Onthou se dinge
Daai bokse wil nie
leeg raak nie! Dit is aansienlik minder, maar daar is nog ‘n hele paar
uitdaginkies wat my in die gesig staar voordat ek heeldag agteroor op die stoep
kan sit.
Probleem is dat
die stapel wat in die motorhuis staan, in manlief se pad staan. Hy kan nie by
sy masjiene uitkom om kassies te bou nie. En aan die ander kant kan ek nie die
bokse uitpak nie, want waarin moet ek dit pak? Die kassies is nog nie gemaak
nie!
Maar ons maak
planne en help mekaar en drink koffie en maak heerlik laatoggend ontbyt op die
nuwe stoof as die lus laag lê. En dan, met hernieude ywer en ‘n kafeїen skop,
spring ons weer naarstigtelik aan die werk en vorder darem so da tons dit self
kan sien!
Met die
uitpakkery, kom ek weer af op goeters waarvan ek so effe vergeet het. En ai,
die nostalgie! Te lekker om die lank verby se dae te onthou! En van sommige sal
ons kinders glad nie weet nie!
Onthou jy hoe ons saans die melkbottels buite
uitgesit het sodat die melkman die koepons daarin kan uithaal en sien wat hy
vir ons moet neersit: afgeroomde melk of volroommelk? Sowaar – kan jy glo –
glasbottels wat buite staan. Heelnag. En niemand gooi dit stukkend of vat dit
nie! En niemand haal daai koepons uit nie! En môreoggend glip ons gou uit by
die deur om die heerlike vars bottel melk in te bring vir ontbyt. Dit klink
selfs vir my nou effens of dit in ‘n droomwêreld was!
Was dit regtig soos ons geleef het?
No comments:
Post a Comment