Wednesday 21 June 2017

Perspektiewe

Vanoggend by ‘n bejaarde dame se begrafnis, noem die Reverend weer die absolute vreemdsoortige waarheid. Christene gaan nie dood nie. Ons leef voort, want die dood is reed oorwin. Van een lewe na ‘n volgende.

En tog bly dit ‘n hartseer saak om afskeid te neem van iemand vir wie jy so innig lief was. Maar tog is daar soveel troos in die kosbare herinneringe. En ek kan die kleindogter troos met die wete dat sy haar ouma se sjarme en elegansie voortdra.

Ek sit in die kerkbank skuins agter ‘n groep van haar vriendinne. Almal silwer. En dink aan die wysheid wat tussen hulle opgesluit is.

Wysheid. Dis eintlik al waarvoor ek bid. En vir seker nie die soort wat erepennings en eredoktorsgrade bring nie. As ek wysheid het ……


Ek stuur met die uitstap, na afloop van die teedrink, vir manlief ‘n boodskap: “Vanmiddag na werk gaan vier ons die lewe.” Hy verstaan wat ek probeer sê. Hy is ‘n wyse man.  

No comments: