Tuesday 29 November 2016

Gehaperde onthoue

My ma se wasmasjien het in die buitekamer gestaan. Ek het daar niks mee te doen gehad nie. Die klere is gewas, gestywe en gestryk sonder dat ek ooit gewonder het hoe dit gebeur. Op ‘n lang tafel het my en sus se rokke op strykdag regop gestaan – gewas en gestywe. Ja, met stysel gestywe, kinders!

Later jare, in die nuutgeboude huis, was daar ‘n waskamer met ‘n nuwe wasmasjien. Een met ‘n dubbelbalie. Van hom onthou ek – dalk omdat die pyp ‘n keer uitgespring het en water oral gespuit het?

Skoonnma het ‘n wasmasjien gehad met twee rollers waardeur die water uitgepers is. Dit het my gefassineer om te sien hoe die nat kledingstukke eenkant tussen die twee rollers ingaan en anderkant styf in ‘n nuwe vorm uitkom. Maar veel het ek ook nie verder daarmee te doen gehad nie.

Sien, ek was bederf. Net altyd wasgoed in die mandjie laat inglip.

Toe kom die dae van doeke was en emmers SteriNappi en wasgoed en wasgoed en wasgoed! My suster het gewaarsku dat die rondomtalie wasgoedlyn in ons agterplaas, wat so in die tierende suidoos rondtol, iemand gaan onthoof. Toe gelukkig nie, maar ek kan die hooikoorsbuie onthou as ek daar by die wasgoedlyn besig was! Hier van Oktober af as die Jasmyn en die Yesterday, Today & Tomorrow so lieflik geblom het en die boere hul landerye gespuit het! Ai, was dit nou ‘n neusloop en tranerige besigheid! So is ek deur ‘n hele klomp wasmasjiene in my leeftyd. Hoe dankbaar tog dat ek dit nie op ‘n wasklip moes doen nie.

My vriendin meen sy sal nie my leefstyl kan doen nie. Hoe sal sy haar wasgoed droog kry as dit nie in die sonnetjie hang nie? Ja, vriendin, daar is niks wat lekkerder ruik as wasgoed wat in Vader se gratis sonlig droogword nie! 


No comments: