Droogtedenke
Daar is deesdae seker
nie kuiertye waar iemand een of ander tyd ‘n opmerking maak oor die water – of dan
die gebrek daaraan – hier in ons midde nie.
Die winkels wat
plastiekware verkoop, kry uiteindelik ook weer kans om voor in die ry te kom.
Ieder en elk soek ‘n groterige skottel waarin mens in die stort kan staan. Ek
kan myself nogal die eierdansies indink wat soms in daai skotteltjies
plaasvind! En manne se verontwaardigheid as hulle die eerste keer daai skottel
moet betree.
‘n Deftige dame
merk anderdag op dat sy nooit, maar nooit gedink het sy sou haar skottelgoed in
‘n kommetjie in haar wasbak was nie! En siedaar – dis toe glad nie so erg nie
en spaar ‘n verstommende hoeveelheid water!
Baie moeite word
gedoen om water emmertjie-vir-emmertjie te spaar en uit te dra na die smagtende
plante – die wat nog oorgebly het. En skielik het ons almal ‘n ingesteldheid
oor inheems tuinmaak. Die natuur leer ons wat ons behoort te plant en wat nie. Ons
moes al lankal geluister het!
Maar die duisende
toeriste wat onse mooie stad se are laat pols, help nie veel om water te spaar
nie….
Vanoggend herinner
Jeremia my: “Julle spog tog so graag met julle vrugbare valleie.” Ja, doen ons
nie! Die heuwels wat voorheen vaal was na oestyd, is deesdae golwende groen
wingerede. En spog ons nie daarmee nie! En aan wie het ons die vrugbare valleie
te danke? Beslis nie onsself nie! En vrugbare valleie sonder wonderskone water
is ook nie veel werd nie. (Die wynlandgoedere wat nie besproei nie, is
voortreflik! Ek ondersteun hulle graag!)
Dit alles laat ons
net weer in nederigheid ons absolute afhanklikheid bely.
No comments:
Post a Comment