Tuesday 4 July 2017

Die rooipen

Gister staan ek in die ry by ‘n DStv winkel hier om die draai. Om die verveling hok te slaan, begin ek lees aan elke stukkie advertensie wat binne sig is.

Dis beslis nie ‘n Engelssprekende persoon wat DStv se advertensie in hul winkel geskryf of vertaal het nie! Nie spelfoute nie (dis nou as mens “u” met “you” as korrek kan laat deurgaan), maar sommer net so ‘n deurmekaarspul dat mens wonder wat die boodskap is. Eerste persoon is skielik derde persoon en iewers in die stuk verloor hulle my totaal en al.

En dan besef ek net weer dat ek maar voor my eie deurtjie moet begin vee…. So met die blog skrywery glip daar voortdurend lettertjies deur wat op verkeerde plek inspring. En ek tel dit beslis nie sommerso op nie! Soms is ek net te haastig, te lui of te onoplettend!

Om gedagtes vas te pen en deur my vingers te laat glip, is vir my ‘n groot lekkerte! En lekker van dit wat ek hier doen, is dat ek nie eens weet wie dit lees of nie lees nie! So nou en dan kry ek ‘n boodskap wat verklap dat iemand lees. En dan moet ek keer dat dit nie ‘n invloed het op wat ek skryf nie!

Maar dit laat my ook weer besef hoe lekker dit is om te blog. Geen Mnr Van Zyl met sy rooipen wat kruisies maak of pyltjies trek oor watter werkwoord liewer waar moes pas nie! En selfs niemand wat vir my kan vertel dat rooipen dalk rooi pen moet wees nie! Want, nadat ek daaroor gedink het, het ek wel spesifiek besluit hierdie keer moet dit rooipen wees. Want sien, die onderwyser het nie sommer met enige pen met rooi ink in gemerk nie. Nee, die meneer se rooipen was ‘n gedugte wapen!

Jy mag maar verskil met my taalgebruik en manier van doen. Ongelukkig gaan ek dit nie noodwendig weet nie! Indien jy my graag wil reghelp, sal ek dit verwelkom! Maar geen meneer of juffrou met ‘n rooipen nie, dankie! Dis so heerlik bevrydend!


Die hele storie van opstel skryf laat my dink aan my skooldae – ‘n maatjie het ‘n “algemene” opstel uit haar kop uit geleer en dit dan aangepas by die tema wat in die vraestel gevra is. Hoe oorspronklik kan dit dan wees!!?? En die ergste van alles vir my was dat die onderwysers dit nooit agtergekom het nie. 

No comments: