Bymekaarmaaksels
Onlangs lees ek: “Ons
weet dat niks wat ons op hierdie aarde bymekaarmaak ons na die volgende lewe
(waar dit ook al kan wees) kan vergesel nie, maar ons hou steeds ‘n eienaardige
en onversadigbare versamellus in stand.”
So is dit, ja. Die
naweek gesels ek met iemand wat ook besig is om uit te gooi, te sorteer, in te
pak, te besluit wat moet saam na ‘n volgende – en ook kleiner – woonplek.
En soos ons
verblyftyd in die kasteel begin uitloop, weet ek ook die tyd van besluit oor
goetertjies lê en loer vir my. Genadiglik is dit hierdie keer eenvoudiger.
Tydens ‘n kuier in
Knysna, stap ons in by Timber Village. ‘n Plek waar elke houtliefhebber ‘n draai
moet gaan maak. En daar raak manlief toe weer bewus van die houtwerk gereedskap
waarvan ontslae geraak is met ons vorige oppak. Dit was so ‘n groot basis
waarop stokou skawe, beitels, ens op gemonteer is. En toe word dit saam met ‘n
klomp ander goed aan die eienaar van ‘n oudhedewinkel verkwansel. So met die
wegry tussen die woude, neem ek my voor om terug te gaan na die oudhedewinkel
en die besigheid terug te koop – ek is redelik seker niemand sou dit intussen
kom koop het nie – en dit met ‘n fanfare aan manlief terug te besorg. Dis
immers ‘n versugting van hom.
Genadiglik noem ek my voorneme aan hom in ‘n
oomblik van ontboeseming. En terwyl hy so sy verbasing uitsug, vra ek: “Nou
waar het jou pa dit in sy werkswinkel gehad?” Waarop die antwoord kom: “Nee,
dit was nie my pa s’n nie! Ek het dit by ‘n tannie gekry wat huis opgegee het
toe haar man dood is.”
En nee, die oudheid
word nie teruggekoop nie. Manlief meen hy kan daarsonder. Dit was immers nie
onse oupa s’n nie.
No comments:
Post a Comment