam met ons kinders! So kosbaar!

Dit laat my dink aan die tannie wat so graag ‘n “nuwe badkamer” wou hê. Elke keer as hulle genoeg gespaar het, het die gesin besluit dis tyd om met vakansie te gaan. Einde van die storie was dat die kinders – na die tannie se afsterwe – eens was dat hulle elke vakansie geniet het en kan onthou. Die “ou badkamer” was goed genoeg.


A comfortable house is a great source of happiness.
It ranks immediately after health and a good conscience .
– Sydney Smith

Hier steek ‘n ligblou stukkie hemel uit. Dalk tog ‘n goeie plan om lekker warm aan te trek en ‘n entjie te gaan stap…

Saturday 7 May 2016

Smaak verskil.

So wonderlik dat ons nie almal eenders dink, wil hê of is nie.

Dis nogal van die lekkertes van ouer wees – mens kan maar net jouself wees. Eintlik behoort dit so te wees van kleintyd af, maar “ons” het beslis grootgeword in ‘n tydperk waar daar skeef opgekyk is as jy effens “anders” was. Vra my – ek was na aan ‘n Twiggy-blommekind… Darem nie die rookding gedoen nie. Eintlik was ek so onskuldig, maar dalk het ek ook maar my ouers slapelose nagte gegee.

So kan ek ‘n heerlike koffie drink terwyl manlief ‘n bier kies.

Hy verkies Americano, ek Cappucino.

Soms drink ons dieselfde, soms kies ons verskillend.

Maar as dit by flieksmaak kom, is ons nogal in lyn met mekaar se voorkeure.
Fliek is vir ons nie sommer net movies nie. Manlief se pa was eienaar van die Regal Theatre op onse geboortedorpie. Die stories wat hy vertel van daai dae, sal ek altyd weer en weer na kan luister! Kosbare herinneringe! En altyd iets wat ‘n giggel of ‘n glimlag nalaat. Om ‘n goeie fliek te gaan kyk, is vir ons ‘n spesiale uitstappie.


Pas Queen of the Desert gaan kyk. Lieflik! Nie in almal se smaak nie, want dis ‘n stadige storie met baie inligting oor ‘n kultuur waarvan ons nie veel weet nie. Die fotografie is fantasties, Nicole Kidman iets vir die manne se oge en die storie deurweef met realiteite. Dis immers gebaseer op ‘n ware verhaal van ‘n baie dapper en indrukwekkende vrou.

Friday 6 May 2016

As die wind jou waai soos hy nou daar waai…

Dis ‘n stormwind wat van vroegoggend af in die Kaapse middestad waai.

As mens in ‘n woonstelblok woon, word jy in die nag wakker met ‘n waarskuwing: dis sulke tyd! Elke venster en deur wat nie behoorlik toegegrendel was nie, vertel jou die storie van die wind. Nogal met ‘n harde slag. En nie net een nie!

Ek wonder of sommige inwoners hier om ons met oorpluisies slaap. Of dalk luister hulle heelnag musiek? O ja, sommige het seker bietjie laat (of vroeg…?) in die bed gekom.

Skynbaar klap deure en vensters digby party snorkendes sonder dat dit hulle pla.
En dan is daar dierbares wat die gange op- en afstap om die vensters toe te maak en die deure dig te maak met wat ookal naby is. Maar so raak ons slim en begin al daai rondtes vroegaand doen as dit windmakerig hier om ons raak…

Dis nogal iets om te sien hoe swart plastieksakke hier op die tiende verdieping verbywaai. Hoog die lug in. Ek het altyd gedink die meeste goeters val afwaarts, maar die sakke van allerlei groottes skep lug en gaan soos heliumbalonne met ‘n spoed hier verby – ver bokant die hoogste geboue die lug in.

Ons gebou is op vaste fondamente gebou. Geen wankelrigheid hier nie.

Maar die krag van die wind moet nooit onderskat word nie.


Onlangs het ‘n reuse-ruit uit ‘n gebou hier naby gewaai. Gelukkig in die nag en niemand beseer nie. En dan is daar die dapper werkers wat herstelwerk moet doen. 


Hierdie man werk aan ruite aan die buitekant van omtrent die twintigste verdieping ...
Gelukkig op 'n windstil dag!

Thursday 5 May 2016

Stilte in die stad.

So met die verskuiwing na die middestad, steur ons ons aan Hebreёrbrief wat maan: “Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie…” (Heb. 10:25) 

Ons gaan loer in by verskillende kerke in die omgewing en voel ons tuis by veral die een wat spreek van eenvoud. Dis stapafstand van ons kasteel en ons voel tuis tussen die vriendelike mense van oraloor wat mens met die hand kom groet en selfs ons name onthou van ‘n vorige keer.

Kort na ons aankoms in Kaapstad, lees ek een van Pamela Jooste se boeke. Heerlik om te lees van straatname en plekke hier om ons. Die boek raak my hart aan.
‘n Week of so daarna sit ons die oggend in die kerk. Ek kyk ingedagte op na die loodglasvenster naaste aan my. Ja, sowaar, dis die een waaroor Pamela Jooste in haar boek skryf!  Soos my wyse vriendin sou opmerk: Toe val God se lig daarop. G’n niks toevallig nie!

Vanaand sit en kyk ek weer na die venster.


Dis Hemelvaart.