Druppel vir druppel
En ja, uiteindelik
leer ons op die harde (droë) manier: Every
drop counts!
Dis doodstilwarm
vandag. So ‘n “dankie-tog-dat-ek-nie-slote-hoef-te-grawe-nie” dag. Met die
nodige afkoelingsmeganismes in plek, kom ons eintlik redelik gemaklik deur die
dag.
En skielik begin
die donderwolke saampak hier teen laatmiddag. En nie lank daarna nie, laat die
donderweer van hom hoor.
Klein kordaat
buurman van langsaan dans opgewonde in sy swembroek buite op die verdroogde
grassies rond. “Dit gaan reën! Dit gaan reёn!” Dis so mooi om ‘n sewejarige
opgewonde te sien oor die reën! Hy kom roep hier om hulp, want die verlengde
afvoerpyp wat manlief vir hom aangesit het, het afgeval. Hy hardloop om ‘n
bakkie te gaan haal om onder te sit en gou-gou begin die water van die dakke af
binne-in sy bakkie te versamel. Groot opgewondenheid! En nog blyer dat syne
vinniger loop as ons s’n! Hy meen sommer vinnig dis ‘n kompetisie en die wenner
behoort R50 te kry! (Klink na ‘n bemarker vir die toekoms!)
Ons dra gou die
tuinpotte tot op die stoep se rand dat buurvrou van bo (met kleinletter
gespel!) se druppels tot ons voordeel kan wees!
En net so gou soos
dit begin het, is die reёntjie weer weg. Maar die geut loop nog lekker en die
plantjies is dankbaar.
Hoopvol vir ‘n
volgende keer! En bewus daarvan dat elke druppel ‘n verskil maak – alkant toe.
No comments:
Post a Comment