Tuesday 20 June 2017

‘n Lang arm

“Die lang arm van die gereg” is skynbaar nie iewers opgeteken as ‘n idiomatiese uitdrukking nie. Maar dalk is dit omdat die arm nie so lank is nie? Dalk gekrimp? Of dalk is dit maar net ‘n sêding wat ek iewers in my gedagtes gebêre het vir ingeval ek veiliger wou voel… omdat die gereg daar behoort te wees vir beskerming?

Deesdae is dit meer ‘n geval van: Hoe lank is jóú arm?
Is jou arm lank genoeg om ‘n selfie te kan neem?

Die kere wat ek probeer het, het ek vinnig kombuis toe gevlug om trooskos te soek. Die skok was net te groot! En as mens nog jou naby-kyk brilletjie op het om beter te kan sien, my kind, is die skok nog groter! Heeltemal verwronge is die beeld. Dis tog sekerlik nie soos ek regtig lyk nie? O, die ydelheid!

Blykbaar is my kinders se arms langer. Hulle kan daai ding doen.

Maar nee, dankie. Ek het nie behoefte aan selfies nie. Ek sal dus nie my arm(s) laat langer maak nie!


Dit laat my dink: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Dalk sal dit in die hedendaagse idioom deur sommige verstaan word as: “Jy moet jou naaste liefhê soos jou selfie”.


No comments: