Tuesday 27 March 2018

Voorregte van Vye en Vreugde

Om te kuier is ‘n groot voorreg. Om op ‘n vyeplaas te kuier is n verruklike voorreg!


Die afgelope naweek het ‘n hele bondel van ons op die lieflike Weltevrede vyeplaas buite Prins Albert gekuier, gesels, gelag, geniet! Tog te heerlik as ‘n dogter besluit om haar familie en vriende nader te hark om saam te kuier. Dit was net pure vreugde!

Van ‘n twee maande oue baba, ‘n jongman op krukke, ‘n swetterjoel kleingoed, tot ons “oueres van dae”. Die kinders het genoeg speelplek gehad. En slaapplek was ruim met ‘n reuse badkamer vir elke kamer. Elke huis het ‘n groot, ronde swembadpoel van koelte – diep genoeg vir die grotes om in af te koel en vlak genoeg vir die kinders om in te baljaar.

Selfs die drie ysterkatels op die groot huis se stoep was oorgetrek met spierwit beddegoed. En van die dogtertjies het alleen op die stoep geslaap – veilig en knus na ‘n dag se rondhardloop in die buitelug.

Die lekkerte van so ‘n ongekompliseerde kuier, is dat almal ontspanne is. Daar is geen “nou-moet-dit” gebeur nie. En geen elektrisiteit het beteken dat ons weer die mooi van ‘n parafienlamp geniet het! En ook agtergekom het dat om in die donker op ongelyk grond te loop, ‘n uitdaging op sigself is.

Met geen selfoonontvangs, was dit ‘n gekuier en gesels met die een op daardie stadium langs of voor jou – geen gedoente met ‘n sms of ‘n boodskap of ‘n foto of ‘n gelollery van enige werksaard nie!

So ‘n naweek kan ek vir ieder en elk aanbeveel. Eintlik behoort dit ‘n noodsaaklikheid te wees. Elke nou en dan. Ai, maar dit was lekker! 

Friday 23 March 2018


ducks-in-a-row-3.gif (446×209)
Spartel jy (ook) soms?


Met my koppie suurlemoen-en-rooibostee sit ek vroegoggend op die stoep en hou die gediertetjies dop. Die drie pragtige wit eendjies hier onder op ons werf geniet dit om in die water te baljaar. Met die dam wat dolleeg is, het van die inwoners plastiek baddens vir die geveerde vriende uitgesit. Nou plas die eende dat die water sulke boë deur die lug trek!

Die eende moet beurte maak om te bad. Dit is ‘n gespartel. Die bak is effe kleiner as waaraan hulle gewoond is.

Ek sit en wonder oor die gespartel. Soms spartel ek ook. Soms is die bak te klein. Maak nie saak of daar goedhartiges om my geskaar is wat “bakke met water” aandra as dit droogte is nie, as daai bak te klein voel, pla dit.

Hoekom maak ons soms die lewe vir mense om ons moeilik? Dis dan tog vir ons so heerlik as alles net lekker is?

Maar is “altyd net lekker” noodwendig goed? Hmmmm, tyd dat ek uit daai bak klim, my droogskud en aanwaggel. Iemand anders se beurt om by die waterbak uit te kom.

Monday 19 March 2018


Die lang tou

Nee, dis nie die ding waarmee ons vriend sy woonwa se deur vasgebind het sodat dit nie oopklap terwyl hulle ry nie (ja, daai was ‘n lang tou, want dit moes buietekant om die woonwa gaan…).

Die tou waarvan ek vandag baie bewus is, is die ry waarin jy staan, sit, beweeg, weer sit wanneer jy by SARS ‘n draai moet gaan maak. En dis ‘n stywe draai. Sonder afdraaipaadjies, want dan is jy jou plek in die ry kwyt.

Vanoggend is ons hier weg met al die nodige dokumente. Om dit in die hande te kry, was op sigself ‘n saak wat my ou bloeddrukkie se sake gewerk het…

Manlief is so dierbaar om my op die tog te vergesel. Dit help baie. Ons kan immers met mekaar gesels, want die vrou aan my anderkant “Hum” en “Ha” net as sy absoluut op ‘n vraag van my kant af moet antwoord – en nee, ek het nie veel gevra nie en toe maar later haar in haar stilte oorgelaat.

Uiteindelik is ons toe geholpe. Dit was twee uur se sit waarvoor ek nie omgegee het nie. Eintlik het ons ons ingestel vir langer sit. Dankbaar dat dit vriendelike mense was wat baie behulpsaam was en in onse mooie taal die saak afgehandel het, is ons met ‘n huppel in ons stap daar weg.

Ek kon my steunpilaar met ‘n heerlike cappuccino bederf om dankie te sê. Met 'n sny wortelkoek daarby. Hy het dit dubbel en dwars verdien!

Friday 16 March 2018


Geniet! Geniet! Geniet!

Voel soos gister dat ek vir die buurmannetjie gesê het: “Dis Vrydag! Geniet jou naweek!”
En hier is dit voorwaar alweer Vrydag! En naweek! En dit was ‘n week gelede wat ek hom die vreugde toegewens het.

Dis nou nie asof ‘n naweek so ‘n groot opgewondenheid in onse lewens meebring nie. Ons is immers elke dag “met naweek”. Die lekkerte van die afgetrede lewe is net so ‘n voorreg! Alles is net rustiger en elke oomblik is spesiaal. Nie nodig om te wag dat dit naweek – of vakansie – moet raak nie.

Dis mos hoekom die lewe al vinniger verbygaan hoe ouer ons word. My verduideliking hiervoor is dat ons, soos ons ouer word, die geleentheid het om meer dinge te doen wat vir ons lekker is. Bevoorreg. En ons het meer nonsies uitgeskakel. Hang-ups van ontslae geraak. Gemorsies weggewerk. Moontlik geleer om beter keuses te maak?

Nou ja, dis naweek. En die vliegtuig het pas hier oor ons gevlieg….

Wednesday 14 March 2018


Soos sake staan

Skielik kan ek nie byhou nie. Dis net te veel.

Van pure lekkerte en groot bederf het ek nou heeltemal agter geraak met wie ek graag op my stoep en om my tafel wil bederf. En nie net wil nie. Soms raak dit ‘n moet.

Manlief verstaan nie so lekker hoe dit werk nie. Ek kan ook nie verduidelik nie.

Maar op een of ander manier en tyd het sake handuit geruk. Ek (en my begroting) kan net nie die besigheid gebalanseer kry nie.

Vanoggend sit en kuier ek oor heerlike koffie en kaaskoek saam met ‘n vriendin in ‘n mooie koffiewinkel. Dis ‘n verjaardaggeskenk aan haar – want wat gee mens nou elk geval present aan iemand in ons jare wat alles het wat nodig is (hoe bevoorreg en bederf is ons tog!).  So met die gesels praat ons oor ‘n datum en ek besef met ‘n skok daar is dinge wat ek nagelaat het. Dinge wat ek myself voorgeneem het om te doen. Helaas totaal en al dit laat verbygaan. Deels omdat ek oud is en vergeet (dis waarvoor mens nota’tjies oraloor kan vasplak ter herinnering) en ter versagting dat ek deesdae dikwels nie weet wat die datum is nie (deel van die afgetrede leefwyse).

Maar dis ook waar ware vriendskappe inkom. Hulle ken my mos. Hulle weet dis nie omdat ek nie lief is vir hulle nie. Dis net dat ek soms sommer net wil hê hulle moet hier instap en sê: hier is ons vir ‘n kuier! En om te kyk wat die koskas oplewer vir ‘n lekker kuier!

Friday 9 March 2018

.Die verlede
My oog vang vanoggend Die Burger se berig oor wat 50 jaar gelede nuuswaardig geag is: “Min mense weet waar die eerste burgemeester van Kaapstad begrawe lê.”

Vir ‘n oomblik wonder ek daaroor, maar onthou dan dat dit Pieter van Breda was. Sy graf is in die stadstuin in Oranjezicht. Daar waar hulle deesdae die lieflike groente verbou en verkoop.  Dit was vir my en manlief ‘n spesiale oomblik toe ons vir ‘n wyle daar by die grafsteen stilgestaan het en weer besef het hoe onse dorpie van herkoms daar aan die suidste punt ontstaan het.

Ek onthou nog goed hoe ons op laerskool geleer het van Michiel van Breda (Pieter, synde die eerste burgemeester van Kaapstad, se seun) wat met sy skapies sy staanplekkie kom afbaken het teenaan die lieflike Soetendalsvlei.
So saam met die terugkyk in die verlede, ontdek ek toe ook die volgende:
ORANJEZICHT – “ORANGE VIEW” – WAS PROBABLY SO CALLED EITHER BECAUSE IT OVERLOOKED THE ORANJE BASTION OF THE CASTLE, OR DUE TO THE SIGHT OF ABUNDANT ORANGE TREES GROWING IN TABLE VALLEY.
Ek dink ek verkies die eerste verduideliking. Ek kan my nie Kaapstad indink met baie lemoenbome in die vallei nie….
Hoe ouer mens raak, hoe meer wonder mens oor die verlede. Of hoe? Skielik is vyftig jaar gelede vir my glad nie lank gelede nie! Maar ai, het daar baie gebeur in die afgelope vyftig jaar!
vanbredatablebay
View from Oranjezigt towards Table Bay, 18th century.

Thursday 8 March 2018


Hoe ervaar jy dit?

Ons ervaar dat daar weer nuwe hoop in ons ou landjie en haar mense is. Die atmosfeer is sommer ligter. En minder fronse. So saam met ‘n nuwe president het menige mens weer moed.

Of hoe?

Vanoggend – so met die uitstap uit ‘n winkel - sug manlief weer: “Ons lewer darem swak diens in SA!” En moenie dink hy is negatief van aard nie. Gewoonlik is hy so positief dat dit sommige kenisse irriteer! Omdat hy voorheen te doen gehad het met ‘n help desk, hou hy maklik aan en gesels vriendelik met die persoon wat uiteindelik antwoord wanneer daar navraag gedoen moet word. Geduldig. Want hy weet ook hoe swaar daai arme mense aan die ander kant kry en hoe hulle beledig word. Onnodig.

Ek vat aan die kassier by die kettingwinkel se arm toe ek vir haar totsiens groet. Op daai stadium is sy al so diep in gesprek met die een langs haar, dat sy vergeet het sy het my betaling geneem. Ek herinner haar met ‘n gawe glimlag: “Thanks and goodbye! I am jealous and prefer to have all your attention!”  Dit het, soos gewoonlik, die gewensde uitwerking en sy vind dit amusant. Hoop sy onthou dit wanneer sy die volgende kliënt bedien.

Om my stert in ‘n krul te sit, gaan geensins help nie. Die antwoord van hoe ons die saak moet benader, ken ek ook nie. Ek weet net dit doen my gesondheid geensins goed as ek kwaad word nie. Vra maar – ek het dit onlangs weer heeltemal verloor in ‘n situasie in ‘n winkel. Om my bloeddruk nie verder op te jaag nie, het ek manlief by die winkelassistent gelos en omgedraai en uit die winkel uitgestap.

Heel waarskynlik vaar jy beter met dié tipe sake.  Intussen werk ek daaraan…..


Wednesday 7 March 2018


Spice of Life

Ons het elkeen een of ander tyd bietjie ekstra zing in ons lewe nodig.

Eergister stap ons saam met ‘n kosbare kuiergas vanaf Duitsland by Spice Route en Fairview rond. Dis so maklik om trots te wees op dit wat aan toeriste en besoekers opgedis word by dié spesiale plekke. En in die proses voel ek dan ook sommer soos ‘n toeris.

Met die wegry vra ek vir manlief om ook te stop by Brenda’s wat so half eenkant sit. Dis die mooiste winkel met die lekkerste goed! Speserye wat jou by die deur kom begroet! 

Ingelegde vrugte, allerhande vreugdes wat in botteltjies gebêre kan word. Sommer net mooi. En op ‘n baie spesiale manier uitgestal. Verleidelik.

En so is vriendin se kuier ook vir my: dit gee vir my diepte en verskaf geur aan my lewe. Opnuut verwonder ek my oor mense van oraloor wat oor my pad gestuur word. Mense wat my lewe verryk; wat my bietjie anders – en dieper – na die lewe laat kyk.

Mmmm, dis nodig dat ons mekaar aanmoedig tot beter en nie afkraak nie. Soos goeie speserye. Dit moet die dis oplig – ‘n nuwe dimensie gee. Lekkerder maak.  

Thursday 1 March 2018


Onbenulligheidjies

So met die uitpak is ek (weereens) verstom en verslae oor die goetertjies wat ek so met die jare bymekaarmaak en saampiekel.

Ai tog, mens leer ook nie maklik nie! Dis goetertjies wat nie gebruik word nie, wat nie nodig is nie, wat nie eens mooi is nie. Maar dis gekoop en iewers in ‘n laai of kas gestoor. 

En sowaar weer ingepak!

Maar ek leer so met die tyd! Stadig maar seker!!!

Daar is altyd mense wat sulke goetertjies koop en weer verkoop. Verstommend, maar voorwaar waar! Ek gee sommer die spul weg sodat dit op ‘n marktafel uitgestal kan word. Dalk is daar iemand wat dit nodig het. Want weggooi kan ek ook nie sommer net weggooi nie!

Thursday 22 February 2018


Wik en weeg

Sal ek of moet ek liewer nie?

So wonder ek of ek nou maar liewer dié aksie’tjie van skryf en oplaai moet laat staan of nie. En ek dink hardop daaroor.

Manlief sê onmiddelik – sonder om eers daaroor te dink (en hy is ‘n man wat gewoonlik eers dink oor ‘n saak en nie sommer so impulsief iets kwytraak nie) – dat ek moet voortgaan met die takie. Hy kan sien dit doen my goed. En hy hou daarvan om te lees wat in my kop aangaan…. Mmmmm, dit op sigself kan gevaarlik wees…

So na aftrede is mens nie altyd seker van watter dag dit is nie. Nie datum nie, dikwels ook nie dag van die week nie. Tog te lekker!

En so gaan die dae soms te vinnig verby en kom ek glad nie by die rekenaar uit nie. Ook lekker.

Maar ai, as die gier my beetkry, is dit darem alte heerlik as my vingers so oor die sleutels gly. Raai, ek dink my vingers het eerste die storie beet en dan flits dit so effe deur my grysstof. Net so lekker!

Nee wat, solank dit nog lekker is, sal ek maar so nou en dan ‘n draai maak op die kuber. Lekkerste is mos dat ek nie ‘n idee het wie dit lees nie! En ja, ek kan my voorstel dat daar mense is met rooi penne in die hand wat wil korrigeer en kruisies maak. Dalk ‘n opmerking of ‘n aanmerking of ‘n 0 bo-aan wil maak! Maar soms, net soms, kry ek dalk ‘n sterretjie. En nee, ek is glad nie ingestel op gouetjies nie. Dit sal darem net te veel harde werk kos. En dis mos absolute ontspanning hierdie vir my!

Tyd om te gaan kyk of ek kan help om ‘n kas vas te hou wat teen die muur vasgesit moet word. Dís nou werk wat inspanning vereis! Nie die vashou nie!!!

Monday 19 February 2018


Kies jou bakkie

Jy kan self kies.

Rond, vierkantig, reghoekig. Watter vorm pas jou die beste? Waarmee voel jy gemaklik?

Ek sukkel met die ronde vorm. Dit voel vir my of ek gaan omval. Soort van vasgevang soos wanneer mens se voete vasgedraai word in ‘n lang net en mens nie jou voete kan beweeg nie.

Nou het ons maar vir ons ‘n langwerpige plastiekbak aangeskaf. In die winkel noem hulle dit ‘n “visbak”. Maar dit laat my geensins soos ‘n viswyf voel nie. Ook vir seker nie soos ‘n meermin nie! Dis maar net die gemaklikste bak waarin ek kan staan wanneer ek stort. En vir ons voel dit of die meeste water in dié bak opgevang word. Vir die gryswater. Vir hergebruik.

Ai, die planne wat ons maak! En ons weer ‘n keer laat dink aan hoe om verantwoordelik om te gaan met ons kosbare waterbronne. (Wat my laat wonder of die mense in die res van die land weet waarvan ons praat?!)

Kies vir jou ‘n vorm wat jou die beste pas. Dit maak nogal die hele ervaring meer aangenaam.

Friday 16 February 2018

Dis vir my mooi

Baie jare gelede kom ek eendag van die winkel af. In vervoering. Ek vertel met passie vir manlief van die lieflike “skildery” wat ek in die winkel gesien het. En met “dis ‘n opsomming van my lewe”, kan hy nie anders as om toe te gee nie. As dit so mooi is vir jou, gaan koop dit.

Ek het dit in twee paaiemente afbetaal. Dis seker die enigste iets wat ek nog ooit “afbetaal” het.

So kom Gabila toe saam met my by die huis aan. Jongste beskou die saak en vra: “Hoekom is dit vir mamma so mooi?”

En my antwoord: “Daar is altyd vuil skottelgoed. En dis my lewe.”

Gabila Rissone is die kunstenaar. En nee, dis nie ‘n skildery nie, ook nie ‘n ets nie, maar sommer net ‘n afdruk. Gabila is die dogter van Rosina Wachtmeister. Die vrou wat daarvan hou om prente van katte te maak. So effe whimsical.

Die prent het altyd in my kombuis gehang. En nou is dit tyd om afskeid te neem van my prent. My pophuis is net eenvoudig te klein. Die prent te groot.

Al het niemand anders (dalk) daarvan gehou nie, het Gabila se prent vir my baie vreugde gegee. Dit het my altyd laat glimlag. En laat besef: “Daar is altyd vuil skottelgoed!”

Thursday 15 February 2018


Sowaar só waar!

Hoe glimlag ons vandag hier in onse mooie land! 

Vandag sou ek nogal graag in die stad wou wees. Sommer om ieder en elk se kwinkslae te hoor! En hoop op gesigte te sien.

En ja, soms is dit nodig om bult-uit te swoeg om uiteindelik bo-op die kruin te kan staan! Kyk maar na die Olimpiese Winterspele. Daai manne moet spiere gebruik om te kom waar hulle wil wees.

Ai, vandag is dit lekker om te kyk hoe mense met verskillende standpunte tog op beskaafde manier met mekaar te kan kommunikeer. Mag dit so bly!

Tuesday 13 February 2018


Druppel vir druppel

En ja, uiteindelik leer ons op die harde (droë) manier: Every drop counts!

Dis doodstilwarm vandag. So ‘n “dankie-tog-dat-ek-nie-slote-hoef-te-grawe-nie” dag. Met die nodige afkoelingsmeganismes in plek, kom ons eintlik redelik gemaklik deur die dag.

En skielik begin die donderwolke saampak hier teen laatmiddag. En nie lank daarna nie, laat die donderweer van hom hoor.

Klein kordaat buurman van langsaan dans opgewonde in sy swembroek buite op die verdroogde grassies rond. “Dit gaan reën! Dit gaan reёn!” Dis so mooi om ‘n sewejarige opgewonde te sien oor die reën! Hy kom roep hier om hulp, want die verlengde afvoerpyp wat manlief vir hom aangesit het, het afgeval. Hy hardloop om ‘n bakkie te gaan haal om onder te sit en gou-gou begin die water van die dakke af binne-in sy bakkie te versamel. Groot opgewondenheid! En nog blyer dat syne vinniger loop as ons s’n! Hy meen sommer vinnig dis ‘n kompetisie en die wenner behoort R50 te kry! (Klink na ‘n bemarker vir die toekoms!)

Ons dra gou die tuinpotte tot op die stoep se rand dat buurvrou van bo (met kleinletter gespel!) se druppels tot ons voordeel kan wees!

En net so gou soos dit begin het, is die reёntjie weer weg. Maar die geut loop nog lekker en die plantjies is dankbaar.

Hoopvol vir ‘n volgende keer! En bewus daarvan dat elke druppel ‘n verskil maak – alkant toe.

Tuesday 6 February 2018

Dis ‘n kwessie van kultuur

Die Chinese meisies wat van kleindag af met opgebinde (of is dit afgebinde?) voetjies moes loop, het my nog altyd gefassineer. Dit moet darem bitterlik seer en ongemaklik wees. Tot die seer en ongemak verby is. Daarna is dit “bewonderenswaardig”.

Of is dit?

Foot binding was the custom of applying tight binding to the feet of young girls to modify the shape of their feet. Foot binding became popular as a means of displaying status (women from wealthy families, who did not need their feet to work, could afford to have them bound) and was correspondingly adopted as a symbol of beauty in Chinese culture. Foot binding limited the mobility of women, resulting in them walking in a swaying unsteady gait, although some women with bound feet working outdoors have also been reported. Feet altered by binding were called lotus feet.

Genadiglik is dit ‘n praktyk wat na ‘n eeu uitgesterf het. Erg genoeg om skoene te moet dra wat druk – en te weet mens kan dit uittrek as die pyn te ondraaglik is!
So beskou ek onlangs die “Kokedama String Garden” by ‘n kwekery. Dit laat my toe dink aan daai opgebinde voetjies in die Ooste.

Kokedama is a Japanese gardening method where a plant’s roots are wrapped in moss, bound by string and suspended. The name comes from the Japanese koke, meaning “moss” and dama meaning “ball.” Although this art form is centuries old, it now takes on a more modern and minimalist form.


Ek wonder of die plantjies hou van so toegebind wees? Maar dis ‘n mooi effek wat verkry word. En dit “bring die buite na binne” en is ‘n maklike manier om ‘n klein vertrek bietjie “groen” te maak, want die besigheidjie hang mos uit die dak uit en neem dus nie kosbare spasie op nie. En dis ‘n heerlike selfdoen-projek vir dié wat alles kan.
Ook maar dankbaar die Kokedama kultuur het Weste se kant toe gekom en nie die Lotus Feet nie!

Monday 5 February 2018

Onthou se dinge

Daai bokse wil nie leeg raak nie! Dit is aansienlik minder, maar daar is nog ‘n hele paar uitdaginkies wat my in die gesig staar voordat ek heeldag agteroor op die stoep kan sit.

Probleem is dat die stapel wat in die motorhuis staan, in manlief se pad staan. Hy kan nie by sy masjiene uitkom om kassies te bou nie. En aan die ander kant kan ek nie die bokse uitpak nie, want waarin moet ek dit pak? Die kassies is nog nie gemaak nie!

Maar ons maak planne en help mekaar en drink koffie en maak heerlik laatoggend ontbyt op die nuwe stoof as die lus laag lê. En dan, met hernieude ywer en ‘n kafeїen skop, spring ons weer naarstigtelik aan die werk en vorder darem so da tons dit self kan sien!

Met die uitpakkery, kom ek weer af op goeters waarvan ek so effe vergeet het. En ai, die nostalgie! Te lekker om die lank verby se dae te onthou! En van sommige sal ons kinders glad nie weet nie! 

Onthou jy hoe ons saans die melkbottels buite uitgesit het sodat die melkman die koepons daarin kan uithaal en sien wat hy vir ons moet neersit: afgeroomde melk of volroommelk? Sowaar – kan jy glo – glasbottels wat buite staan. Heelnag. En niemand gooi dit stukkend of vat dit nie! En niemand haal daai koepons uit nie! En môreoggend glip ons gou uit by die deur om die heerlike vars bottel melk in te bring vir ontbyt. Dit klink selfs vir my nou effens of dit in ‘n droomwêreld was!

Was dit regtig soos ons geleef het?

Wednesday 31 January 2018

Goeie nuus!

Gister se koerantberig lui: Eskom gaan dit net-net maak.

Dit klink nou vir my na uitstekende nuus!!!

Laat my dink aan toe ons kinders was. Een van die slimmighede waarmee ons mekaar vermaak het om te kies, was: “Amper mis of amper raak?”

Wel, Eskom, julle is amper mis. Maar julle gaan blykbaar raak wees! Net-net maak!

Die een groot voordeel wat Eskom en die Kaapse waterkrisis in gemeen het, is dat alle inwoners van die streek dieselfde probleme in die oë moet kyk. Of jy nou met stiletto’s rondtrippel en of jy twee ompaar skoene aanhet – as Eskom die krag afskakel, het niemand lig nie. En as die kraan leeg is, is dit vir almal leeg.


Dis nogal interessant om te sien hoe ontsteld mense raak oor iets wat moontlik kan gebeur. Of nie.

Tuesday 30 January 2018

Dink weer ‘n keer

Annelie Botes sorg gewoonlik vir ‘n laggie aan my kant. Sy kan ‘n ding so raak sê. Vandag sluit sy (in Die Burger) haar rubriek af met die volgende: “If you think sunshine brings you happiness, then you haven’t danced in the rain.”

Ja, is dit nie waar nie! Skielik is ons nie lus om te dans asof niemand vir ons kyk nie! Ons wil nie dans in die droogte nie. Dit sal soos ‘n rieldans in die stof voel. En dis nie eie aan ons Kapenaars nie.

Met die huisverbeterings hier op eie werf, is stof ‘n nog groter realiteit in my lewe. Dit laat my ook sommer weer dink aan “stof is jy en tot stof sal jy terugkeer”. Onlangs sit ons so en noem iets oor daai oomblik wat vir elkeen van ons aanbreek. Iemand in die geselskap stel voor dat ons tog nie so swaarmoedig moet wees nie en die onderwerp asseblief moet verander. Is dit regtig wat ons moet doen? Moet ons nie soms juis oor daai onderwerp gesels nie? Vir die geestelike rede. Maar ook vir dié wat agterbly - en besluite in ‘n baie emosionele tyd moet neem - se onthalwe.

Intussen hou ons daai dansskoentjies reg om in die reën te dans! Of nee wag, ons gaan kaalvoet dans!

Monday 29 January 2018

Dis soos ek wil

“Afhanklik en propvol verwondering”.

Dis wat Stephan Joubert voorstel hoe ons moet leef. En ja, dit is wat ek ook kies.

Vergeet van vashou aan die wêreldse goedjies wat vandag hier is en môre in ‘n stoffie verander.

Kyk weer met nuwe oё en met ‘n nuwe ingesteldheid na alles hier om jou. Raak “verwonderd” oor die skynbaar alledaagse. Sien weer die maan en die sterretjies raak. Beskou weer ‘n blomblaartjie. Raak in verwondering oor die omgee van mense.


Raak verwonderd oor dié Een van wie jy só afhanklik is.

'n Daaglikse oefening.

Thursday 25 January 2018

Ek wonder…

Ons voertuig is asvaal. Vuil. Stowwerig. En die man wat die diesel ingetap het, het ‘n blerts teen die kant af gemors en dit nie dadelik afgevee nie. Smerig.

Ek kyk om my rond in die dorp.

Hmmmm, hier is menige sulkes. En dis nie omdat ons plaaspad ry of op ‘n 4x4 vakansie was nie! Dis droogte se dinge.

En ek wonder hoekom daar so ‘n paar blinkskoon motors ook in die rondte is. Was hulle dalk hul voertuie? Met ‘n tuinslang wat heerlik helderskoon water uitspuit? Of het hulle maar net elkeen ‘n motorhuis waarin voertuig netjies gebêre word?

Die bou- en brekery hier op ons werf help ook nie eintlik om dit stofvry en skoon te hou nie. En die gedienstige voertuig het die afgelope weke hard gewerk om alles en nog wat op te laai en aan te ry.

Ai, my ou getroue donkietjie, as ek darem vir jou kan skoon was met ‘n lekker straal water. (Wonder wie sal dit die meeste geniet?!)


Tuesday 23 January 2018

Meer verstaan

Wanneer my Karoo-vriendin deesdae vertel van “wag op reën”, verstaan ek heelwat beter. Daai wolkies wat so mooi opsteek…. En dan in die niet verdwyn…. Wat word van die water wat in daai wolk hang?

Ander vriendin wens iemand kan met ‘n vliegtuig daai reënwolk gaan aanhaak en nadersleep. Klink nogal na ‘n plan!

Gister sit ons die enkele paar houers wat ons hier het, buite neer. Met groot verwagting.  Groot teleurstelling toe ons vanoggend wakker word en sien daar is slegs bietjie wolke nog in die lug. Miskien? En toe glad nie! Nou is dit ‘n somersdag met geen hoop vir reën nie.

So lekker om te lees oor die donderstorms wat in die Baviaanskloof uitgebreek het. Daai waters sal darem bokspring oor daai klippertjies en klowe!

Op die harde manier leer ons om terug te keer na die basiese dinge. En as ek terugdink, weet ek hoe ek al water vermors het. Ten spyte van “Kinders moenie in die water mors nie, die oumense wil dit drink!”  Nooit kon dink dat ons werklik so 'n droogte sou beleef nie.
Onlangs is die kindertjies geleer om twee maal “Veels geluk, liewe maatjie” te sing terwyl hul hande was – dan is dit deeglik gedoen. Nou moet die arme goedjies leer om met ‘n sproeiseltjie water of selfs met waterlose middels hande te was. Sal interessant wees om te sien hoe dié jong geslag  in die toekoms met water werk.

En iewers is daar dalk net ‘n seuntjie wat lekkerkry omdat sy ma hom nie elke aand in die bad in boender om geskrop te word nie!

Friday 19 January 2018

Wat is werklik nodig?
Slim om vir ander te herinner aan William Morris (1834 – 1896) se wyse woorde: Have nothing in your houses that you do not know to be useful, or believe to be beautiful.  
As mens alleen die besluite moet neem, is dit sekerlik haalbaar. Maar wat gedoen as iets vir die een huisbewoner wonderskoon mooi en sentimenteel is en die ander het daar geen erg aan nie? Dan is dit tyd vir ‘n ooreenkoms. ‘n Kompromis. Kommunikasie.
So leer ons (weereens) dat ons eintlik so min nodig het. Min wat noodsaaklik is.
Met die gewoel en –werskaf op ons werfie, moet ons mooi beplan. Wie het laas die meetband gehad? En wat daarmee gedoen?  Waar word die koffiebekers neergesit? Want alles is onder swart plastiek.
Alles is deeglik toegemaak onder plastiek. Drop sheets. En ai, hoe wonderlik help daai plastiekvelle om van die stof uit te hou. Maar o wee, sodra daai masjien aangeskakel word om deur die muur te sny, syfer daai fyn stoffies maar net weer oral deur. En as die droë windjie hier deurwaai en iewers ‘n puntjie plastiek vang wat nie stewig vasgeplak is nie, lyk dit soos ‘n wafferse rippeleffek brander!
Ons voel soos kampeerders! Sit op ons kampstoele oor die vlaktes met ‘n drinkdingetjie in die hand. Vuurtjie wat knetter vir aandkos. ‘n Bord, ‘n beker, ‘n lepel, ‘n bakkie vir die pap, ‘n mes en ‘n vurk. En natuurlik ‘n glas. Wat meer het mens nodig?

…. sê sy wat saam met manlief haar kombuiskassies beplan!

Wednesday 17 January 2018

Stofstorms

As jy weet van stof, sal jy verstaan. As jy hou van Kgalagadi, sal jy kan.

Ek hou nie van stof nie.

Vandag is hier ‘n stofstorm. Ons hele huisie vol. Van hoek tot kant en weer terug tot in elke gleufie en ooptetjie.

Die bouers “grind” en “chase” en kap en slaan die hele besigheid tot dit pas in die nuwe vorm waaroor ons droom. En soms kom die droom en die werklikheid nie by mekaar uit nie, dan pas ons aan en maak ander plan. Maar dit woel en werskaf en werk teen ‘n spoed wat ons verras. (Dis nie 'n foto met swak beligting nie - dis stof!)

Ons span werkers is nie bang vir werk nie. En met die huisbaas wat saamwerk, is daar net middagete tyd vir ontspan.

Alles is netjies toegevou in plastiek, maar hierdie stoffie is fyner as die mooiste droomstrand se sandjies. Doppio Zero se fynste meel kan dalk kompeteer met onse stoffies op die werf…. (En die foto links is geneem voor die gekap vanoggend begin het! Toe lyk alles nog helderskoon!)

Genadiglik het die bure onlangs ook verbou en verbreek, so simpatie het hulle beslis en verder mag hulle nou nie kla as dit raas nie! En ja, alkant van hulle is daar verbrekings en verbouings.

Maar ons hou moed en sien die ster voor in die nag blink! Om die ster stofvry en blink te kry sonder water, is 'n ander saak....

Ek hou nie van stof nie, maar dis darem heerlik om ‘n droom te jaag!

Monday 15 January 2018

Die Groot Trek (vergange se dae)

Gedurende ons verblyf in die stad, ry ons eendag so kruie-kruie agter ‘n voertuig wat hul bedryf adverteer: Two men and a truck.

Die naam bly my by. Om dapper genoeg te wees om ‘n besigheid te begin. Twee manne wat nie bang is om ‘n sweetjie op te werk nie en ‘n voertuig tot hul beskikking wat kan help om ‘n droom te laat waar word. Dis inspirerend!

So raak dit tyd om kwotasies te kry vir ons trek uit die stad terug na die platteland. En ek onthou die twee manne met hul trokkie.

Enigiemand of enigiets wat “om te trek” makliker maak, is altyd welkom. En dié firma slaag absoluut daarin. Professioneel. Op tyd. Vriendelik. Behulpsaam. Betroubaar. Billik.
Die afgelope twee maande het Two Men and a Truck twee maal vir ons gehelp om meubels te vervoer. Beide kere was ons baie beїndruk met hul diens. Ons hoor hulle het uitgebrei en het deesdae ses voertuie en ses spanne sterk en gewillige Zimbabwiërs wat vir hulle werk.

Met die laaste indra van ons pakkasies, besef ek dat ek darem ‘n foto moet neem vir die argiewe om die intrek te dokumenteer. Ek draf om die hoek om te vra of ek ‘n foto van hulle kan neem. Een van die manne het al sy oorpak uitgetrek en agterin die trok opgehang. Met ‘n groot glimlag trek hy weer aan en hulle geniet die fotosessie – ten spyte daarvan dat hulle pas, oor middagete, nogal hard gewerk het om alles uit te pak en rond te dra. Dit was ‘n lekker warm somersdag. (Ek het hulle belowe ek sal vir hulle adverteer. Dis maklik in die geval!)

Wednesday 10 January 2018

Bring buite na binne
Een van die lekkertes van weer met ons voete plat en stewig op moeder aarde geplant te wees, is die vreugde van plante!
Skielik is dit so maklik en eenvoudig om iets in ‘n pot te plant! Indien jy dit nog nie probeer het nie, kan ek jou verseker: om op die tiende verdieping tuin te maak, kan nogal op ‘n ingewikkelde en uitdagende projek uitloop. 
Vele navorsing is gedoen oor die effek wat plante op mense het. Behalwe dat dit mooi is om na te kyk, is daar velerlei sielkundige effek. Uit ‘n studie wat by ‘n Universiteit in Kansas gedoen is, is die volgende bevind:
Based on several experimental studies, the presence of potted plants has been found to be helpful in many different settings including work, school, and hospitals. In particular, plants have been shown to...
·         Lower blood pressure (systolic)
·         Improve reaction times
·         Increase attentiveness
·         Improve attendance (at work and school)
·         Raise productivity (at work)
·         Improve well-being
·         Improve perceptions of the space
·         Lower levels of anxiety during recovery from surgery
·         Raise job satisfaction

Nou gaan julle darem sien hoe ons perform hier in nommer 20! Ons plantjies staan sterk! Die vraag is net of die eende ook dink die blaarslaai is sappig.

Tuesday 9 January 2018

Hoe klop jou hart?

So met die koms van die nuwe jaar, is daar mos maar altyd “dinge”. Al vertel jy my jy het nog nooit ‘n Nuwejaarsvoorneme gehad nie, is daar tog so iewers diep in jou binneste ‘n gedagtetjie oor wat jy in die nuwe jaar anders wil doen of nie wil doen nie.

Gedurende ons tog deur die land, kom ons op ‘n droë, warm dag op Oudtshoorn af op ‘n lieflike kuierplek. Ons geniet ‘n allerheerlikste koppie koffie – dit word op die werf gerooster – en ‘n yslike stuk koek – dit word op die werf gebak. Lekker, man, lekker! Dit was aan die begin van die vakansie toe ons nog nie moeilikheid gehad het om die lyfband in die “nuwe gaatjie langs die uitgerekte gaatjie” in te haak nie.

So met my besoek aan die klein vertrekkie (voor ons vertrek), sien ek die lieflike beeld van die hart wat tussen die hande vasgehou word. Ek neem dadelik ‘n foto vir my vrolike vriendin wie se kind ‘n hartoorplanting gehad het. Ek weet sommer ek moet dit met haar deel. Dit sal vir haar spesiaal wees.


En ek wonder: hoe klop my hart? En dit laat my dink: hoe klop jou hart?

Wednesday 3 January 2018

New Beginnings

Nuwe dag
Nuwe week
Nuwe maand
Nuwe jaar
Nuwe blyplek.

So het ons op Maandag 1 Januarie 2018 die dag begin. Op pad “huis toe” na twee maande en 4 dae en 6 000 km van rondrits in onse mooie land.

Die Natalse kinders verdien hul medaljes – hulle het immers die “voorreg” gehad om ons meeste van die tyd op hul werf te vermaak. En ons het besef hoe belangrik dit is om tog bietjie langer as net ‘n dag of wat by mens se kinders te kuier. Bietjie saam te bly onder een dak om mekaar weer van naderby te kan leer ken. Hulle is mos nou volwassenes met hul eie styl en eie huishouding. En dit doen ‘n ma se hart goed om dit waar te neem. En ‘n pa se hart ook.

Hoe voel ons oor ons nuwe uitdaging? Propvol nuwe gedagtes? Eintlik nie. Ons vat dit dag vir dag. Geniet wat die oomblik oplewer.

Gister het ons geskrop en geskuur en skoongemaak dat die skuimbolle so staan. Die ruite blink, die eendjies en ander gediertetjies het al kom groet en ek en manlief het al die skadu- en sonkolletjies uitgekyk.


Op hierdie oomblik sit ek en wag vir die vragmotor wat die trek moet bring hier na ons nuwe klein huisie (twee woorde!) neffens die groot boom. Hier waar ons wil kuier en klets met kosbares.