Tuesday 25 July 2017

Gesondheid

Hierdie jaar se goggas maak die mense diep siek. Van heinde en ver hoor ons van erge koors, bronchitis, verkoue wat net nie wil wyk. Papsiek in die bed vir ‘n week of wat – dis nou as die werksopset dit toelaat. Anders is dit maar warm aantrek, mus en serp, ekstra sneesdoekies in die sak, werk toe!

Rooibostee met ‘n skeutjie heuning, ‘n stukkie vars gemmer, ‘n skyfie suurlemoen. Lyk my dit het die brandewyn en heuning - voor slapenstyd vir die bors - vervang? Of dalk nie? Dalk moet mens sommer dit ook wegslaan vir ‘n rustige slapie?

My spesiale beker (geskenk van dogter vir Moedersdag iewers in die verre verlede toe Room Service nog deel van my bestaan was) staan altyd gereed. Die gedagte aan die gewer maak dit sommer nog meer spesiaal om daaruit te drink. Dan verbeel ek my sommer sy sit hier neffens my om saam ‘n koppietjie te geniet.

‘n Vriendin dra eksotiese tee aan. ‘n Ander houertjie op my kombuiskas het heerlike kombinasies van smake wat uit Duitsland aangestuur is. Elkeen spesiaal, maar onse eie rooibos bly darem maar ‘n staatmaker. Vanoggend se koerantbylae beaam net die saak.

So van my spesiale beker gepraat. Eendag sit ek en ‘n gas (wat ‘n sielsvriendin geraak het) diep sake en gesels. Ernstige goed waaroor mens so half wil frons. Skielik bars sy uit van die lag! Ek is half verbaas-verstom: dis niks om oor te lag nie! Dis diep dinge! Maar sy lag nie vir dit waaroor ons gesels nie. Haar oog het skielik die prentjie op my beker gevang….

Tyd om die ketel aan te skakel! Dankie, sus, dat jy gereeld my dag opvrolik! Ek verlang daarna om 'n rooibossie met jou te deel!

No comments: