So leer ons mekaar ken
Verlede week stap ons
een laatmiddag op soek na ‘n sonnetjie. Kronkel-kronkel word die stappie al
langer en ons onthou dat ons nog by ‘n apteek moet inglip voor toemaaktyd.
Met die afstap in
St George’s Mall, vang my oog ‘n vrou wat plat op die grond sit. Die manier
waarop sy sit, lyk of daar iewers ‘n foutjie is. Ons stap nader en hurk by haar
om te hoor of ons kan help. Dis ‘n Franse dokter – in Kaapstad vir ‘n
konferensie – wat geval het. Sy is bang om op te staan, want sy het op haar
knie geval en sy weet nie wat die skade is nie. Sy hou haar slanke handjie vas
– lekker blou gekneus. Moes nogal ‘n harde slag gewees het!
So tussen ons help
ons haar op. Haar Engels is goed en ons weet waar sy tuisgaan. Sy was op pad
winkel toe om vir haar sokkies te koop. Vergeet om sokkies in te pak en die
Kaapse koue kou haar. Maar o wee, sy is ver verby die plek waar sy moes sokkies
koop!
Langs haar lê ‘n
pakkie wat sy gekoop het. Dis Afrika-ornamente. Sy noem dat sy ‘n liefde het
vir die goeters en dit in haar huis ophang. Ek dra die pakkie vir haar en
tussen my en manlief stuur ons haar af in die laan in die rigting van die hotel
waar sy tuisgaan. Ons stap by Woolworths in om vir haar sokkies te koop. Sy is
dankbaar dat ons haar help en vra papier dat sy haar kontakdetail vir ons kan
neerskryf. Indien ons in Frankryk is, moet ons haar sekerlik kontak.
Met die rustige
stap verder, vra ons uit oor haar konferensie. Sy is ‘n spesialis op die gebied
van cholera, bilharzia, besmette water en al die uitdagings wat daarmee gepaard
gaan. Sy werk dikwels in Afrika, maar dis haar eerste besoek aan Kaapstad. Mooi
en interessante vrou.
Maar ek wil so
graag vir haar sê sy moet maar daai ongemaklike “clogs” verruil vir ordentlike skoene!
Teen dié tyd is
dit lekker donker en ons is dankbaar dat ons haar veilig tot in die voorportaal
van haar hotel kon vergesel.
Nou wonder ek
wanneer ons vir haar gaan kuier…..?!
No comments:
Post a Comment