Hiervan is ek seker
Vanoggend stap ek
deur een van die groot winkelsentrums. Verbeel ek my of is die “jingle bells”
versierings van ouds bietjie getemper? Ek het nêrens die afgewaterde liedjies hoor
speel oor luidsprekers nie. Ek het ook nie overdaad versierings gesien nie. Ja,
wel klokke en blink, maar in ‘n meer stylvolle manier.
Verlede week
luister ek so met een oor na ‘n radiopraatjie oor die onmin wat deel is van
Kersvakansies. Hoe hartseer! Dis nou een van daai tradisies waaraan ons saam
met die wêreld vasklou. Wat spesiaal kan wees as familietyd en omgeetyd, word
dikwels ‘n bakleiery oor wie waarheen wil en moet of nie mag nie.
Onmoontlik om
almal tevrede te stel!
Ja, die ou-ou raad
van kommunikasie bly maar die enigste oplossing. Praat, praat, praat! En kies
die regte tyd om daaroor te praat! Moenie wag tot almal oorhoeks gejaag en op
‘n knop is oor Kersfees nie! Doen dit sommer nou!
Maak dit weer ‘n
fees van liefde. Eenvoud.
Dis regtig nie
nodig om te baklei oor wie se beurt dit hierdie jaar is om vir die oumense te
sorg nie! En ook nie nodig om jaloers te wees oor wie die grootste geskenk gee
of kry nie! Laat ons die een dag wat ons onsself Jesus-volgelinge noem (die dag
wat nêrens aangeteken is dat ons dit moet doen nie!) onthou van eenvoud. Van
nederigheid. Van omgee. Want ai, hoe het ons onsself in so 'n komplekse klomp bog toegewikkel!
Hiervan is ek seker: dat dit eenvoudig ‘n dag van liefde – in eenvoud
- moet wees! Dankie, my kinders, dat julle jul ma se hart verstaan.
No comments:
Post a Comment