Wat neem jy saam?
Kindertyd was die
padkos ‘n groot en belangrike saak. Skaars buitekant die dorp teen die eerste
bultjie was dit al tyd vir die eerste “bederfie” – gewoonlik ‘n paar skyfies
biltong. Dan het kleinboet syne in sy hempsakkie gesit. Hy het tussen my en ousus
op die agterste sitplek van die motor gesit. Dis voor die dae van
veiligheidsgordels. Die afklapsitplekkie (seker bedoel gewees as armlening) was
net reg vir hom. Ek dink my biltong was eerste op. En so ‘n myl of wat later
(ja, daar was toe nog nie eens kilometers nie!) het boetie vermakerig sy
skyfies biltong een vir een uit daai hempsakkie uitgehaal en dit
knibbel-knibbel geniet. Moenie dink dit het my geleer om ook bietjie terug te
hou nie!
Ons het nooit ‘n
piekniekmandjie gehad nie. Daar was wel ‘n leertas met alles wat mens nodig
gehad het vir ‘n propperse piekniek – en elke bord en mes en vurk en lepel het ‘n
spesiale plekkie gehad waar dit met leerbanjies vasgemaak is. Maar dit was nie
vir padkos langs die pad bedoel nie. Hardgekookte eiers, hoenderboudjies,
toebroodjies, frikkadelletjies ….. dit was vir die stilhou langs die pad in die
dae toe dit nog veilig was.
Onse groot vriend
was altyd goed voorberei op ‘n stop langs die pad vir ‘n koffietjie. Die
koffiefles en blikbekertjies gereed vir ‘n lafenissie langs die pad onder ‘n
koelteboom. En as daar ‘n uitsig was, des te beter om die omgewing te verken
terwyl die lang beskuite in die koffie gedoop en ‘n wysheid kwytgeraak word.
Dit alles om te keer dat mens nie pienk kolletjies voor jou oë sien as die
hongerte jou beetkry nie.
Ek en manlief pak
minimum padkos in. Maar reis ons saam met dogter en haar man, weet ons daar is selfs
‘n gasstofie en alles wat nodig is om ordentlike koffie te maak. En hoe lekker
is dit tog nie! Dit laat my sommer ekstra verlang en uitsien na ‘n vakansie met
die kinders….. Dalk kan hulle ons weer leer van piekniek hou. Onder ‘n boom.
Met ‘n uitsig. En tyd vir wyshede.
No comments:
Post a Comment