Tuesday 27 March 2018

Voorregte van Vye en Vreugde

Om te kuier is ‘n groot voorreg. Om op ‘n vyeplaas te kuier is n verruklike voorreg!


Die afgelope naweek het ‘n hele bondel van ons op die lieflike Weltevrede vyeplaas buite Prins Albert gekuier, gesels, gelag, geniet! Tog te heerlik as ‘n dogter besluit om haar familie en vriende nader te hark om saam te kuier. Dit was net pure vreugde!

Van ‘n twee maande oue baba, ‘n jongman op krukke, ‘n swetterjoel kleingoed, tot ons “oueres van dae”. Die kinders het genoeg speelplek gehad. En slaapplek was ruim met ‘n reuse badkamer vir elke kamer. Elke huis het ‘n groot, ronde swembadpoel van koelte – diep genoeg vir die grotes om in af te koel en vlak genoeg vir die kinders om in te baljaar.

Selfs die drie ysterkatels op die groot huis se stoep was oorgetrek met spierwit beddegoed. En van die dogtertjies het alleen op die stoep geslaap – veilig en knus na ‘n dag se rondhardloop in die buitelug.

Die lekkerte van so ‘n ongekompliseerde kuier, is dat almal ontspanne is. Daar is geen “nou-moet-dit” gebeur nie. En geen elektrisiteit het beteken dat ons weer die mooi van ‘n parafienlamp geniet het! En ook agtergekom het dat om in die donker op ongelyk grond te loop, ‘n uitdaging op sigself is.

Met geen selfoonontvangs, was dit ‘n gekuier en gesels met die een op daardie stadium langs of voor jou – geen gedoente met ‘n sms of ‘n boodskap of ‘n foto of ‘n gelollery van enige werksaard nie!

So ‘n naweek kan ek vir ieder en elk aanbeveel. Eintlik behoort dit ‘n noodsaaklikheid te wees. Elke nou en dan. Ai, maar dit was lekker! 

No comments: