Friday 30 June 2017

Heerlike herinneringe

Aanvanklik het ek gedink om die opskrif hierbo “Nostalgie” te noem. En toe wonder ek oor die woord. Toe doen ek wat my ma my altyd geleer het: “Gaan kyk in die Woordeboek!” Nou ja, synde ‘n moderne meisie te wees, het ek dit via die Universiteit van Google gaan naspeur. En hier is die nare werklikheid: As jy dalk wonder wat nostalgie beteken, dit is ‘n samestelling van twee Griekse woorde: “nostos” en “algos”. Die eerste woord beteken om huiswaarts te keer en die tweede een beteken pyn. Nostalgie beteken dus die hartseer of pyn wat jy ervaar as jy in jou herinneringe na die verlede terugkeer.

So innig bly ek het gaan kyk wat die woord beteken, want “nostalgies” is dit waarmee ek vandag besig is, geensins! Dis absoluut pure vreugde en plesier om deur ons foto-albums te werk!

Soos baie weet, het ek myself voorgeneem dat ek nie weer met al ons foto-albums trek nie. ‘n Lekker werkie (understatement of the year!) wat op ‘n reёndag gedoen moet word. En voorwaar, hier sous dit toe nou vanoggend tog te lekker! En ek pak die taak met ywer. Nou wel nie voor ‘n kaggelvuur nie, maar die mooi musiek en die gasverwarmertjie bring hul kant!

Die lekkerte om al die kosbare oomblikke weer te beleef! Kan nie wag dat manlief saam met sy middagkoffie kan “mmmm” en “aaah” nie! Seker daarvan hy gaan so hier en daar ‘n traantjie pink…. Nie oor hartseer nie, maar oor groot dankbaarheid.

Wel, ek is nie halfpad met die werk nie, maar die begin was soet! Ek sien kans vir vorentoe beur! Om 10 albums se foto’s te verminder om in een album te pas, is ‘n uitdaging soos min!


Maar eers is hier ‘n naweek wat geniet moet word! 

Thursday 29 June 2017

Koffie teen die koue

Dis ‘n ysige windjie wat buite roer. Die weervoorspelling se maksimum 17⁰ gaan nie vandag hier rondom onse kasteel gehaal word nie!

Donderdae is biltongdag. So het sake verander – eers was dit altyd biltongdag wanneer dit rugbytyd was. Nou is dit biltongdag op Donderdae wanneer die lieflike vars produkte mark hier op in die wandellaan gehou word. En manlief meen ek moet my lus hou tot Saterdag. Maar ai, dis moeilik as daai sakkie met die spoortjies op so vir my loer…. So nou en dan maak ek net so ‘n proeseltjie om seker te wees. Kwaliteitskontrole…

Vandag word ek bederf met manlief se geselskap saam met ‘n stomende koppie skuimkoffie by Doppio Zero waar die markie gehou word. Ons koop vir ons elkeen ‘n heerlike quiche en vlug binnetoe om weg te kom uit die koue. Danny, die restaurant eienaar, kom knoop ‘n geselsie aan. Ons vra uit oor die sopkombuis op Dinsdagaande. Vroeёr het ons gaan help, maar daar was so baie jong vrywilligers, dat ons besluit het dis hulle beurt. Maar Danny nooi ons om weer te kom kyk – die getalle het van so net duskant 100 gegroei na so 250 per aand. Sjoe, dis koud. En as mens honger is, sekerlik nog kouer. Soos my pa altyd opgemerk het: “Julle weet wat dit is om lus te wees vir kos, maar julle weet nie wat dit is om honger te wees nie.”

So terloops – ek het al so baie gewonder oor die vreemde naam vir ‘n restaurant. Danny verduidelik The Doppio Zero definition: Double Zero (00) is a grading of the finest milled flour used to make pizza, pasta and confectionery. We use "Farina 00" to make our famous gourmet pizzas.

(Doppio = dubbel en die 00 is die gradering van die meel. Dubbel fyn.)

Nou ja, ons sal moet teruggaan. Om Doppio Zero op ‘n Dinsdag te help ondersteun met hul hoogs suksesvolle sopkombuis. En op ‘n ander dag om te gaan proe hoe smaak hul pizzas wat met die spesiale meel gemaak word. Hoe bevoorreg is ek!

Wednesday 28 June 2017

Wat sien jy?

“Beauty is everywhere, but one may see the beautiful view and the other sees a dirty window. You have the power within you to choose what you see, what you think and what you paint.”

Bogenoemde is ‘n aanhaling van ene Leanne Cadden (an artist passionate about kids, art and nature).  Gaan kry gerus inspirasie op haar webtuiste. En nie dat ek van al haar kunswerke hou nie, maar dis mos glad nie waaroor dit gaan nie! Of juis – dis oor wat elkeen vir hom- of haarself besluit.

Gister stap ek en ‘n vriendin van Kloofstraat se kant af terug middestad toe. Natuurlik nadat die MyCiti bus ons daar afgelaai het en ons eers koffie gedrink het by ‘n vreemde hoekkafeetjie. Mens moet darem net weer ‘n slag opvang met al die nuutste nuus.

Met die terugstap stop ons teen ‘n steil afdraend by ‘n groot ou huis. Vriendin is bekend vir die fenomenale foto’s wat sy neem en sy wil eers een neem van die boom wat so geel verkleur het met die berg in die agtergrond. Al wat ek raaksien, is die telefoondrade wat hier in die gesigsveld hang. Ek vra ewe behulpsaam of ek die drade vir haar uit die pad uit kan trek!

Al wat ek raaksien, is die goeters wat die foto gaan bederf. En wat sy raaksien, is die pragtige foto wat sy toe neem en vir my aanstuur. (Baie dankie! Dis inspirasie!)


Van naderby sien ek die boom se blare. Ek pluk een om by die huis verder te bestudeer, maar o wee, verlep en geskeur kom die unieke blaartjie tuis uit my sak. Binne die volgende paar dae gaan ek weer na daai boom soek…. En kyk na die mooi sonder om die telefoondrade raak te sien! 

Tuesday 27 June 2017

Lank gelede se dinge

Toe surfboards nog ‘n vreemde verskynsel was en tienerseuns met langer hare vreemd beskou is, was ek ‘n tiener.

In die draai voor Roman Beach op Waenshuiskrans, is daar ‘n nuwerwetse huis gebou. Baie glas en groot vensters. ‘n Moderne huis soos ons nie geken het nie. Die Lemkusse se huis.

En o, was dit nou ‘n versoeking om daar verby te stap! Nie oor die huis nie, maar oor die songebrande surfer boys met hul hare wat deur die son verbleik is. Dit was ‘n anderste klomp. ‘n Kaapse klomp. Volksvreemd vir ons ou valetjies. En die meisies met hul klein bikini’tjies en mooi sonbruin lyfies en lang slierte hare wat deel was van die Engelse lot…… Hewige kompetisie!

Snaaks hoe mens perspektief kry so met die ouer word! Sal dit wysheid wees?


En snaaks hoe ek nou in presies dieselfde gebou woon as wat Jack Lemkus se winkel is! Ek wonder watter een van die seuns die eienaar / bestuurder is. Sal sekerlik nie meer dieselfde lyf (of aantrekkingskrag!) hê nie! Maar dalk surf hy nog!

Monday 26 June 2017

So leer ons mekaar ken

Verlede week stap ons een laatmiddag op soek na ‘n sonnetjie. Kronkel-kronkel word die stappie al langer en ons onthou dat ons nog by ‘n apteek moet inglip voor toemaaktyd.


Met die afstap in St George’s Mall, vang my oog ‘n vrou wat plat op die grond sit. Die manier waarop sy sit, lyk of daar iewers ‘n foutjie is. Ons stap nader en hurk by haar om te hoor of ons kan help. Dis ‘n Franse dokter – in Kaapstad vir ‘n konferensie – wat geval het. Sy is bang om op te staan, want sy het op haar knie geval en sy weet nie wat die skade is nie. Sy hou haar slanke handjie vas – lekker blou gekneus. Moes nogal ‘n harde slag gewees het!

So tussen ons help ons haar op. Haar Engels is goed en ons weet waar sy tuisgaan. Sy was op pad winkel toe om vir haar sokkies te koop. Vergeet om sokkies in te pak en die Kaapse koue kou haar. Maar o wee, sy is ver verby die plek waar sy moes sokkies koop!

Langs haar lê ‘n pakkie wat sy gekoop het. Dis Afrika-ornamente. Sy noem dat sy ‘n liefde het vir die goeters en dit in haar huis ophang. Ek dra die pakkie vir haar en tussen my en manlief stuur ons haar af in die laan in die rigting van die hotel waar sy tuisgaan. Ons stap by Woolworths in om vir haar sokkies te koop. Sy is dankbaar dat ons haar help en vra papier dat sy haar kontakdetail vir ons kan neerskryf. Indien ons in Frankryk is, moet ons haar sekerlik kontak.

Met die rustige stap verder, vra ons uit oor haar konferensie. Sy is ‘n spesialis op die gebied van cholera, bilharzia, besmette water en al die uitdagings wat daarmee gepaard gaan. Sy werk dikwels in Afrika, maar dis haar eerste besoek aan Kaapstad. Mooi en interessante vrou. 

Maar ek wil so graag vir haar sê sy moet maar daai ongemaklike “clogs” verruil vir ordentlike skoene!

Teen dié tyd is dit lekker donker en ons is dankbaar dat ons haar veilig tot in die voorportaal van haar hotel kon vergesel.


Nou wonder ek wanneer ons vir haar gaan kuier…..?!

Friday 23 June 2017

Behoeftigheid

Ek het ‘n groot behoefte. ‘n Ernstige een.

Om lekker te lag! Sommer net lag! So dat mens se maag daarvan pyn en die trane van plesierigheid spat!
In my jonger dae het ek ’n vriendin gehad wat haar kop agteroor kon gooi en onbevange kon lag! Net om vir haar te kyk, sonder om te weet waaroor sy lag, was aansteeklik genoeg om die res van die geselskap aan die lag te kry. Dalk moet ek haar gaan soek…!

Deesdae lag ek baie meer as in die verlede. Wat ‘n voorreg. Maar sjoe, hoekom lag ons nie nog meer nie? As ek hier om my rondkyk, is dit dikwels die mense wat swaarkry wat so heerlik kan lag.
Welcome to Laugh SA
We are South Africa's leading providers of Aerobic Laughter and Laughter Yoga services.
LaughSA offers Laughter Coaching and Laughter Therapy sessions, workshops and services anywhere in Africa.
Services we provide include:

http://www.laughsa.com/NEW-IMAGES/laughter-bullet.gif Laughter intro workshops
http://www.laughsa.com/NEW-IMAGES/laughter-bullet.gif Halfday, 1 and 2 day laughter workshops
http://www.laughsa.com/NEW-IMAGES/laughter-bullet.gif Private laughter coaching
http://www.laughsa.com/NEW-IMAGES/laughter-bullet.gif Icebreaker sessions for conferences, 
     workshops & seminars
http://www.laughsa.com/NEW-IMAGES/laughter-bullet.gif Corporate management & employee upgrade workshops
http://www.laughsa.com/NEW-IMAGES/laughter-bullet.gif Corporate wellness workshops
http://www.laughsa.com/NEW-IMAGES/laughter-bullet.gif Specialized laughter workshops for
Stress Management, Performance Enhancement, Students & Scholars, Team Building, Health Care & Healing, Hospitals, Hospice, Orphanages, Life Threatening Diseases, Schools, Government, Police, Prisons and more.
You'll find details of our standard laughter events, workshops and retreats on this site.
If you do not find an event that suits your requirements please contact us to discuss your laughter needs.

Hoe hartseer dat ons geleer moet word om te lag!

Mag jy binnekort so lekker lag dat die trane loop! Ek gaan beslis – dalk sommer so op my eie vanoggend vir myself?!

Thursday 22 June 2017

Wintervreugde

Dis werklik die eerste winter – en ek het al ‘n paar deurleef – waar mense nie kla wanneer dit reёn nie. 

Hier in die Kaap is ons intens bewus van water. Moes mos al lankal so wees, maar dis gewoonlik eers wanneer die wolf aan die deur klop, dat mens aandag gee aan watter verskil jou aandeel kan maak. Soos destyds met die elektrisiteits-debakel. Moes toe ook eers bietjie kragteloos gelaat word om te luister.

Deur die nag het ek geluister hoe die wind die watertjies naderwink. En voor ek weer aan die slaap kon raak, die wondersoete geluid van water wat drup-drup later ‘n dikker straaltjie word.

Andernag wonder ek toe so by myself: watter geluid maak water? Water op sigself het nie ‘n klank nie en ook nie ‘n kleur nie en ook nie ‘n vorm nie. Ook nie veronderstel om 'n reuk te he nie!


En toe ek namiddag hier by die venster uitloer, sak daar sowaar weer ‘n buitjie uit. Alte heerlik!

Wednesday 21 June 2017

Perspektiewe

Vanoggend by ‘n bejaarde dame se begrafnis, noem die Reverend weer die absolute vreemdsoortige waarheid. Christene gaan nie dood nie. Ons leef voort, want die dood is reed oorwin. Van een lewe na ‘n volgende.

En tog bly dit ‘n hartseer saak om afskeid te neem van iemand vir wie jy so innig lief was. Maar tog is daar soveel troos in die kosbare herinneringe. En ek kan die kleindogter troos met die wete dat sy haar ouma se sjarme en elegansie voortdra.

Ek sit in die kerkbank skuins agter ‘n groep van haar vriendinne. Almal silwer. En dink aan die wysheid wat tussen hulle opgesluit is.

Wysheid. Dis eintlik al waarvoor ek bid. En vir seker nie die soort wat erepennings en eredoktorsgrade bring nie. As ek wysheid het ……


Ek stuur met die uitstap, na afloop van die teedrink, vir manlief ‘n boodskap: “Vanmiddag na werk gaan vier ons die lewe.” Hy verstaan wat ek probeer sê. Hy is ‘n wyse man.  

Tuesday 20 June 2017

‘n Lang arm

“Die lang arm van die gereg” is skynbaar nie iewers opgeteken as ‘n idiomatiese uitdrukking nie. Maar dalk is dit omdat die arm nie so lank is nie? Dalk gekrimp? Of dalk is dit maar net ‘n sêding wat ek iewers in my gedagtes gebêre het vir ingeval ek veiliger wou voel… omdat die gereg daar behoort te wees vir beskerming?

Deesdae is dit meer ‘n geval van: Hoe lank is jóú arm?
Is jou arm lank genoeg om ‘n selfie te kan neem?

Die kere wat ek probeer het, het ek vinnig kombuis toe gevlug om trooskos te soek. Die skok was net te groot! En as mens nog jou naby-kyk brilletjie op het om beter te kan sien, my kind, is die skok nog groter! Heeltemal verwronge is die beeld. Dis tog sekerlik nie soos ek regtig lyk nie? O, die ydelheid!

Blykbaar is my kinders se arms langer. Hulle kan daai ding doen.

Maar nee, dankie. Ek het nie behoefte aan selfies nie. Ek sal dus nie my arm(s) laat langer maak nie!


Dit laat my dink: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Dalk sal dit in die hedendaagse idioom deur sommige verstaan word as: “Jy moet jou naaste liefhê soos jou selfie”.


Monday 19 June 2017

Is jou tenk vol?

Vanoggend is my tenk effe leeg. Seker die langnaweek wat te lekker was?!

Dis nogal belangrik om mens se tenk vol te maak met die regte “oktaan”. En nog belangriker dalk, is om te weet dat die tenk effe leeg is. Voor dit dolleeg is.

En o aarde, as jy die verkeerde goed in daai tenkie gooi, is dit groot moeilikheid. Vir jou voertuig en vir jou.

As mens deur Afrika toer, is dit noodsaaklik om te weet wat is wat. Skielik is gasoline iets anders. En petrol of petrolia en diesoline is ook nog daar om mens se kop deurmekaar te maak. Dan verkoop die locals daar ook iets in groot kanne. Kan mens glo wat daarin is, is werklik daarin?

Vandag moet ek myself met die regte energie laai.

Mmmm, slim keuses is nodig.

Wednesday 14 June 2017

As ‘n man kan

Daai liedjie van “Kan ‘n man dan nie, kan ‘n man dan nie…” is een ding. Maar as jy weet wat jy weet van ‘n man wat kan, dan is jy ‘n gelukkige meisie!

Vrydag is dit Jeugdag. Sondag is dit Vadersdag. Beslis tyd vir uithaal en wys.

Maar gelukkig weet ek wat ek weet, so hier op ons werf, hoef niemand hulself te bewys nie. (My pa sou immers gemompel het: "Dis net 'n spul geldmakery!")


Ek weet mos my man kan!


Tuesday 13 June 2017

Die verskrikking van vlamme en vuur

Twee maande gelede was ek bederf met ‘n onthou-vakansie in Knysna. Dit was my verjaardag en ons het twee nagte in die lieflike Elephant Hide bo-op die koppe bokant die vlei oornag.

Vanoggend praat ek met die eienaars. Hul plek het behoue gebly. Die landmerke rondom hulle waarvan sy my vertel, is uitgewis. Die eienaar en van die werkers het teruggegaan en kon hul eiendom red. Rondom is groot gasteplase en huise vernietig.



Timber Village, die interessante plek met die eeue-oue houtstompe en waardevolle stukke, is alles tot as verbrand. Tydens ons besoek aan hulle, het ons met die eienaar gesels en saam die reuk van hout waardeer en die kleur en grein van die verskillende houtsoorte beskou en bewonder. Sy liefde vir die hout was so opsigtelik. Sy hart sal stukkend wees….

Knysna sonder die woude? Ek kan my dit nie voorstel nie.


Monday 12 June 2017

Dankbaarheid

Vrydag laatmiddag trek ons warm baadjies en stapskoene aan, sit ons wolmussies op en vat die pad Giovanni’s Deli toe in Groenpunt. So ‘n halfuur se stap van ons af.

Ons bederf onsself met papierdun skyfies prosciutto, salami – noukeurig afgetel na elk se smaak – en sagte bocconcini kaasballetjies. Die groot verskeidenheid slaaie en bykosse word noukeurig bestudeer. Elkeen kies een dis en ‘n vars broodjie. Op pad terug koop ons groen blare waarsonder ek nie kan bestaan nie en besluit om ons nie verder te laat verlei nie.

Tuis is ek soos ‘n kind wat nie kan wag om geskenke oop te maak nie! Daar is min dinge wat by goeie gehalte kos kom – soos my pa ook altyd gereken het. Soos wat Herman Lensing en vele ander kokke aan wie ek my steur, gereeld benadruk. Goeie kwaliteit produkte het geen tierlantyntjies nodig nie.

Met dankbaarheid was ons tafelgebed:

Dankie, Vader, dat ons so lekker kon stap.
Dankie dat ons sulke lekker kos kon koop.
Dankie dat ons nou warm en veilig in ons kasteel kan wees.
Dankie dat ons dit met mekaar kan deel.
AMEN

Friday 9 June 2017

Skoongewas

Aan die einde van ‘n dokumentêre program op die tv weerkanaal, is die volgende opmerking:
NATURE DOES NOT NEED PEOPLE
PEOPLE NEED NATURE

Ware woorde wat ons die afgelope tyd net weereens self beleef het. En weer laat dink aan hoeveel skade ons as mense die natuur aandoen. Verwoes en verniel.

Die kykergetal het sekerlik die hoogte ingeskiet wat weerkanale betref. Ek dink nie ek het al ooit in my (lange) lewe soveel aandag gegee aan weerpatrone nie! En dis ook nou nie asof my oes afhang van die weer nie. My badwater wel.

Selfs die kasteel se skoonmaak vanoggend bewys dat daar soveel minder stof in die lug is. Die afgelope maande was dit opvallend hoeveel fyn swart poeierstof hier om ons is – en dit was beslis nie so ‘n jaar gelede nie. (Of dalk maak ek deesdae deegliker skoon? Ek twyfel!) Bouwerk in die omgewing veroorsaak sekerlik ook meer besoedeling. Maar dat die Kaap ‘n slag lekker skoongewas is, is ‘n feit!

Maar so van stof gepraat. Dis tyd dat ek vir my ‘n geurige koppie koffie gaan maak. Dis mos belangrike semi-finaal wedstryde wat vandag op Roland Garros gespeel word. My plek is bespreek en ek is gereed! Wat ‘n voorreg!

Thursday 8 June 2017

Hoe groen is jy?

En nou sien ons daarna uit om te aanskou hoe die plante hier om ons skielik ‘n ekstra hupstootjie kry na die lieflike reёns! Groen is die kleur waarna ons uitsien! Dis nie verniet dat die navorsers meen dat ons ontspanne voel wanneer ons groen tuine en heuwels sien nie.

Die afgelope week of wat het Tafelberg begin groen skynsel wys op dele wat vroeg in die jaar so verbrand het. Die natuur kommunikeer met ons deur middel van kleur. Die groen plante wys teenwoordigheid van chlorofil en dis nie alles te danke aan jou “groen vingers” nie. As jou plante nie groen is nie, vertel hulle eintlik vir jou in hul eie taal dat bietjie water nodig is of dat dit nie nou die groei-seisoen is nie. En “die Groenes” sal vinnig vir jou reghelp as jy nie luister na wat die natuur vir jou vertel nie.

Groen simboliseer balans en word onder andere geassosieer met groei, voorspoed, integriteit, harmonie, vryheid en verandering. Dalk is dit nou die tyd om ietsie groens in jou binnehuisversiering in te werk?

En ai, is die spelers op Roland Garos hierdie jaar nie groen nie! Sal nou nie sê hulle lyk vir my besonder mooi hierdie jaar nie. Of is dit omdat ek “groen” is van jaloesie?
Hier onder in die straat is dit vandag weer ‘n aardige bedrywigheid na gister se storm wat meeste mense binnenshuis laat bly het. Nou is die padgebruikers – te voet of in die voertuie – weer glad te ongeduldig om te wag tot die lig groen oorslaan!

Tyd dat ek kyk hoe die tierende stormwind die arme plante op ons balkon rondgeruk het. Gelukkig het manlief groen vingers om hulle weer op te help.


Ek is maar ‘n groentjie as dit kom by tuinmaak in potte en houers, maar ek sien so daarna uit om eendag groente en kruie in ons eie tuin te pluk!


Wednesday 7 June 2017

Reёn, reёn, lieflike reёn!

Die waters val! Die wind ruk en pluk aan die ruite.

Laasnag het dit op ‘n stadium geklink of die treinfluitjie blaas soos die wind hier om die hoeke gefluit het! Manlief het goeie raad gehad en nadat die vensters met maskeerband toegeplak is, was dit makliker om rustig verder te slaap.

Die stad is stil vandag. Die taxis het nie baie werk nie. Die skole is gesluit, die winkels het sekerlik ook net skeleton staff, want die wat kon, het vroegtydig hul koskaste volgepak. Almal kon sekerlik nie vanoggend betyds by die werk wees nie. En skielik is daar nie ‘n skool waar jy jou kind “veilig” kan laat vir die dag nie. Nie maklik nie.

‘n Paar harde donderslae wat kort op die weerlig gevolg het, het ons net weer laasnag herinner wie in beheer is.

Die foto’s wat die rondte doen, laat mens tog soms wonder watter werklik is en watter deur kreatiewe siele aanmekaar geklits is. Tegnologie het baie voordele, maar word ook tog soms vreemd misbruik.


En toe ek links kyk, is daar vir ‘n oomblik ‘n lieflike reёnboog voor Tafelberg. ‘n Regte, egte een. Nie deur mense geskep.


Tuesday 6 June 2017

In en uit die put

So lees ek van Jeremia wat in ‘n put gegooi word. En iemand wat hom ontferm oor die arme man. En toe staan dit verder so opgeteken in Die Boodskap: Hy het lappe uit die pakkamer gaan haal. Hy het ook ou klere daar gekry. Hy het hierdie lappe en ou klere na die put toe gevat en dit met ‘n tou na Jeremia toe laat afsak. Hy het na Jeremia geroep en gesê: “ Sit die lappe en ou klere onder jou arms sodat ons jou nie seermaak wanneer ons jou optrek nie”.

Met die lees, het ek ‘n versugting om ook ‘n ander uit ‘n put uit te help. Sonder om seer te maak. Al is ek net die lap of ou klere.


En besef toe net weer hoeveel mense daar is wat my uit die put uit help. Gereeld. Met liefde. Met deernis. Omdat hulle omgee.

Kosbaarder as korale.

Monday 5 June 2017

Die doolhof
‘n Labirint en doolhof is min of meer dieselfde ding. Labirint was die oorspronklike naam van die doolhof op die eiland Kreta. Dan is die labirint ook die groep halfsirkelvormige kanale in mens se oor. Maar daarby wil ons nie nou vashaak nie. Dis ‘n wonderwerk op sigself wat op ‘n ander dag beskou kan word.
Een doolhof of dwaaltuin is een stelsel van paden die langs omwegen naar het doel leiden.
In het Nederlands verwijst het zowel naar een complex vertakte puzzel met keuzes van pad en richting, als naar een labyrint met slechts één niet-vertakte baan naar het centrum.
So kan ek myself in ‘n doolhof van my eie emosies en gevoelens dompel! So onnodig! Veel makliker en eenvoudiger om net die oomblik te beleef, geniet en aan te beweeg na die volgende watookal.
Vanoggend is dit ‘n mallemeule in my kop. Voel behoorlik of ek in die wasmasjien vasgevang is. Tuimelend die kant toe, dan weer daai kant toe. Te min om my besig te hou! Mos nie verniet dat ons leer “ledigheid is die duiwel se oorkussing” nie! En vir die wat nie weet wat dit beteken nie: As mens niks te doen het nie, kom jy in allerlei versoekings. So is dit. Daarteen moet ek waak.
En dan haak ek weer vas by Ronell Bezuidenhout se boek waarin sy skryf hoe belangrik dit is om stil te raak. Om nie vas te haak by wat die wêreld van ons verwag nie: “Ons is veel meer as masjien….. Die verstand wil oplossings kry en aanbeweeg. … ons het die breinkrag…. Die siel vra stilte en versorging … kwaliteitstyd… Die besige mens jaag teen die horlosie, en as jy moeite doen om jou oor teen die klok te hou, hoor jy: rand, sent, rand, sent…. “
Dis nou in dié doolhof waarin ek my vanoggend weer bevind het.
Maar dankie tog! Daar is een pad na die middelpunt van die labirint! Ek kan nie verdwaal nie!!!

Friday 2 June 2017

Rus en vrede

Of jy nou die naweek die Comrades-ding doen of werk; trek na ‘n nuwe woonplek of die huis moet omdop om van al die stof ontslae te raak….

Geniet die naweek!

Mag jy iewers ‘n ruskansie oor die naweek inwerk. En ‘n vredigheidjie beleef.


Dis nie noodwendig iets wat iemand anders vir jou gaan besorg nie. Doen dit! Neem ‘n besluit en werk dit in jou naweekprogram in! Dis noodsaaklik! Jy sal sien – dit maak van jou sommer ‘n lekkerder mens om in die omte te hê!


Thursday 1 June 2017

Oops!

Het jy ook al ‘n Oops! gehad? Seker min, indien enige, mense wat nog nooit ‘n Oops!  gehad het nie!?

Ja, ek het ‘n selfoon met spatare.

Manlief begryp gelukkig die begrip “ongeluk” baie goed. En “glipsie” ook.

Toe die kinders klein was, het ek probeer bly by die redenasie dat enigeen ‘n glipsie kan kry. As mens per ongeluk iets breek, is dit verskoonbaar en dan ook sommer die regte geleentheid om te maan tot versigtig met ander se goed. Maar as jy ‘n paar keer waarsku: “Oppas, dit gaan breek!” en hulle wil nie hoor nie en veroorsaak wel dat die besigheid stukkend is, was daar siepsop en braaiboud! (Ek sou maar gesukkel het met deesdae se manier van straf….)

Maar om terug te kom tot die selfoon se spatare. Die dingetjie glip toe uit my hand uit en val karplaks skoon gesiggie na onder…. En toe ek die geliefde ou dingetjie optel, is daar oraloor spataartjies…..

Dit laat my dink aan lank gelede – hulle vra op tv vir ‘n jongman watter dinge aan ‘n vrou vir hom nie aanvaarbaar is nie. En die aanskoulike man antwoord: “Spatare en selluliet”. Onnosel. Weet hy toe nog nie op sy jeugdige ouderdom dat dit nie dinge is wat mens jouself aandoen nie…. As hy nou genoem het van ‘n meisie wat rook / nie rook nie (daai dae was daar nog nie tattoeёrwerke op die human bodyparts nie) of ‘n meisie wat nie goeie maniere het nie / aansitterig is…. Maar nee, Ta weet maar net nie sy ma se spatare is deels sy skuld en die selluliet gaan hy ook kry!


Dit was werklik nie met opset nie. Dis mos soos dit is. Spatare kry mens sonder dat jy wou.