Dit laat ek my nie (meer) vertel nie
Die afgelope paar
jaar is dit opvallend hoeveel mense uit buurlande in ons restaurante en hotelle
werk. Baie suksesvol. Ten koste van ons plaaslike inwoners.
Ons knoop graag ‘n
geselsie aan met die kelners om te hoor waar hul geboorteland is. Vriendelike
mense. Behulsame mense. Mense wat maklik lag.
Maar dikwels sien ons
ook, veral by die vrouens, die hartseer vlak in hul oë oor verlange na hul land
van herkoms en hul mense. Feitlik almal noem dat hulle weer eendag wil
teruggaan na hul lande in die noordelike rigting.
Dan wonder ek oor “my”
mense van die Kaap. Hulle wat swaarkry omdat hulle weer ‘n keer nie ‘n kans kry nie. So maklik word dit
afgemaak as “hulle wil nie werk nie”. Natuurlik is daar – onder alle rasse,
volke, nasies – mense wat nie wil werk nie. Wat lui is. Wat nie eens hand wil
uitsteek nie, maar net wil hê.
Gister het ons in
die lieflike Babylonstoren se tuine gaan rondloop. Vir my is dit die nommer een
plek in SA om te besoek. (As hulle vir my ‘n werkie het, sal ek dit sowaar oorweeg
ook!) En wie werk daar? Mense van die omgewing. Vriendeliker en meer
professioneel kry jy nie. Hulle word goed opgelei en lewer uitmuntende diens.
Pragtige mense. Mense op wie ek opreg trots is.
Ek laat my nie
weer vertel dat my mense lui is nie. Dis ‘n gruwelike veralgemening wat net
skade doen!
No comments:
Post a Comment