Thursday 1 June 2017

Oops!

Het jy ook al ‘n Oops! gehad? Seker min, indien enige, mense wat nog nooit ‘n Oops!  gehad het nie!?

Ja, ek het ‘n selfoon met spatare.

Manlief begryp gelukkig die begrip “ongeluk” baie goed. En “glipsie” ook.

Toe die kinders klein was, het ek probeer bly by die redenasie dat enigeen ‘n glipsie kan kry. As mens per ongeluk iets breek, is dit verskoonbaar en dan ook sommer die regte geleentheid om te maan tot versigtig met ander se goed. Maar as jy ‘n paar keer waarsku: “Oppas, dit gaan breek!” en hulle wil nie hoor nie en veroorsaak wel dat die besigheid stukkend is, was daar siepsop en braaiboud! (Ek sou maar gesukkel het met deesdae se manier van straf….)

Maar om terug te kom tot die selfoon se spatare. Die dingetjie glip toe uit my hand uit en val karplaks skoon gesiggie na onder…. En toe ek die geliefde ou dingetjie optel, is daar oraloor spataartjies…..

Dit laat my dink aan lank gelede – hulle vra op tv vir ‘n jongman watter dinge aan ‘n vrou vir hom nie aanvaarbaar is nie. En die aanskoulike man antwoord: “Spatare en selluliet”. Onnosel. Weet hy toe nog nie op sy jeugdige ouderdom dat dit nie dinge is wat mens jouself aandoen nie…. As hy nou genoem het van ‘n meisie wat rook / nie rook nie (daai dae was daar nog nie tattoeёrwerke op die human bodyparts nie) of ‘n meisie wat nie goeie maniere het nie / aansitterig is…. Maar nee, Ta weet maar net nie sy ma se spatare is deels sy skuld en die selluliet gaan hy ook kry!


Dit was werklik nie met opset nie. Dis mos soos dit is. Spatare kry mens sonder dat jy wou.

No comments: