Kuier kuier-kuier
Gisteraand het ek
en manlief statistiese verskuiwings hier in die stadskom veroorsaak. Dit was
Tuning the Vine – Innercity Wineroute. Ons het beslis die gemiddelde kuier-ouderdom
van die Kaap bietjie gelig (of is dit juis afgetrek?)!
Heerlik om so deur
die strate te kan kuier saam met honderde (of was dit duisende?) jong wynliefhebbers
wat al vroliker kwetter! Oral is daar natuurlik spyskaarte wat mens kompromis laat
probeer tref tussen jou maag en jou beursie. So 20 restaurante neem deel aan
die gedoente wat een maal per maand in die middestad plaasvind. As jy lus het
vir ‘n aand van joligheid is dit vir jou! Dis wynlandgoedere van oraloor wat
hul wyn kom bekend stel.
Maar ons kan en
wil nie net wyn drink nie!
Vanoggend was hier
weer die gebruiklike vars produkte mark in St Georges wandellaan. Heerlike
tuisgebak, kos, groente, vrugte, blomme, kos vir elke smaak. Dis sommer lekker
om daar deur te drentel en te kyk wat alles aangebied word. Beslis uitstekende
kopies by die groente-stalletjie. Die toeriste wat in ‘n groep verbystap,
sukkel om by die toergids te bly, want dis ‘n kleurvolle spul waarvan hulle
foto’s wil neem. En die vreemde kossoorte lyk en ruik verleidelik. Maar daai
toergids is haastig, want iewers wag ‘n bus en lyk my hulle moet nog deur die
kerk en die Tuine. Gelukkig kan ek kuier-kuier verder kyk waaraan ek vandag wil
knibbel.
No comments:
Post a Comment