Friday 28 July 2017

Opslaantyd

Vanoggend staan ek met my koppietjie oggendkoffie op die balkon. Die dag het al sy gang gekry. ‘n Besonder warm wintersdag.

Die manne met hul negosiegoedjies is besig om rond te beweeg – kronkelend tussen die voetgangers en motors deur. Hulle stuur besonder behendig daai swaargelaaide kontrepsies van hulle. Ek kan net dink hoeveel skade dit aan ‘n voertuig kan maak as die man beheer oor daai besigheid verloor! Want dis baie, baie swaar en die staalpenne steek alkant ver verby. Dis ‘n aardigheid om te sien hoe netjies hulle elke liewe stukkie plankie en produk na ‘n dag se werk pak en stewig vasmaak – die plankie en produk ewe kosbaar en belangrik om hul dagtaak te verrig. Dit was nogal vir ons ‘n belewenis om te sien hoe en waar al daai trollietjies saans hier in die stad rond op spesiale plekke gestoor word. En wie die “base” is wat kom geld insamel en boeke opmaak as dit huis toe gaan tyd raak.  

Op so ‘n twee vierkante meter afgemerkte plaveisel tussen ‘n groot winkel en ‘n nog groter hotel, is ‘n ander man wat parfuum verkoop, besig om sy waentjie staan te maak. Hy is duidelik in ‘n hoёr inkomsteklas as ek sy toerusting so van ver af beskou. Eers word die raamwerk opgeslaan, ‘n gerieflike stoel oopgeklap. En dan kom sy handlanger aangestap om te help om die plastiekbedekking te help oortrek. Sykante word stewig vasgemaak, die opvoutafel word oopgemaak, ware uitgestal en siedaar! Reg vir die dag se handel.

Ek wonder so by myself of dié man dalk ‘n kampeerder in sy hart is. Sy vrou dalk nie? Laatmiddag vou hy weer alles netjies op, pak in en gaan huis toe na ‘n dag se werk. Hy, tevrede na die uitkampering, sy vrou bly om hom weer te sien! En môreoggend is hy opgewonde om weer te gaan uitkamp vir die dag. Ek sien nooit veel klandisie by sy hiper-netjiese stalletjie nie, maar hy is elke dag op sy pos.


Om elke dag so winkel op te slaan en uit te stal – net om laatmiddag weer elke dingetjie netjies op te vou en in te pak – dit bly harde werk. Hiervoor moet mens sekerlik deursettingsvermoё hê! Ek het respek vir iemand wat kans sien vir so ‘n bestaan en om nie maar net rond te staan en hand uit te steek vir ‘n pasella nie. Kyk bietjie met nuwe oё as jy weer by die informele verkopers verbystap. Sommige is puik entrepreneurs. 

No comments: