Monday 12 June 2017

Dankbaarheid

Vrydag laatmiddag trek ons warm baadjies en stapskoene aan, sit ons wolmussies op en vat die pad Giovanni’s Deli toe in Groenpunt. So ‘n halfuur se stap van ons af.

Ons bederf onsself met papierdun skyfies prosciutto, salami – noukeurig afgetel na elk se smaak – en sagte bocconcini kaasballetjies. Die groot verskeidenheid slaaie en bykosse word noukeurig bestudeer. Elkeen kies een dis en ‘n vars broodjie. Op pad terug koop ons groen blare waarsonder ek nie kan bestaan nie en besluit om ons nie verder te laat verlei nie.

Tuis is ek soos ‘n kind wat nie kan wag om geskenke oop te maak nie! Daar is min dinge wat by goeie gehalte kos kom – soos my pa ook altyd gereken het. Soos wat Herman Lensing en vele ander kokke aan wie ek my steur, gereeld benadruk. Goeie kwaliteit produkte het geen tierlantyntjies nodig nie.

Met dankbaarheid was ons tafelgebed:

Dankie, Vader, dat ons so lekker kon stap.
Dankie dat ons sulke lekker kos kon koop.
Dankie dat ons nou warm en veilig in ons kasteel kan wees.
Dankie dat ons dit met mekaar kan deel.
AMEN

No comments: