Friday 30 June 2017

Heerlike herinneringe

Aanvanklik het ek gedink om die opskrif hierbo “Nostalgie” te noem. En toe wonder ek oor die woord. Toe doen ek wat my ma my altyd geleer het: “Gaan kyk in die Woordeboek!” Nou ja, synde ‘n moderne meisie te wees, het ek dit via die Universiteit van Google gaan naspeur. En hier is die nare werklikheid: As jy dalk wonder wat nostalgie beteken, dit is ‘n samestelling van twee Griekse woorde: “nostos” en “algos”. Die eerste woord beteken om huiswaarts te keer en die tweede een beteken pyn. Nostalgie beteken dus die hartseer of pyn wat jy ervaar as jy in jou herinneringe na die verlede terugkeer.

So innig bly ek het gaan kyk wat die woord beteken, want “nostalgies” is dit waarmee ek vandag besig is, geensins! Dis absoluut pure vreugde en plesier om deur ons foto-albums te werk!

Soos baie weet, het ek myself voorgeneem dat ek nie weer met al ons foto-albums trek nie. ‘n Lekker werkie (understatement of the year!) wat op ‘n reёndag gedoen moet word. En voorwaar, hier sous dit toe nou vanoggend tog te lekker! En ek pak die taak met ywer. Nou wel nie voor ‘n kaggelvuur nie, maar die mooi musiek en die gasverwarmertjie bring hul kant!

Die lekkerte om al die kosbare oomblikke weer te beleef! Kan nie wag dat manlief saam met sy middagkoffie kan “mmmm” en “aaah” nie! Seker daarvan hy gaan so hier en daar ‘n traantjie pink…. Nie oor hartseer nie, maar oor groot dankbaarheid.

Wel, ek is nie halfpad met die werk nie, maar die begin was soet! Ek sien kans vir vorentoe beur! Om 10 albums se foto’s te verminder om in een album te pas, is ‘n uitdaging soos min!


Maar eers is hier ‘n naweek wat geniet moet word! 

No comments: