Die Groot Trek (vergange se dae)
Gedurende ons
verblyf in die stad, ry ons eendag so kruie-kruie agter ‘n voertuig wat hul
bedryf adverteer: Two men and a truck.
Die naam bly my
by. Om dapper genoeg te wees om ‘n besigheid te
begin. Twee manne wat nie bang is om ‘n sweetjie op te werk nie en ‘n voertuig tot
hul beskikking wat kan help om ‘n droom te laat waar word. Dis inspirerend!
So raak dit tyd om
kwotasies te kry vir ons trek uit die stad terug na die platteland. En ek
onthou die twee manne met hul trokkie.
Enigiemand of
enigiets wat “om te trek” makliker maak, is altyd welkom. En dié firma slaag
absoluut daarin. Professioneel. Op tyd. Vriendelik. Behulpsaam. Betroubaar.
Billik.
Die afgelope twee
maande het Two Men and a Truck twee
maal vir ons gehelp om meubels te vervoer. Beide kere was ons baie beїndruk met
hul diens. Ons hoor hulle het uitgebrei en het deesdae ses voertuie en ses
spanne sterk en gewillige Zimbabwiërs wat vir hulle werk.
Met die laaste indra
van ons pakkasies, besef ek dat ek darem ‘n foto moet neem vir die argiewe om
die intrek te dokumenteer. Ek draf om die hoek om te vra of ek ‘n foto van
hulle kan neem. Een van die manne het al sy oorpak uitgetrek en agterin die
trok opgehang. Met ‘n groot glimlag trek hy weer aan en hulle geniet die
fotosessie – ten spyte daarvan dat hulle pas, oor middagete, nogal hard gewerk
het om alles uit te pak en rond te dra. Dit was ‘n lekker warm somersdag. (Ek het hulle belowe ek sal vir hulle adverteer. Dis maklik in die geval!)
No comments:
Post a Comment