Wednesday 31 May 2017

Droogtedenke

Daar is deesdae seker nie kuiertye waar iemand een of ander tyd ‘n opmerking maak oor die water – of dan die gebrek daaraan – hier in ons midde nie.


Die winkels wat plastiekware verkoop, kry uiteindelik ook weer kans om voor in die ry te kom. Ieder en elk soek ‘n groterige skottel waarin mens in die stort kan staan. Ek kan myself nogal die eierdansies indink wat soms in daai skotteltjies plaasvind! En manne se verontwaardigheid as hulle die eerste keer daai skottel moet betree.

‘n Deftige dame merk anderdag op dat sy nooit, maar nooit gedink het sy sou haar skottelgoed in ‘n kommetjie in haar wasbak was nie! En siedaar – dis toe glad nie so erg nie en spaar ‘n verstommende hoeveelheid water!

Baie moeite word gedoen om water emmertjie-vir-emmertjie te spaar en uit te dra na die smagtende plante – die wat nog oorgebly het. En skielik het ons almal ‘n ingesteldheid oor inheems tuinmaak. Die natuur leer ons wat ons behoort te plant en wat nie. Ons moes al lankal geluister het!

Maar die duisende toeriste wat onse mooie stad se are laat pols, help nie veel om water te spaar nie….

Vanoggend herinner Jeremia my: “Julle spog tog so graag met julle vrugbare valleie.” Ja, doen ons nie! Die heuwels wat voorheen vaal was na oestyd, is deesdae golwende groen wingerede. En spog ons nie daarmee nie! En aan wie het ons die vrugbare valleie te danke? Beslis nie onsself nie! En vrugbare valleie sonder wonderskone water is ook nie veel werd nie. (Die wynlandgoedere wat nie besproei nie, is voortreflik! Ek ondersteun hulle graag!)


Dit alles laat ons net weer in nederigheid ons absolute afhanklikheid bely.

Tuesday 30 May 2017

Eiesoortigheid

Die woordeboek vertaal “eiesoortigheid” as “peculiar character”. Soos dikwels, is dit seker nou maar weer so dat ek my eie betekenis aan woord(e) gee. En nee, daarmee sê ek nie dat dit reg is as ek dit doen nie!

So dink ek aan eiesoortigheid bv as unieke dingetjies wat elke vriendin spesiaal maak. Nie peculiar nie. Want peculiar klink so effe “af”. Koddig. Vreemd. En my vrinne is nie vreemd of koddig of af nie. Elkeen baie spesiaal. Uniek.

Een is so preuts dat my skoonma in haar skik sou wees dat ek haar as vriendin het; die ander so hygend dat dit mens van plesier kan laat bloos. Een so presies en korrek dat skoonma haar beslis as skoondogter sou kies; die ander so impulsief en onortodoks dat ek elke keer heerlik daarmee kan identifiseer! Een bang vir motor bestuur terwyl ‘n ander dapper die langpad op haar eie aandurf. Vir een van my vriendinne sal mens nooit as te nimmer in ‘n knapse kledingstukkie sien nie; die ander laat my soms wonder of sy ooit ‘n onderkleertjie besit! Moenie ongenooid by die een se deur aanklop nie, maar stap enige tyd van die dag of nag in by die ander een – en by elkeen, weet ek, is ek ewe welkom. By een sal ek ‘n “proe-bietjie-hier” aan ‘n nuwe resep vir aandete kry, die ander is hoog in die benoudheid as sy ‘n toebroodjie moet maak.

So verskil my vrinne.

En so skep elkeen van hulle ‘n spesiale plek in my hart en in my lewe. Die mense wat vir my omgee en my aanvaar vir wie ek is. Met my krommigheid en kreukels. Met my fiemies en my flaters.
Maar dat hulle peculiar characters is, is nooit as te nimmer waar!

Monday 29 May 2017

Bymekaarmaaksels

Onlangs lees ek: “Ons weet dat niks wat ons op hierdie aarde bymekaarmaak ons na die volgende lewe (waar dit ook al kan wees) kan vergesel nie, maar ons hou steeds ‘n eienaardige en onversadigbare versamellus in stand.”

So is dit, ja. Die naweek gesels ek met iemand wat ook besig is om uit te gooi, te sorteer, in te pak, te besluit wat moet saam na ‘n volgende – en ook kleiner – woonplek.

En soos ons verblyftyd in die kasteel begin uitloop, weet ek ook die tyd van besluit oor goetertjies lê en loer vir my. Genadiglik is dit hierdie keer eenvoudiger.

Tydens ‘n kuier in Knysna, stap ons in by Timber Village. ‘n Plek waar elke houtliefhebber ‘n draai moet gaan maak. En daar raak manlief toe weer bewus van die houtwerk gereedskap waarvan ontslae geraak is met ons vorige oppak. Dit was so ‘n groot basis waarop stokou skawe, beitels, ens op gemonteer is. En toe word dit saam met ‘n klomp ander goed aan die eienaar van ‘n oudhedewinkel verkwansel. So met die wegry tussen die woude, neem ek my voor om terug te gaan na die oudhedewinkel en die besigheid terug te koop – ek is redelik seker niemand sou dit intussen kom koop het nie – en dit met ‘n fanfare aan manlief terug te besorg. Dis immers ‘n versugting van hom.


 Genadiglik noem ek my voorneme aan hom in ‘n oomblik van ontboeseming. En terwyl hy so sy verbasing uitsug, vra ek: “Nou waar het jou pa dit in sy werkswinkel gehad?” Waarop die antwoord kom: “Nee, dit was nie my pa s’n nie! Ek het dit by ‘n tannie gekry wat huis opgegee het toe haar man dood is.”


En nee, die oudheid word nie teruggekoop nie. Manlief meen hy kan daarsonder. Dit was immers nie onse oupa s’n nie.

Friday 26 May 2017

Stekie vir stekie

Vanoggend het ek weer ‘n slag my getroue BERNINA nadergetrek, op die tafel getel, liefderik oopgemaak en gekyk of alles nog in werkende toestand is. Ook die gewillige klein omkapmasjien is uitgehaal, afgestof, ingestel.

Sjoe, daar is darem baie naaldwerk op die masjiene gedoen! Heerlike herinneringe. En baie rande wat gespaar is!

En ook nie almal so lieflik die herinneringe nie. Daai kere wat ek moes uittrek, oor begin, weer stik, foutjies regmaak….. Baie, baie kere! Daai naat wat maar net nie wil plat lê nie; daai ritssluiter wat nie in die rekstof wil in nie; die soomlyn wat nie gelyk is nie; die voering wat net-net onder uitloer…..


Maar vanoggend se naaldwerk was sommer net lekker. Maklike materiaal waarmee ek gewerk het. Alles het net reg gewerk. Heerlik. So lekker dat ek sommer lus kry vir ‘n volgende projek!

Om handewerk te doen, bly darem baie bevredigend.

Dis nou as die eindproduk ‘n sukses is, suster!!!

Thursday 25 May 2017

Wednesday 24 May 2017

Dit is nie altyd so nie

Dis gewoonlik nie so nie.

Daar is só baie things to do and places to go, dat ons onsself daarop instel om elke plek een maal te besoek en elke ding eenmaal te doen en elke dis een keer te bestel. Te veel nuwes oom uit te toets!

Maar Melissa’s se gestoofde pere in bloubessiesous (blueberry) met joghurt, is die beste ontbyt wat ek in ‘n lang tyd geniet het! En met gekarameliseerde neute bo-oor gesprinkel – ‘n simfonie van smake! Toe doen ek dit sommer weer. Ek eet binne vier dae dieselfde dis by dieselfde eetplek – nou wel ‘n franchise tak, maar nogtans dieselfde konsep.


En ek beloof manlief dat dit op ons laatontbyt spyskaart sal wees na sy aftrede. Lekker in ‘n sonkolletjie met ‘n geurige koppie oggendkoffie en die lekker dis. Tuisgemaak. Met liefde.


Soms moet mens net herhaal wat uitsonderlik was! Om seker te maak dis wat jy proe en dis wat jy ook wil maak! Maar dis nie altyd so nie. Om dalk nie in die groefie te verval nie, is daar nog baie ander plekke wat ek moet besoek en disse wat ek moet uittoets! 

Tuesday 23 May 2017

Wat ek weet en wat ek eet
So saam met die koeler dae, knaag die honger tydig en ontydig. Manlief kan die dag deurgaan met ontbyt en aandete, maar ek kan nie! Ek is gedurig honger en soek na ‘n knibbeltjie.
Serotonien, tryptofaan, dopamien. Lees self in The Good Mood Diet van Dr Susan Kleiner om meer van al die groot name te wete te kom.
Alles nodig om op en wakker en lus vir die lewe te voel. En hoe meer ek lees oor alles wat ek moet eet om my ‘n hupstoot te gee, hoe hongerder raak ek! En natuurlik glo ek tog te graag dat wat ek in my mond sit, my gemoedstemming regstreeks beїnvloed. Dis mos lekker om te eet en te drink!
Maar o wee, as die eetlus en die koskas nie bymekaar uitkom nie, is dit ‘n groot uitdaging!

Sal darem alte lekker wees as ek bedags net my kosblik kan oopmaak en geniet! Ag, ek weet die koskas is hier neffens my. Maar die inhoud is waar die probleem inkom. En snaaks genoeg – dit wat in die huis is en beskikbaar is, lyk nie so aanloklik nie…
Die neute en die bessies …. Mmmm, dit klink alles so heerlik en gesond! Kreef, salm, oesters….. Ja, ek kan dink dit sal mens uit enige teneergedruktheid lig!
Hulle vertel my dopamien laat mens opgewonde en gemotiveerd voel. En serotonien is ‘n natuurlike antidepressant.

Maar dan is daar die realiteit van ‘n begroting. En ek wonder of daai depressie nie dalk sal neerdaal as die bankstaat opdaag nie…

Monday 22 May 2017

Doelgerigte denke

Interessant hoe mense hulself kan vasvang in negatiwiteit. Dieselfde ou sakies waarby hul vassteek en waarop hul hamer. Is ek verkeerd as ek dink dis gewoonlik ook mense wat elke nuusbulletin luister en nie saans se tv nuus mis nie?

Onlangs sit ek en luister na twee mense wat mekaar pas ontmoet het. En toe daar ‘n sug by die een uitglip oor “die ellende van onse land”, haak die ander een summier daarby aan en gaan voort met die klaaglied.

Nee wat, dit doen niemand goed om so te leef nie. Dit gee meer plooie en slegte spysvertering vir ieder en elk wat hulself daarmee besig hou en ander daarmee vergiftig.

Vermy dit om bewustelik negatief te wees. Positiewe insette is nie altyd welkom in so ‘n gesprek nie, maar beslis nodig.


Die groter uitdaging is beslis om positief te bly! So, komaan! ‘n Uitdaging doen mens veel beter as ‘n frons! Maak die nuwe week rooskleurig! Vermy daai negatiewe denke en dade!

Uiteindelik het ons almal probleme, maar ons droom tog immers nie oor negatiewe dinge vir die toekoms nie!





Friday 19 May 2017

Op aandag!

In ons skooldae was die kadette nogal ‘n saak. Vir die meisies om ander redes as vir die seuns. Dalk het die meisies net so ‘n effe meer daarvan gehou as die seuns….. Om te kyk! Mmmm, die steekbaardseuntjies wat so verbymarsjeer. En ons beskou hulle van die pawiljoen af…. En o, so onskuldig was ons! En dan was daar ook die kadet orkes wat die maat moes aangee….

In daai dae was dit ongehoord om eens daaraan te dink dat ‘n meisie dalk ‘n kadet sou wees!

Maar om op aandag te staan as die bevel gegee word, is nie die enigste tipe aandag nie. Die “sagter” soort aandag is dalk die een wat elkeen van ons na hunker. Wie hou nie daarvan om ‘n storie te vertel en daar word met aandag geluister nie? Wie hou nie daarvan om moeite te doen met jou voorkoms en jy kry ‘n kompliment omdat iemand met aandag jou opgemerk het nie?

Net so lekker soos dit is om gesonde aandag te geniet, net so irriterend is dit as iemand om verkeerde redes probeer aandag trek. En die beste raad is sekerlik om so iemand te ignoreer. Nie altyd maklik nie, maar dit werk beslis.

My wyse jong vriendin is ‘n skooljuffer duisend. Elke kind wat in haar klaskamer instap, word regverdig en met respek behandel. Die enetjie wat nie die beste sportheld is nie of nie die hoogste punte in die Wiskundeklas kry nie, kry geleentheid in die kunsklas om ook raakgesien te word. Daar waar die kreatiwiteit nie beoordeel word met “wat ons behoort te doen” nie, maar dit wat ons uniek maak. By haar blom elke onderstebo-kop kindjie tot ‘n blommetjie wat gesiggie na die son draai en self straal. Dis wat gesonde aandag aan mens doen. 

Wednesday 17 May 2017

Inspirasie

Irma Venter – adjunk-redakteur van Engineering News  – en ja, dieselfde vrou is die bekende skrywer, was vanoggend ‘n gas op Groot Ontbyt. En wat ‘n indrukwekkende vrou. Stil, ingelig, sonder fieterjasies. Geloofwaardig is die woord wat by my opkom terwyl ek so na haar k yk en na haar luister.

Interessante onderhoud vanoggend met haar oor die toekoms van motors. Elektriese motors, selfaangedrewe motors, hibried, digitaal of aanlyn motors. Wat ookal. Sy weet van.

Raakskerms in motors – gits, as die motor homself bestuur, kan mens seker op die skerm besig wees met werk en dinge sonder die gevaar van ‘n boete!

Maar om van die battery ontslae te raak? Die goed het mos nie ‘n einde aan hull ewe nie en is net sleg vir die omgewing. Maar nee, meen sy, dit kan moontlik hergebruik word as kragbronne in huise. Om ‘n tweede lewe vir die batterye te kry, maak dit goedkoper en elektriese voertuie meer bekostigaar.

En saam met die fenomenale omwenteling wat dit alles meebring, is daar ook die saak van nuwe wetgewing rondom voertuie. Want wie is verantwoordelik as twee selfaangedrewe motors bots?

Baie interessante sake wat aandag moet geniet voor dit alles gebeur. Maar dat dit vinniger gaan gebeur as wat baie dink, is waar. Die slim mense maak planne om die rekenaars te leer waarop gereageer moet word as die motor so op sy eie die pad vat.


Kaapstad kry teen die einde van die jaar elektriese busse. So vorder die tegnologie. En ons kan nie agterbly nie. Maar vir eers trek ek my stapskoene aan om te kyk hoe Kaapstad bult met al die toeskouers wat op pad is na die Justin Bieber konsert. Geen motor beweeg in dié chaos hier onder my balkon nie!

Tuesday 16 May 2017

Om te weet of nie

Sommige dinge is goed om te weet. Sommige weet ons genadiglik nie voor die tyd nie!
Tot die ding jou slaan! Soos die ouderdom. En siekte. En swaarkry. En sukkel.
Dis nie asof ons nie wou weet nie, maar dis dat ons nie geweet het nie! Of so-iets.

Op ‘n dag, toe die huwelik se eerste rosige skynseltjie bietjie dungeskuur is, vra ek my ma: “Hoekom het ma my nooit vertel nie?” En haar antwoord: “Sou jy my geglo het?”
So het sy haar ook heerlik losgemaak van daai lastige vrae oor “wat kinders wil weet” en wat nie in daai dae in boeke geskryf was nie. Die ergste fliektonele was ‘n soenery. En o, dit was erg woes!!! Haar verweer was: “Omdat jy my nooit gevra het nie”. Waarop ek gewoonlik geantwoord het: “Wat moet ek vra as ek nie weet wat die vraag is nie?”

Skielik is mens se hare nie meer soos jy daaraan gewoond was nie. Daai hurk om jou skoene vas te maak, gebeur nie sommer net so vanself nie. Kyk sonder die bril laat jou vieslike verkeerde lettertjies op jou selfoon tik…

Maar daar is nog soveel lekkertes om te geniet! Ek wonder watter slim raad my liewe moeder vir my sou gee! Ons het onsself altyd voorgestel as susters – en dan het sy met ‘n glimlaggie so saggies opgemerk: “Hulle sal wonder of ek die jonger een is!”.  Ja, soos die jare my nou hier ondersteboklap, sal hulle voorwaar dink ek is die ouer een, ma! Gelukkig het ek ‘n ruk gelede nie geweet nie – ek sou dalk wou weghol!

Een groot genade: ons vriende raak saam met ons ouer. Ons oë word saam swakker en daarom kuier ons so lekker by mekaar sonder om te fyn te kyk en net lekker saam te lag! 


Monday 15 May 2017

Meet om te weet

Boeta Wessels van Karsrivier meen: “Jy moet meet om te kan weet”.  Dis oor sy Dohne-merinostoet waarvan hy praat in verlede week se koerant.

En die man weet van. Sy skape is van topgehalte en ‘n ram haal tot R220 000.


Dit laat my wonder of ek nie ook meer dikwels die meet-ding moet doen nie. Hier om my en sommer ook hier in my. Want dis net as mens meet dat jy weet.

En soms speel ek lekker volstruis-volstruis en steek liewer my kop in die grond (ai, waar het daai nonsiesding tog vandaan gekom?!) as om te moet weet. Want om nie te weet nie, kan mos nie kwaaddoen nie. Of hoe?

As jy meet – en weet – dan is dit ook tyd om verantwoordelikheid te neem. Is mos so. Maar dit kos dapperheid! 

Dankie, Boeta, dat jy inspireer om dapper te wees en te meet. Sodat mens kan weet.


Friday 12 May 2017

Kaapstad se kontraste

Laatmiddag stap ons suidwaarts. Dis koelerig, maar nie onplesierig nie. Massas mense kom van voor af aangestap en ons besef dis studente op pad stasie toe om die trein te haal. Gesels-gesels kom hulle aan met rugsakke en ek is nuuskierig oor wat hulle studeer.
Dis ‘n vinnige stappie, want die winkel waar ons wil inloer, maak toe en ons wil nog daar in voor die deure sluit. Elke tweede taxi probeer besigheid met ons doen, maar ons byt vas met dapper en stapper.

Met die uitkomslag vang die wind ons reg van voor. Skielik is dit nie ‘n luggie nie, maar ‘n taamlike wind waarteen ek moet beur. Ons stap oor die besige straat en die wind is van agter! Hy dra jou so bietjies-bietjies en dis heel plesierig! En snaaks! Dis ‘n dwarrelwind wat oral besig is om papiere, blare en stof - en wat ookal voorkom - in die rondte te maal, op te swiep, weg te blaas. Die Kaapse suidoos aan die werk!

Nou is ons dieselfde kant toe op pad as die skares. Terug stad se kant toe. Maar die toue en toue busse en taxi’s is verstommend. Goed om weer ‘n slag op grondvlak te wees en te ervaar hoe die massas pendel.

Wat ‘n kontras teen verlede week se stap in Fresnaye se strate tussen die glaspaleise en al wat ‘n luukse motor is.

Kaapstad is voorwaar ‘n stad van kontraste.

Laat ons nie van mekaar vergeet nie.  

Wednesday 10 May 2017

Swart en wit

Of dalk “Swart of wit”?

Sou alles makliker wees as dit ‘n keuse was tussen twee opsies?

Maar nou het ons intussen gehoor dat daar nog grys tussenin is. Blykbaar vyftig skakerings? Of hoe?

Sake is nie altyd so eenvoudig as mens moet besluit en kies tussen reg en verkeerd nie. Daar is soveel veranderlikes. En verskillende omstandighede.

Daarom is dit ook so dat ons nie moet oordeel oor ander se besluite en voorkeure of afkeure nie. Hoe sal ons ooit ‘n ander se hart werklik ken? Ons hoor net wat vir ons vertel word – maar my ma het altyd van haar laat hoor met: “die helft is ons nimmer vertelt”. Ons ken dikwels net die een kant van die saak. Gewoonlik die kant wat ons die beste pas! En skoonma het ons vertel: “’n Saak het drie kante – my kant, jou kant en die regte kant.” En wie kan dan nou teen sulke wyshede stry.


En nee, hierdie swart en wit waarvan ek praat, het hoegenaamd niks met ons politiek te doen nie. Dis maar net die lyne waarmee ek gister sit en speel het, wat my laat dink het. Soms maak ons dit ook maar moeilik vir onsself as ons so vashaak met daai grys skakerings. 

Tuesday 9 May 2017

Wyk af van die sleurgang

Annelie Botes skryf in vandag se Van Alle Kante: “Ons behoort onsself gedurig daaraan te herinner dat dit helend vir ons menswees is om oomblikkies te skep om af te wyk van die sleurgang.”


Absolute musiek in my ore.

Ek doen dit alte graag. En o, so maklik!

En nee, ek doen dit met oorgawe! Ek skep nie oomblikkies nie. Ek doen dit ordentlik. Nie fyn skeppies soos met ‘n fyn silwer lepeltjie nie, maar sommer met ‘n soplepel. Om af te wyk van die sleurgang.

Oeps! Miskien is dit waar die uitdaging in is – om dit bietjie-vir-bietjie te doen en nie oorboord te gaan met die skepslag nie!?

En noudat ek dit weer ‘n keer lees, wonder ek mos nog meer: sy noem dat ons vir onsself daaraan behoort te herinner. Ek was alweer glad te voortvarend en het gedink ek moet dit my leefwyse maak!

Maar elk geval tog só helend vir die menswees! 

Monday 8 May 2017

Weg is die warmte!

Skielik is dit nie meer warm nie! Ek soek vanoggend na ‘n dikker trui in my kas.  En die winter pantoffels is al gisteraand nadergetrek.

My oog vang ‘n beweging buitekant en ek sien Woolworths se personeel is besig met oefeninge op die dak van hul gebou. So heerlik jolig en vrolik lyk dit, dat ek lus het om te gaan saamspeel. Dit lyk soos speletjies van ouds. Wat ‘n wonderlike manier om mens se personeel bewus te maak van gesondheid! Terselfdertyd is dit sekerlik ook ‘n geleentheid vir spanbou. En die yslike dakspasie is beskikbaar. Die afgelope week of wat het die dak ‘n nuwe laag silwer verf gekry. Dis ekstra skoon en netjies.

Vanmiddag sit ons ‘n serpie om en stap om maksimum van die sonnetjie te vang. Tussen die geboue kan dit heerlik wees. Maar ai, as die windjie jou skielik onverwags klits om ‘n hoek, kan dit maar onplesierig wees.

Saterdag het ons die lieflike Giovanni’s Deli in Groenpunt ontdek. Wat ‘n heerlike kos paradys! Dit het heerlike herinneringe aan ons kuiers in Europa weer laat opvlam! Hier koop mens ‘n paar skyfies prosciutto, salami, serrano ham – noem op, dis daar! En kase om van te drooom! Die klaar disse laat jou mond water en gou-gou het jy vir jou ‘n ete wat jou laat swymel en die staptog huis toe sommer vinniger laat verbygaan! Ete in die kasteel vir ‘n koning en sy gade!


Vir seker gaan ons weer daar instap om van hul ander disse te probeer! Gelukkig is dit ‘n ver genoeg stappie heen en terug sodat ek nie ‘n ekstra oefenklas hoef in te werk nie!  

Friday 5 May 2017

Dit neem tyd 




The greatest oak was once
a little nut that held its ground.

Thursday 4 May 2017

Vriendelike verlange

Vandag voel dit my so of die swart hond my agtervolg. Om absoluut geen rede nie. Dis maar net soos dit is. Of dan eintlik voel.

Seker omdat ek verlede naweek tyd deurgebring het saam met ‘n vriendin van ons akkerlaan se dae. En het ons gekekkel!!!! Tog te heerlik!!! Ingehaal met wat tussentyd gebeur het.

Dis mos deel van die wonder van vriendskappe – die soort wat werklik “vriendskap” beteken. Die soort verhouding wat aanvaarding en koestering en wees-net-jouself is. So ongekompliseerd. En ons begin gesels waar ons jare gelede opgehou het. Sommer net so maklik. En ons laat mekaar gaan met liefde in ons harte en weet as ons weer eendag ontmoet, gaan ons voort met die gesels en die omgee.

En nou is dit vandag so effe ekstra stil hier om my.

Voel of ek ‘n stootskraper nodig het om my in aksie te kry!

Vanoggend die wintersklere uitgepak. Ja, dit kan nou wees hoekom die droewigheid my naderhark! Dis alles sulke donker en swaar klere as dit winter raak! Maar eintlik sal ek hierdie winter nie omgee vir die koue en donkerder hier om my nie, want die winter gaan reёn bring! Dit glo ek vas!!!

‘n Goeie koppie koffie saam met my geliefde sal sekerlik die dag opvrolik!  Hy is mos darem ‘n vriend duisend wat weet hoe om die dag in te kleur!


Koebaai! Klaar gekla! Dis tyd vir kuier!


Wednesday 3 May 2017

Dink bietjie dieper

So in die verbystap lees ek wat op die bordjie geskryf staan en dink: “Ja, dis oulik, maar net oulik, nie waaroor die lewe gaan. Want hoe kan mens net Love & Laugh?”  Dis darem net te maklik en effe vlak om so deur die lewe te gaan?

Toe lees ek weer.


Ja, dit klink meer na balans. En ook toe nou glad nie so eenvoudig en simplisties nie.
Mmmmm, skielik is daar bietjie meer dimensies.

Soms is dit nodig om net lief te wees en te lag. Soos in: Sluk & Smile! Dit is nogal nie altyd so maklik nie. Om liewer daai sarkastiese gedagtetjie nek om te draai. Om liewer liefderik te glimlag en stil te bly. Die dinamiet te ontlont. En soms is dit selfs soos om die ander wang te draai….

Lewe – wat sekerlik vir elke liewe siel iets anders beteken!
Leer – wat ons nooit te oud is om te doen nie!
Liefde – waarvan ons nooit genoeg kry nie, maar hoe meer ons gee, hoe meer ontvang ons!
Lag – wat vreugde in en om jou bring!

Tuesday 2 May 2017

Die mooi hier naby

So dikwels droom ons oor ver plekke. Reise na ander lande.

En dan mis ons so maklik die mooi wat hier naby ons is.

‘n Vriendin van baie jare kom kuier vir ‘n naweek in die Kaap. Sy was omtrent veertig jaar laas in Die Tuine. Ons sorg vir gemaklike skoene vir die stap deur die strate van onse mooie stad. Op pad daarheen stap ek met haar teen St George’s Katedraal se trappies op. Links van die ingangsdeur is daar ‘n kennisgewing aangebring – dit verwelkom ieder en elk na binne. Nogal iets om weer en weer te lees.

En weereens tref die herbergsaamheid van die katedraal my. Die veiligheid wat mens aanvoel as jy binnestap. Die grootsheid. Die vakmanskap. En tog op ‘n vreemde manier voel dit eenvoudig en onopgesmuk. Rustig en kalm.

Na ‘n bietjie stilraak, stap ons verder.

Die eekhorings het ons nie teleurgestel nie. En die Kaapse weer was soos net ‘n perfekte herfsdag kan wees – liggaamstemperatuur sonder ‘n takkie wat roer. Ten spyte van die erge droogte, is die plante groen en die bome ‘n sambreel van koelte.

Moenie verbykyk by die mooi hier naby jou nie. Geniet die reis as jy dit op ver plekke kan doen, maar probeer om ook naby jou die skatte te ontdek.

Monday 1 May 2017

Is dit nou of nie?

Wie is nou die werkers? En wie werk op  Werkersdag? Of werk mens nie? Werk die werkers of is dit die werkers se “af”-dag? En wie doen dan die werk as die werkers nie werk nie?

So sal ons wonder oor dié sakie!

Vroegoggend het ‘n dreunsang ons na die balkon genooi. Dit was ‘n groot groep wat in die hotel oorkant ons woonstelblok tuisgaan, wat saamgesing en –gedans het. Mooie stemme waarvan ek nie ‘n woord verstaan nie. Later vanoggend het hier in Adderleystraat ‘n skare byeengekom – meesal rooi T-hemde. Ons kon so vaagweg die “luid sprekers” hoor “jobs, opportunities….”. Maar nie lank daarna nie, is die groep weg en die verkeer kon weer sy gang gaan. Alles heel rustig en vreedsaam.

Nou wil ons iewers gaan koffie en rondkuier. En ek wonder: gaan daar werkers wees?

My Wikipedia-bron lig my in:
Werkersdag word sedert 1994 in Suid-Afrika waargeneem en val jaarliks op 1 Mei. Dit het sy oorsprong in die internasionale stryd van werkers en hul vakbonde vir solidariteit tussen werkers, hul soeke na regverdige indiensneming en die vestiging van menseregte en werkerregte in die werkplek. Voor 1994 is die dag deur vakbonde in Suid-Afrika vir protesoptogte teen die destydse apartheidsregering se rassebeleid ingespan.

Dus is dit nou nie so dat werkers noodwendig op hierdie dag agteroor moet sit nie. Op hierdie dag moet ek dalk net weer bietjie dink oor regverdigheid in die werkplek. Ook in my werkplek. Het ek my werkers regverdig behandel?


En ja, manlief sal vir seker vir my met ‘n heerlike middagete moet bederf. Dis immers wat mens regverdig noem!  Maar dis nou te sê as hy dink ek is ‘n goeie werker hier in onse kasteel…..