Op aandag!
In ons skooldae
was die kadette nogal ‘n saak. Vir die meisies om ander redes as vir die seuns.
Dalk het die meisies net so ‘n effe meer daarvan gehou as die seuns….. Om te
kyk! Mmmm, die steekbaardseuntjies wat so verbymarsjeer. En ons beskou hulle
van die pawiljoen af…. En o, so onskuldig was ons! En dan was daar ook die
kadet orkes wat die maat moes aangee….
In daai dae was
dit ongehoord om eens daaraan te dink dat ‘n meisie dalk ‘n kadet sou wees!
Maar om op aandag
te staan as die bevel gegee word, is nie die enigste tipe aandag nie. Die “sagter”
soort aandag is dalk die een wat elkeen van ons na hunker. Wie hou nie daarvan
om ‘n storie te vertel en daar word met aandag geluister nie? Wie hou nie
daarvan om moeite te doen met jou voorkoms en jy kry ‘n kompliment omdat iemand
met aandag jou opgemerk het nie?
Net so lekker soos
dit is om gesonde aandag te geniet, net so irriterend is dit as iemand om
verkeerde redes probeer aandag trek. En die beste raad is sekerlik om so iemand
te ignoreer. Nie altyd maklik nie, maar dit werk beslis.
My wyse jong
vriendin is ‘n skooljuffer duisend. Elke kind wat in haar klaskamer instap, word
regverdig en met respek behandel. Die enetjie wat nie die beste sportheld is
nie of nie die hoogste punte in die Wiskundeklas kry nie, kry geleentheid in
die kunsklas om ook raakgesien te word. Daar waar die kreatiwiteit nie
beoordeel word met “wat ons behoort te doen” nie, maar dit wat ons uniek maak.
By haar blom elke onderstebo-kop kindjie tot ‘n blommetjie wat gesiggie na die
son draai en self straal. Dis wat gesonde aandag aan mens doen.
No comments:
Post a Comment