Waar daar ‘n krakie is
Leonard Cohen se
dood het baie mense aangegryp. Soos wat sy lirieke ook mense aangeraak het.
Woorde met emosie belaai. ‘n Man wat met woorde kon werk. En ons het die
voorreg om dit nog vir lank te kan beluister en geniet.
Maar die saak van
die krakie bly my by. As daar ‘n krakie is waardeur die lig inskyn, is daar mos ‘n krakie waardeur die lig uitskyn….
Ja, ons het almal
krakies. Sommige probeer dit letterlik en figuurlik toepleister op verskeie
maniere. Maar ‘n krakie het mos nou maar die gewoonte om weer te verskyn –
veral as daar druk op geplaas word. Of as omstandighede nou nie so gunstig is
nie. Dan verskyn daai krakie. Ongevraag. Meesal op ‘n ongewensde tydstip. Wie wil
dan elk geval herinner word aan daai lastige krakie wat so maklik ‘n
verleentheid kan wees?
Krakies maak ons
kwesbaar. Maar tog is dit die krakies wat karakter gee. Dis die krakies wat
help dat die lig inskyn. Wat vir ‘n ander moed gee om nader te staan en te
help. Want sien, die krakie wys “perfek” is nie ‘n woord wat mense beskryf nie.
En uiteindelik is
dit die krakies wat die lig ook kan laat uitskyn. Wat vir die wêreld wys hoe ons
binneste lyk. Ietsie van ons eie unieke weerloosheid wys. Wat vir ‘n naaste ‘n
liggie gee om bietjie beter te kan sien waar om te tree.
Kosbare krakies.
Dis wat donker verdryf. Die lig kan inskyn. En vir seker ook uitskyn - maar daarvoor moet jy 'n liggie aan die binnekant hê!
No comments:
Post a Comment