Hunkeringe
Ek onthou so goed
my ouma se kombuis. Op die plaas was daar soms ‘n bakkie kaiings op die stoof.
Vir kaiingkoekies. En soms het ouma koekiedeeg aangemaak waarmee heerlik gespeel is voor dit in
die koolstoof gebak is. Gemmerbroodmannetjies! (Weer daai ding van –mannetjies!
Nou wat van die vroutjies? Daai dae was daar nog nie so ‘n woord soos “seksisties”
nie.)
Stoele is
nadergetrek om naby aan die stoof se hitte te kom. Oupa met knipmes. En dalk
net ‘n boekie wat uit die biltong gekerf word?
Later jare, nadat
hulle van die plaas af dorp toe getrek het, het ouma ‘n AGA stoof gehad. Hoe sou
sy dit geniet om te weet dis deesdae weer hoogmode! En die koperpype om die
stoof is blink opgevryf. Selfs die vensterknippe en skarniere is gereeld blink
gepoets.
Oupa se tuin het
die heerlikste vars groente opgelewer. Met die surplus in die koelkamer of
pakkamer op die werf. En flessies en botteltjies ingemaak. Konfyt gekook.
Maar nee, ek
verlang nie na die ou dae nie. Ek verlang net na saamkuier. Na stories luister.
Sommer net warmte ervaar. Voor die stofie. In my hart.
No comments:
Post a Comment