Thursday 30 June 2016

Die lekker kurwes

So met die winter kom die kurwes. Dis onvermydelik. Dis winter. Dis ‘n ekstra ietsie te ete. Dis ‘n ekstra skeppie kos. Dis ‘n warm sjokoladedrankie. ‘n Glasie muskadel. Lekker warm kos. Nog ‘n skeppie nagereg…

Die swembadwater is koud al probeer hulle my oortuig dis verhit … en ekstra nat …

En dis darem so lekker snoesig voor die kaggel of onder die kombers…

Vriendin merk op: “Mens moet kies tussen plooie en oorgewig.”

Maar my klere sit skielik bietjie styf om die lyf. En dis ongemaklik om onder die yskas skoon te maak. En het die trap altyd soveel klim gekos?

Dis triestig en grys buite. Onplesierig om uit te gaan vir ‘n stap… Oorgenoeg verskoning vir nog ‘n koppie koffie met ‘n roomkoekie.


Maar die winter het gedraai – volgens die kalender – en oor 8 weke is dit lente. Waar is my stapskoene en my dik baadjie en gebreide keps? Kom, ons gaan stap. Dan kan ons weer lekker eet!



Wednesday 29 June 2016

Bessiebosse

Oral in die tuine is daar heinings en bosse oortrek met bessies – rooi en vrolik, oranje en warm! Dit verdryf die grysheid van die winter en skep vrolikheid in die koue, vaal kolle.

Saam met die kleurvolheid, bied dit sommer veiligheid ook met daai eina-skerp dorings!


Sulke dankbare plante – min sorg en min water nodig en ons boonop bederf met die mooiste bessies wat ywerig gloei van kleur.

Dan wonder ek oor daai ou Afrikaanse liedjie: “My geliefde hang aan die bitterbessiebos.” Wat sou tog aanleiding gegee het tot die woorde? 


Toe ek bietjie gaan soek, kom ek af op ‘n artikel van Maureen Joubert (Van Alle Kante 2007) wat ook gewonder het van die arme geliefde wat iewers hoog in die takke is… Sy skryf onder andere: “Daar was ’n tyd, lank gelede, toe koring in die Wes-Kaap nog met sekels geoes is. Die werk was in die hande van plaasarbeiders wat kromrug moes staan om hul take aft e handel. En ja, soms moes daar tot lank ná sononder gewerk word. Om dit moontlik te maak, is lanterns in rye aan stokke gehang. Die manne het seker aanmoediging gesoek om so lank te swoeg en klaar te maak voordat die dou neerslaan. Al singende het hulle aanhou sny, want die vergoeding was in sig: ’n bottel vuurwater wat aan die einde van die landery aan ’n bitterbessiebos gehang het.”

Weet nie van jou nie, maar die storie maak my eintlik bitter hartseer….

Tuesday 28 June 2016

‘n Lekker boek…

'n Lekker (goeie?) boek is darem groot bederf!


Voor my bed is gewoonlik twee of drie leesboeke – een ‘n lekker slaaptydstorie (bedoelende ‘n lekker sappige and they lived happily ever after) en dan een of meer ernsitger boeke wat my gedagtes bietjie meer uitdaag met pitkos waaroor ek en manlief lekker kan gesels. Op die oomblik lees ek Ronell Bezuidenhout se "Woestynwysheid" wat absoluut is wat ek nou nodig het. Maar die een sorg nie noodwendig vir 'n sleepy conscience nie!

Dis nogal vir my moeilik om ‘n boek wat nie lekker lees nie – nie na my smaak is nie – halfpad te los en nie klaar te lees nie. As mens na al daai rye en rye rakke boeke in ‘n biblioteek of boekwinkel kyk, is dit seker te verstane dat daar verskillende boeke vir verskillende mense is! Dus: as ek nie hou van ‘n boek nie, kan ek maar toemaak en aanskuif na ‘n volgende. Maar dit gebeur nie maklik nie… ook maar bang ek mis iets!

Op hierdie stadium in my lewe het ek tyd vir lees. En manlief, ook ‘n boekwurm, geniet die stapeltjie boeke wat ek tweeweekliks van die biblioteek af aandra. Ek voel goed as ek die slag ‘n treffer (of een wat hy nie voorheen gelees het nie) aanbring. Verlede week druk ek hom in ‘n blik (so het ek gedink!) en stuur hom biblioteek toe terwyl ek gou iewers anders moet wees. En hoe verras die man my! Hy bring twee lieflike boeke – spesiaal vir my uitgesoek en absoluut in my styl!!!


Laat my dink … ek sal môre bietjie ekstra tyd in die biblioteek moet deurbring, want ek sal eers meer tussen die buiteblaaie moet snuffel voor ek boeke vir hom uitsoek…

Monday 27 June 2016

Bo-Kaap se bekoring

Laatmiddag is daar altyd sonskyn in die Bo-Kaap. Of die son nou wel skyn of nie!

Die huisies se kleure raak al meer modieus soos die jare (en die verfverskaffers se kleurkaarte) vorder.


Dis ‘n vrolike buurt met inwoners wat geselsies met mekaar aanknoop, seuntjies wat bal skop en kindertjies wat oor en weer speel. Op ‘n Sondagmiddag is daar so ‘n ekstra woeligheid soos die sonnetjie opgesoek word en die bure mekaar vriendelik groet.


Meeste van die historiese huisies word gerestoureer en is pragtig opgeknap. Hier en daar is ‘n bouval wat hartseer besig is om inmekaar te tuimel.

Hier is sekerlik lieflike stories wat van geslag tot geslag oorvertel word. Sommige met Kaapse humor, ander sekerlik hartseer.


Ek dink dis tyd dat ons vir ‘n laatmiddag stappie gaan…
Daai lekker geure uit iemand se kombuis kan dalk net vir my inspireer vir ‘n geurige kerriedis vir aandete…

Friday 24 June 2016

Kaapse koue

Kaap + koue + kuier = sop en muskadel! En eintlik is “kaggel” ook daarby ingesluit, maar nou ja, daarsonder kom ons toe ook heel goed reg, dankie! (Ek dink egter dis een van die tick-off blokkies vir ons pophuis in die toekoms.)

Na ‘n sonnige daggie of twee word daar lekker koue voorspel binne die volgende paar dae. Die sneeu het mos nog nie genoeg die berge hier om ons toegegooi onder ‘n spierwit laag nie!

Terug by die sop. Of daar nou murgbene in die sop is of net ‘n lekker pot groentesop – dit bly darem maar lekker! En dan hoor ek van mense wat niks van sop hou nie. Sou dit wees omdat daar stigma is aan die dis? Of dalk het hulle nog nie sop wat met liefde gemaak is, geproe nie?


Onlangs eet ons ‘n heerlike eiervrug-en-murgpampoentjie sop by ‘n vriendin. Heerlik en geurig proe dit voorwaar soos murg! Vanaand is dit op my spyskaart. Met ‘n heerlike varsgebakte ciabatta wat hier naby in ‘n Rosa’s bakkery hier naby gekoop is. En vrolike geselskap. Hoe geseёnd is ons!!!


Die lieflike bakkie lensiesop het ek op 'n baie koue nat dag in die mooie George saam met vriende by die Meade Cafe geniet!

Thursday 23 June 2016

Om jouself te mag wees

Vanoggend het ek die voorreg gehad om saam met ‘n paar vroue te kuier. Interessante vroue. Uiteenlopende vroue. En elkeen pragtig in haar eie, unieke manier.

Dis mos nou die lekkerte van ouer wees. Ons kan onsself wees.

Ek luister onlangs na ‘n jong vrou wat vertel dat haar ma haar geleer het: doen net wat jy wil! Jy kan wees net wie en wat jy wil! Sjoe, in ons dae was dit nou nie sommer so eenvoudig nie! Daar was baie reёls en baie moets en moenies. So het ek grootgeword en ja, so het ek tot ‘n groot mate ook my kinders grootgemaak. As ek nou weer kan, sal ek anders? Beslis, ja! Maar maklik om dit nou te sê en te weet ek gaan nie daai een mag oordoen nie… Maar, soos my kind my al ingelig het: “Toemaar, ma, geen blywende skade nie!”

En hoe lekker het ons nie vanoggend gelag en gesels nie! Kwetterend om ‘n teetafel! Elkeen so spesiaal. Kosbaar.



“To be yourself in a world that is constantly trying to make you something else is the greatest accomplishment.” 

Wednesday 22 June 2016

Droom jy ook?

Vanoggend hoor ek ‘n radio-advertensie met iets soos: “as ons droom, sit ons ons voete in skoene wat ‘n nommer te groot is – ons moet ons drome ingroei / ons drome moet groter as ons wees.” Klink lekker. Wil hoeka mos nie skoene dra wat knyp nie…..

Droom is heerlik.

Nagmerries is aaklig! Maar darem baie lekker om wakker te word na daai nagmerrie en om te besef dis nie realiteit! En tog kom daai belaglike nagmerrie so dikwels in dieselfde gedaante terug! Daai irriterende droom dat jy nie voorberei is vir die les wat jy moet aanbied nie…

Maar nie altyd maklik om die moed te hê om ‘n droom in te haal nie, want dan moet jy hom doen, sussie! Jy kan nie net wil nie! Jy moet doen!!!

Elizabeth Gilbert, van Eat Pray Love faam, skryf in een van haar ander boeke die volgende oor haar pa: He didn’t quit his day job to follow his dream; he just folded his dream into his everyday life.

Dit klink darem so mooi.

Dis so al of my alledaagse bestaan my drome pootjie. Of is dit net ek wat verskoning soek? Of is dit my drome wat my laat struikel oor my elke dag se bestaan? Dit laat my heeltemal geknoop voel in my gedagtes – watter kant ookal om, kom dit daarop neer dat ek nie my drome teen Killarney spoed najaag nie.

Op watter ouderdom hou mens op met droom?


Of verander die drome net? Dalk na die soort wat ‘n middagslapie in ‘n sonkolletjie insluit … met so ‘n snorkie nou en dan en wakker skrik omdat jou leesboek uit jou hand uit geval het?


Tuesday 21 June 2016

‘n Huppel in my stap

Vanoggend het ek die voorreg gehad om vir ‘n tyd by ‘n jong vriendin te gaan sit. Voor die deur van die teater van ‘n hospitaal hier in die stad. Dis waar sy gesê het ek haar sal kry: “In die saal waar my man opgeneem is. Anders sal ek seker op vloer 2 voor die teater sit en bid.”

Terwyl ek op pad is met twee geurige, warm cappuccinos, merk ‘n mede-passasier in die hysbak ergerlik op dat sy baie ver moes parkeer. (En nee, sy is nie ‘n pasiёnt nie!) Sy moes om die gebou stap tot by die ingang! Ek meen dis ‘n groot voorreg! As mens bietjie tyd deurbring by ‘n hospitaal waar mense in rystoele en met krukke of prosteses met moeite rondbeweeg, het ek sommer energie om twee maal om die gebou te stap tot by my motor!

Die son skyn vandag in Kaapstad. Dis tyd om ‘n warm jassie en serp om te vou, gemaklike skoentjies aan te trek en te gaan stap! Om die lewe te vier! Uit dankbaarheid!


Vandag stap ons ‘n ekstra kilometer!


I don't praise God because all is right in my world.
I praise Him because of who HE is.
- Dionne Sanchez


Monday 20 June 2016

'n Das wat pas?

Altyd interessant vir my om mense dop te hou.

Ja, ek kan soms stilsit en net kyk! Daai lyftaal fassineer my!

So hou ek anderdag ‘n klompie regsmanne dop. Hulle het etensuur en die kelners ken hulle en hul voorkeure en fiemies duidelik.

Een dra ‘n strikdas.

Wonder wat die man se oorweging is met die aantrekslag: vandag ‘n streepdas of ‘n strikdas? Vir sekere geleentheid die een en ander afspraak die ander? Afhangende van die belangrikheid van die kliënt of die hofsaak? Sou daar iets in sy bestaan gebeur het dat hy besluit het: van nou af net strikdas?

Laat my dink aan dogter se slim plan vir haar troue. Wetende dat pa en skoonpa nie een meer ‘n (ordentlike) pak klere het wat (ordentlik) pas nie, is haar versoek toe dat pa en skoonpa vir hulle aandpakke huur vir die geleentheid. Met strikdasse. Slim meisie, want wie kan dan nou nee sê vir ‘n pragtige bruidjie?


Maar soms – net soms - lyk ‘n man met ‘n strikdas darem vir my kompleet soos ‘n opgepofte kardoessak wat toegebind is met ‘n strikkie….


Friday 17 June 2016

Die groentewinkel in die dorp

Ek onthou so goed hoe die groentewinkel in Kerkstraat geruik het. (En nee, my neus onthou nie ‘n slegte reuk nie, maar dié van blare en grond en aards.) Die houtkissies met groente en vrugte wat uitgestal is. Ek kan nou nog hoor hoe die winkelier aan my ma vertel van die beste produkte van die dag. Eerlik. Eenvoudig.

En hoe hoogmode is dit nie weer deesdae nie! So wonderlik dat mense letterlik en figuurlik “terugkom aarde toe”. Heerlik om vars produkte uit die grond te koop en nie toegedraai in plastiek sodat mens nie kan sien wat dikwels daar aan die onderkant weggesteek word nie.


Met ons kuier in Riebeek-Wes stap ons in by ‘n piepklein winkeltjie wat bars van trots – pure omdat alles so vars en netjies is! My kleintyd kom sommer hier by my verby gehuppel!


Hoekom was die eienaar van destyds se groentewinkel nie gereken as een van die juwele van die dorp nie? Die man was so nederig. Ek sou graag drie van sy groentekissies podium-styl voor sy winkel wil opstapel. En ek wil vir hom op die hoogste trappie – wenner nommer 1 – wil laat staan. Sodat ons almal vir hom kan handeklap en aanmoedig! Mooi so!


Wednesday 15 June 2016

Welkom, Winter!

Uiteindelik is dit winter in die Kaap!

Vriendin van Pretoria het eendag opgemerk dat die Kapenaars altyd verneem na die weer. Toe besef ek dat dit voorwaar so is! Maar, komende van ‘n plaasgemeenskap, was dit vir my deel van my dag. ‘n Boer is mos afhanklik van die val van die druppels – wanneer en waar. En dikwels was dit sommer van niks anders te sê hê nie en ‘n heerlike aanknopingspunt: “Hulle sê dit gaan more reёn...” En die “hulle” is nie altyd in die kol met die voorspelling nie!

Vriendin laat weet my verlede week: “Die Kaap het Gauteng toe getrek”.

En hierdie kant wag ons op die reën.

Totdat dit hier lostrek met ‘n tipiese Kaapse winterreën! Dit stort en sjorrr!

Dis koud en nat in die Kaap! Die winter is hier! Die damme word vol!

Laat my verlang na my Stellenbosch studentedae! Darem min wat daarby kom om styf onder ‘n held se blad onder ‘n sambreel te stap. Wat ‘n heerlike verskoning vir die naby-stap in die mooie Boland!


Tuesday 14 June 2016

Redes en Raaisels

Hoekom ek blog?

Soms vra ‘n spreker ‘n vraag so in die bondel wat mens tog laat dink. So dink ek toe - na een of ander praatjie - by myself: Wat sal ek anders doen as ek weet ek het net ‘n sekere tyd oor hier op aarde? Eintlik mos nou glad nie ‘n lekker vraag om aan te dink nie. Maar my gedagtes het tog vasgesteek daarby dat ek sal skryf. Ek sal vir my kinders skryf oor sommer enigiets sodat hullle dit kan lees – of nie – soos dit hulle pas.

Om te skryf was nog altyd vir my lekker! Letters en woorde fassineer my. Opsteltyd in Mnr Van Zyll se klas was vir my heerlik. Ek onthou nou nog die storie wat Mnr Wessels vir ons in standerd 6 gelees het. As kind het ek soms op my tannie se skoot gelê as sy saans vir ons stories gelees het – haar gesig was dan onderstebo… die snaaksste ervaring! (Ek wonder nou of dit die storie self was wat dié kere belangrik was en of dit die sensasie was om daai mond dop te hou wat verkeerdom praat…!)

Nou ja, hier het ek nou tyd om te skryf soos en wanneer ek wil. Vir wie ookal wil lees! Sonder ‘n meneer of ‘n juffrou met rigiede reëls en gedagtes en geen rooi pen. En ek geniet dit. Sonder dat ek moet skryf “omdat my slapies hier op aarde min is”!

Is dit nou my laaste skryf?

Die raaisel sal altyd daar wees!  Intussen geniet ek dit!  En ek geniet my kinders, kennisse en anoniemes se kommentaar daarop – as hulle dit soms lees – of nie.

Nee, ek het nie gehoor wanneer my laaste dag hier is nie.

Soos vir jou, bly dit ‘n raaisel vir my.


Monday 13 June 2016

Sjoe, sjokoladekoek!

Oor die naweek het ons Riebeek-Kasteel toe gery. Sommer net om die lewe te vier. En die mooi van onse land te geniet.

En was daai sjokoladekoek nou lekker!!!!

Dis so ‘n mooie vallei waarin die twee dorpies lê. Met vriendelike mense wat graag gesels en maklik saam lag.

En na ‘n stappie deur die dorp om geen enkele winkeltjie te mis nie, is mens mos dors. Dié dat die gawe jongman besluit het hy moet ook sy bierbrouery hier vestig. Glad nie sleg nie!


Eintlik wou ons net van die magiese olyventjies van ouds se produkte daar in die mooie vallei gaan koop….


Sunday 12 June 2016

Waaroor dink jy?


Sondae is 'n goeie dag om bietjie iewers stil te raak en na te dink.
Ook om te wonder: Waarin vind ek my vreugde?

Friday 10 June 2016

Vandag is die dag …

wat jy gekry het om te lééf!

Doen dit!

Dis ‘n geskenk!

Vir jou!


Thursday 9 June 2016

Dans, dans, dans!

Hoe lekker het ons gisteraand gelag en die vreugde van sing en dans geniet!

Kanala in die Fugard Teater hier in die stad is aan te beveel! David Kramer kan maar!

Die manne van die veld glo dat sport mense bymekaarbring, maar sing en dans doen dit darem op ‘n baie spesiale manier!

Distrik Ses se leed sal my altyd aanraak. Die stories wat dit voortbring, is kosbaar. En dit gee aanleiding tot interessante gesprekke en gedagtes.


En altyd is dit die mense van Distrik Ses se ritme en humor wat harte verbly! En voete laat jeuk! O, die Kaap is ‘n spesiale plek! En die Kaap se mense is kosbaar!



Wednesday 8 June 2016

Plekke om te onthou…

Onlangs lees ek van ‘n man wat ongelukkig nie erkenning ontvang het vir sy kuns en argiteksontwerpe op sy dag nie. Muller Optometrist word vanaf 1890 bedryf uit die Art Deco gebou op die hoek van Parlement- en Langmarkstraat wat hierdie man ontwerp het. Ek het die artikel in Die Burger gelees en gedink ek sal graag meer oor hom wou lees. Maar toe maak ek mos (alweer) die ou foutjie om die koerant toe te vou en op die stapeltjie te plaas. En soek soos ek wil, selfs die Universiteit van Google help my nie om die man se naam weer op te spoor nie. (En daai koerant is al lankal saam met die aartappelskilletjies die vertes in.)  Altyd interessant hoe sommige geken en herken word en ander net sommer die ding doen en so effens verdwyn.

So is daar baie interessante geboue hier om ons. Maar dis nodig om met dapper en stapper te wandel as mens dié juwele wil raaksien.

In een van Kalkbaai se baie antiekwinkeltjies, is ‘n boek met ou hotelle van Kaapstad en elkeen se storie. Baie interessant en heerlike leesstof.


Een van die hotelle wat vir my nostalgies is, is die Metropolitan Hotel van ouds. As kinders het ons ‘n paar keer die voorreg gehad om saam met ons ouers daar tuis te gaan. Deesdae bekend as The Grand Daddy Hotel in Langstraat, vertel die naam al klaar dat dit in ‘n klas van sy eie is. As jou liefie nie hou van “vreemd” nie, moet jy liewer nie hier verblyf bespreek vir ‘n nag in Airstream Trailer Rooftop Park nie! Die Pink Flamingo Rooftop Cinema is deel van die ondervinding – as jy nuuskierig is, gaan fliek een aand daar bo-op die dak van die gebou tussen die interessante “karavane”. Jy sal verstom staan oor wat bo-op daai dak aangaan!




Monday 6 June 2016

Daai laaste hou!

Was dit nou nie opwindende tennis nie!!!!  En wie kon nou raai wat die uitslag van die vroue finaal sal wees! Ek het selfs vir ‘n oomblik gedink die man uit die koningin se kamp het ‘n kans, maar toe nie!

Onlangs stap ons in Kloofstraat in by Salon 91 se kunsuitstalling. Heerlike vars idees op papier en doek geverf. En die tennistoneel van Kirsten Beets vang my aandag. En sjoe, dis ‘n uitklopprys wat daarvoor gevra word. Sekerlik is dit teen hierdie tyd teen iemand se muur. Sal nogal interessant wees om te sien wie dit gekoop het en waar dit hang! Dit kan nogal ‘n interessante tv realiteitsprogram raak…

Kunstenaar : Kirsten Beets
 En nou sien ons uit na die volgende tennistoernooi!

Sunday 5 June 2016

Elkeen uniek!

Dit het my nogal ‘n paar jaar – ‘n hele paar jaar – geneem om van myself te hou.

‘n Gebrek aan selfvertroue en gevoel van minderwaardigheid was maar die las waarmee ek myself as kind en tiener gekniehalter het.

Onlangs staan ek in die hysbak saam met twee pragtige moderne jongmense. Ek druk ingedagte die hysbak se knoppie … die verkeerde een … en lag so half verleë met die verskoning dat dit nou maar die dinge is wat oumense doen. Ek gee toe sommer raad vir die twee jonges: “Enjoy your youth! It passes so quickly!” En hulle openbaar toe beide aan my dat hulle hul kinderdae meer geniet het. I don’t like the adult thing volgens die een, word toe deur die ander een beaam. En ek kan eerlik erken dat ek my volwasse lewe meer geniet as wat ek my tienerjare geniet het. Ek was so onseker van myself!

Met die jare het ek ook die wysheid ontvang dat dit ‘n geestelike opdrag is om mensself lief te hê. Hoe dan  kan ek anders my naaste liefhê as ek voortdurend myself afkraak?

So met die verhuising na ‘n woonstel en uit die bekende omgewing, is ek skielik baie meer aangewese op myself. Manlief geniet sy nuwe kontrak en gaan soggens met ‘n lied in sy hart en met ‘n huppie in sy stap werk toe. Ek moet myself bedags vermaak.

En ek moes myself leer ken. Nogal ‘n voorreg om ‘n slag te kan voorraadopname doen van mens se lewe. Nie maklik nie, nie altyd lekker nie, maar ‘n goeie oefening.  


I’m glad I’m me

No one looks the way I do
I have noticed that is true!
No one walks the way I walk
No one talks the way I talk
No one plays the way I play
No one says the things I say
I am special!
I am ME!
There’s no one else I’d rather be!

Original Author Unknown

Saturday 4 June 2016

Tye van verandering..

Bob Dylan se The Times they are a-changin is die afgelope week of wat gedurig in die rondte – in die boek wat ek lees, in die koerant vandag …

Come gather 'round people
Wherever you roam
And admit that the waters
Around you have grown
And accept it that soon
You'll be drenched to the bone
If your time to you
Is worth savin'
Then you better start swimmin'
Or you'll sink like a stone
For the times they are a-changin'.

Ja, dis so. Tye verander. Verskillende dinge vir verskillende mense op verskillende maniere.

Jongste het die geleentheid gehad om die afgelope paar dae in Parys te gaan werk. En sjoe, het daai waters around you have grown! Ek kan nie wag om al sy stories te hoor nie!

Intussen moet ek swem … of sink, for the times they are a-changin.


Dis mos vir my lekker om bietjie te vernuwe, so verandering is nie vir my sleg nie! Ek geniet die nuwe idees en die nuwe uitdagings. Soms is daar ook goete wat na die “verkeerde” kant toe verander – en dis waar die positiewe denke moet intree! En waar ons moet saamsing (en saamswem!): Swem, Jannie, swem!


Friday 3 June 2016

Hoe nou gemaak?

Een van die dinge wat ek mis noudat ek hier op die tiende verdieping woon, is ‘n tuin en voёltjies. Sommer net om te kan uitstap in my tuin, ‘n takkie te pluk en in ‘n potjie op my kombuistoonbank neer te sit. ‘n Roos af te pluk en aan my ma te dink… In die sonnetjie te sit en die voёltjies se gekwetter te kan geniet.

Maar die Kompanjiestuin is binne stapafstand van my. So spesiaal om net deur die pragtige tuine te stap. En Kaapstad het ons verras metal die vele publieke tuine van hier tot by die V&A. Lieflike parke wat uitstekend in stand gehou word. Plek waar mens kan ontspan en die natuur kan geniet. Nie eens nodig om parkeerplek te soek nie – dis sommer ‘n lekker wandeling tot daar en terug. En heeltemal veilig, ja!

Dus kan ek die natuur geniet.

Nou staan sake so: manlief het hierdie dringende behoefte om ‘n kruietuintjie (weliswaar ‘n pot of twee) aan die gang te kry. Dit het tot vele reise na verskeie kwekerye opgelewer. Geplant, versorg, vertroetel. Nie suksesvol. En ons moes met ‘n skok besef dat dit nie so maklik is om ‘n bietjie grond in ‘n pot te kry op die tiende verdieping van ‘n gebou in die middestad nie! Maar dit is moontlik – met bietjie beplanning.

Op die oomblik kan ons darem elke aand twee slaaiblaartjies vir ons afknyp. Nou nie groot genoeg om die daaglikse vitamines aan te vul nie, maar wel om ‘n vars organiese dingetjie op die bord te kan hê. En eintlik om groot plesier te verskaf!

En dan het hy natuurlik ‘n ou spekboompie op die balkon.

Die probleem kom in by die vetplantjie.

Hier het twee stads-Starlings hul verskyning gemaak. Hulle is versot op die blaartjies van dese vetplantjie. Seker lekker sappig vir hulle en dis seker hul daaglikse uitstappie vir ‘n bederfie. Maar o wee, die goed verniel die ou plantjie!!!

Hulle gesels so mooi met my, maar ai tog, ek kan nou nie eens meer my deur na die balkon oop los as ek uitgaan nie – te bang hulle vlieg in en maak binne ‘n gemors.


Klink so ondankbaar as ek hulle verjaag… Ek verlang dan so na die voёltjies…


Wednesday 1 June 2016

Masidlale – Let the children play

Oor die etensuur het ek die voorreg gehad om te gaan luister na die jong opkomende musici. Gratis, verniet en binne stapafstand van ons kasteel. Wat kan nou beter op so ‘n grys wintersoggend?

Die Kaapse Filharmoniese Orkes se Masidlale projek bied die jeug die geleentheid om voor ‘n gehoor op te tree. Die optrede is op die boonste vlak van die voorportaal van die Kunstekaap gehou en dit was oop vir ieder en elk.

Dit was ‘n ideale geleentheid vir kleiner kinders om te kom luister en te vra: Wat is daai groot ding wat daar voor staan? Dis toe ‘n harp. En wat ‘n groot bederf om te kon luister na harp en viool…. Hemels!

Die volgende gratis middaguur konsert word op 19 Julie tussen 13:00 en 14:00 gehou. Dit sal meer oor opera handel.


Maak ‘n aantekening in jou dagboek! Sien jou daar!