Thursday 29 June 2017

Koffie teen die koue

Dis ‘n ysige windjie wat buite roer. Die weervoorspelling se maksimum 17⁰ gaan nie vandag hier rondom onse kasteel gehaal word nie!

Donderdae is biltongdag. So het sake verander – eers was dit altyd biltongdag wanneer dit rugbytyd was. Nou is dit biltongdag op Donderdae wanneer die lieflike vars produkte mark hier op in die wandellaan gehou word. En manlief meen ek moet my lus hou tot Saterdag. Maar ai, dis moeilik as daai sakkie met die spoortjies op so vir my loer…. So nou en dan maak ek net so ‘n proeseltjie om seker te wees. Kwaliteitskontrole…

Vandag word ek bederf met manlief se geselskap saam met ‘n stomende koppie skuimkoffie by Doppio Zero waar die markie gehou word. Ons koop vir ons elkeen ‘n heerlike quiche en vlug binnetoe om weg te kom uit die koue. Danny, die restaurant eienaar, kom knoop ‘n geselsie aan. Ons vra uit oor die sopkombuis op Dinsdagaande. Vroeёr het ons gaan help, maar daar was so baie jong vrywilligers, dat ons besluit het dis hulle beurt. Maar Danny nooi ons om weer te kom kyk – die getalle het van so net duskant 100 gegroei na so 250 per aand. Sjoe, dis koud. En as mens honger is, sekerlik nog kouer. Soos my pa altyd opgemerk het: “Julle weet wat dit is om lus te wees vir kos, maar julle weet nie wat dit is om honger te wees nie.”

So terloops – ek het al so baie gewonder oor die vreemde naam vir ‘n restaurant. Danny verduidelik The Doppio Zero definition: Double Zero (00) is a grading of the finest milled flour used to make pizza, pasta and confectionery. We use "Farina 00" to make our famous gourmet pizzas.

(Doppio = dubbel en die 00 is die gradering van die meel. Dubbel fyn.)

Nou ja, ons sal moet teruggaan. Om Doppio Zero op ‘n Dinsdag te help ondersteun met hul hoogs suksesvolle sopkombuis. En op ‘n ander dag om te gaan proe hoe smaak hul pizzas wat met die spesiale meel gemaak word. Hoe bevoorreg is ek!

No comments: