Eiesoortigheid
Die woordeboek
vertaal “eiesoortigheid” as “peculiar character”.
Soos dikwels, is dit seker nou maar weer so dat ek my eie betekenis aan
woord(e) gee. En nee, daarmee sê ek nie dat dit reg is as ek dit doen nie!
So dink ek aan
eiesoortigheid bv as unieke dingetjies wat elke vriendin spesiaal maak. Nie peculiar nie. Want peculiar klink so effe “af”. Koddig. Vreemd. En my vrinne is nie
vreemd of koddig of af nie. Elkeen baie spesiaal. Uniek.
Een is so preuts
dat my skoonma in haar skik sou wees dat ek haar as vriendin het; die ander so
hygend dat dit mens van plesier kan laat bloos. Een so presies en korrek dat
skoonma haar beslis as skoondogter sou kies; die ander so impulsief en
onortodoks dat ek elke keer heerlik daarmee kan identifiseer! Een bang vir
motor bestuur terwyl ‘n ander dapper die langpad op haar eie aandurf. Vir een
van my vriendinne sal mens nooit as te nimmer in ‘n knapse kledingstukkie sien
nie; die ander laat my soms wonder of sy ooit ‘n onderkleertjie besit! Moenie
ongenooid by die een se deur aanklop nie, maar stap enige tyd van die dag of
nag in by die ander een – en by elkeen, weet ek, is ek ewe welkom. By een sal
ek ‘n “proe-bietjie-hier” aan ‘n nuwe resep vir aandete kry, die ander is hoog
in die benoudheid as sy ‘n toebroodjie moet maak.
So verskil my
vrinne.
En so skep elkeen
van hulle ‘n spesiale plek in my hart en in my lewe. Die mense wat vir my omgee
en my aanvaar vir wie ek is. Met my krommigheid en kreukels. Met my fiemies en
my flaters.
Maar dat hulle peculiar characters is, is nooit as te
nimmer waar!
No comments:
Post a Comment