Thursday 8 June 2017

Hoe groen is jy?

En nou sien ons daarna uit om te aanskou hoe die plante hier om ons skielik ‘n ekstra hupstootjie kry na die lieflike reёns! Groen is die kleur waarna ons uitsien! Dis nie verniet dat die navorsers meen dat ons ontspanne voel wanneer ons groen tuine en heuwels sien nie.

Die afgelope week of wat het Tafelberg begin groen skynsel wys op dele wat vroeg in die jaar so verbrand het. Die natuur kommunikeer met ons deur middel van kleur. Die groen plante wys teenwoordigheid van chlorofil en dis nie alles te danke aan jou “groen vingers” nie. As jou plante nie groen is nie, vertel hulle eintlik vir jou in hul eie taal dat bietjie water nodig is of dat dit nie nou die groei-seisoen is nie. En “die Groenes” sal vinnig vir jou reghelp as jy nie luister na wat die natuur vir jou vertel nie.

Groen simboliseer balans en word onder andere geassosieer met groei, voorspoed, integriteit, harmonie, vryheid en verandering. Dalk is dit nou die tyd om ietsie groens in jou binnehuisversiering in te werk?

En ai, is die spelers op Roland Garos hierdie jaar nie groen nie! Sal nou nie sê hulle lyk vir my besonder mooi hierdie jaar nie. Of is dit omdat ek “groen” is van jaloesie?
Hier onder in die straat is dit vandag weer ‘n aardige bedrywigheid na gister se storm wat meeste mense binnenshuis laat bly het. Nou is die padgebruikers – te voet of in die voertuie – weer glad te ongeduldig om te wag tot die lig groen oorslaan!

Tyd dat ek kyk hoe die tierende stormwind die arme plante op ons balkon rondgeruk het. Gelukkig het manlief groen vingers om hulle weer op te help.


Ek is maar ‘n groentjie as dit kom by tuinmaak in potte en houers, maar ek sien so daarna uit om eendag groente en kruie in ons eie tuin te pluk!


No comments: