Die lang tou
Nee, dis nie die
ding waarmee ons vriend sy woonwa se deur vasgebind het sodat dit nie oopklap
terwyl hulle ry nie (ja, daai was ‘n lang tou, want dit moes buietekant om die
woonwa gaan…).
Die tou waarvan ek
vandag baie bewus is, is die ry waarin jy staan, sit, beweeg, weer sit wanneer
jy by SARS ‘n draai moet gaan maak. En dis ‘n stywe draai. Sonder
afdraaipaadjies, want dan is jy jou plek in die ry kwyt.
Vanoggend is ons
hier weg met al die nodige dokumente. Om dit in die hande te kry, was op
sigself ‘n saak wat my ou bloeddrukkie se sake gewerk het…
Manlief is so
dierbaar om my op die tog te vergesel. Dit help baie. Ons kan immers met mekaar
gesels, want die vrou aan my anderkant “Hum” en “Ha” net as sy absoluut op ‘n
vraag van my kant af moet antwoord – en nee, ek het nie veel gevra nie en toe
maar later haar in haar stilte oorgelaat.
Uiteindelik is ons
toe geholpe. Dit was twee uur se sit waarvoor ek nie omgegee het nie. Eintlik
het ons ons ingestel vir langer sit. Dankbaar dat dit vriendelike mense was wat
baie behulpsaam was en in onse mooie taal die saak afgehandel het, is ons met ‘n
huppel in ons stap daar weg.
Ek kon my
steunpilaar met ‘n heerlike cappuccino bederf om dankie te sĂȘ. Met 'n sny wortelkoek daarby. Hy het dit dubbel en dwars verdien!
No comments:
Post a Comment