Spice of
Life
Ons het elkeen een
of ander tyd bietjie ekstra zing in
ons lewe nodig.
Eergister stap ons
saam met ‘n kosbare kuiergas vanaf Duitsland by Spice Route en Fairview
rond. Dis so maklik om trots te wees op dit wat aan toeriste en besoekers
opgedis word by dié spesiale plekke. En in die proses voel ek dan ook sommer
soos ‘n toeris.
Met die wegry vra
ek vir manlief om ook te stop by Brenda’s
wat so half eenkant sit. Dis die mooiste winkel met die lekkerste goed!
Speserye wat jou by die deur kom begroet!
Ingelegde vrugte, allerhande vreugdes
wat in botteltjies gebêre kan word. Sommer net mooi. En op ‘n baie spesiale
manier uitgestal. Verleidelik.
En so is vriendin
se kuier ook vir my: dit gee vir my diepte en verskaf geur aan my lewe. Opnuut
verwonder ek my oor mense van oraloor wat oor my pad gestuur word. Mense wat my
lewe verryk; wat my bietjie anders – en dieper – na die lewe laat kyk.
Mmmm, dis nodig dat
ons mekaar aanmoedig tot beter en nie afkraak nie. Soos goeie speserye. Dit
moet die dis oplig – ‘n nuwe dimensie gee. Lekkerder maak.
No comments:
Post a Comment