Soos sake staan
Skielik kan ek nie
byhou nie. Dis net te veel.
Van pure lekkerte
en groot bederf het ek nou heeltemal agter geraak met wie ek graag op my stoep
en om my tafel wil bederf. En nie net wil nie. Soms raak dit ‘n moet.
Manlief verstaan
nie so lekker hoe dit werk nie. Ek kan ook nie verduidelik nie.
Maar op een of
ander manier en tyd het sake handuit geruk. Ek (en my begroting) kan net nie
die besigheid gebalanseer kry nie.
Vanoggend sit en
kuier ek oor heerlike koffie en kaaskoek saam met ‘n vriendin in ‘n mooie
koffiewinkel. Dis ‘n verjaardaggeskenk aan haar – want wat gee mens nou elk
geval present aan iemand in ons jare wat alles het wat nodig is (hoe bevoorreg
en bederf is ons tog!). So met die
gesels praat ons oor ‘n datum en ek besef met ‘n skok daar is dinge wat ek
nagelaat het. Dinge wat ek myself voorgeneem het om te doen. Helaas totaal en
al dit laat verbygaan. Deels omdat ek oud is en vergeet (dis waarvoor mens nota’tjies
oraloor kan vasplak ter herinnering) en ter versagting dat ek deesdae dikwels
nie weet wat die datum is nie (deel van die afgetrede leefwyse).
Maar dis ook waar
ware vriendskappe inkom. Hulle ken my mos. Hulle weet dis nie omdat ek nie lief
is vir hulle nie. Dis net dat ek soms sommer net wil hê hulle moet hier instap
en sê: hier is ons vir ‘n kuier! En om te kyk wat die koskas oplewer vir ‘n
lekker kuier!
No comments:
Post a Comment