Redes en Raaisels
Hoekom ek blog?
Soms vra ‘n
spreker ‘n vraag so in die bondel wat mens tog laat dink. So dink ek toe - na
een of ander praatjie - by myself: Wat sal ek anders doen as ek weet ek het net
‘n sekere tyd oor hier op aarde? Eintlik mos nou glad nie ‘n lekker vraag om
aan te dink nie. Maar my gedagtes het tog vasgesteek daarby dat ek sal skryf.
Ek sal vir my kinders skryf oor sommer enigiets sodat hullle dit kan lees – of
nie – soos dit hulle pas.
Om te skryf was
nog altyd vir my lekker! Letters en woorde fassineer my. Opsteltyd in Mnr Van
Zyll se klas was vir my heerlik. Ek onthou nou nog die storie wat Mnr Wessels
vir ons in standerd 6 gelees het. As kind het ek soms op my tannie se skoot
gelê as sy saans vir ons stories gelees het – haar gesig was dan onderstebo…
die snaaksste ervaring! (Ek wonder nou of dit die storie self was wat dié kere
belangrik was en of dit die sensasie was om daai mond dop te hou wat verkeerdom
praat…!)
Nou ja, hier het
ek nou tyd om te skryf soos en wanneer ek wil. Vir wie ookal wil lees! Sonder
‘n meneer of ‘n juffrou met rigiede reëls en gedagtes en geen rooi pen. En ek
geniet dit. Sonder dat ek moet skryf “omdat my slapies hier op aarde min is”!
Is dit nou my
laaste skryf?
Die raaisel sal
altyd daar wees! Intussen geniet ek
dit! En ek geniet my kinders, kennisse
en anoniemes se kommentaar daarop – as hulle dit soms lees – of nie.
Nee, ek het nie
gehoor wanneer my laaste dag hier is nie.
Soos vir jou, bly
dit ‘n raaisel vir my.
No comments:
Post a Comment