Die mooi hier naby
So dikwels droom
ons oor ver plekke. Reise na ander lande.
En dan mis ons so
maklik die mooi wat hier naby ons is.
‘n Vriendin van
baie jare kom kuier vir ‘n naweek in die Kaap. Sy was omtrent veertig jaar laas
in Die Tuine. Ons sorg vir gemaklike skoene vir die stap deur die strate van
onse mooie stad. Op pad daarheen stap ek met haar teen St George’s Katedraal se
trappies op. Links van die ingangsdeur is daar ‘n kennisgewing aangebring – dit
verwelkom ieder en elk na binne. Nogal iets om weer en weer te lees.
En weereens tref
die herbergsaamheid van die katedraal my. Die veiligheid wat mens aanvoel as jy
binnestap. Die grootsheid. Die vakmanskap. En tog op ‘n vreemde manier voel dit
eenvoudig en onopgesmuk. Rustig en kalm.
Na ‘n bietjie
stilraak, stap ons verder.
Die eekhorings het
ons nie teleurgestel nie. En die Kaapse weer was soos net ‘n perfekte herfsdag kan
wees – liggaamstemperatuur sonder ‘n takkie wat roer. Ten spyte van die erge
droogte, is die plante groen en die bome ‘n sambreel van koelte.
Moenie verbykyk by
die mooi hier naby jou nie. Geniet die reis as jy dit op ver plekke kan doen, maar
probeer om ook naby jou die skatte te ontdek.
No comments:
Post a Comment