Oor die naweek sit ons knus in ‘n straatkafeetjie en eet
heerlike sop en broodjies. Wat ‘n lekker bederf! En ons gesels oor alles en nog
wat.
En ons geniet die weird
& wonderful wat hier om ons rondhang en rondloop. Verstom dat meeste
Afrikaanssprekend is. En so met elke een wat meer uitheems en boheems (is daar
verskil?) lyk, wonder ek hardop wat hul ouers dink van hul kinders se styl.
Baie koddig! Ek vra vir manlief: “Wat dink jy sal die pa sê as dogter met daai
een (wat sy so onder haar jas toevou) met die dreadlocks by die huis aankom?” En sonder huiwering antwoord
manlief: “Welkom hier by ons huis!” Uitgevang! Jou dogter is klaar getroud! Te
maklik geantwoord!
Natuurlik is die uiterlike nie belangriker as die innerlike
nie! En natuurlik sal ek lief bly vir my kinders – maak nie saak hoe hulle lyk
of aantrek nie!
Maar ai, sekerlik nie altyd maklik vir diegene wat in stywe
rigiede boksies leef nie! Maar so allerheerlik vir my om te weet onse
Afrikanervolkie het ook uit ons kakiekleertjies uitgeklim en ons Voortrekkerkappies
losgewikkel. Wel, sommige van ons!
Vanoggend lees ek dié wysheid raak.
“If you want
to know what a man’s like, take a good look at how he treats his inferiors, not
his equals.” Sirius Black
En toe is dit ook baie makliker gesê as gedaan, want Sirius
Black is nie ‘n man van vlees en bloed nie. Dis een van Rowling se karakters in
haar Harry Potter reeks. Maar dis tog iets om oor na te dink en na te streef.
Want, soos ek weet, gaan dit oor optrede en vir seker nie voorkoms nie.
Maar o, so dankbaar dat die manne in my lewe die ene verstaan. En leef.
No comments:
Post a Comment