Kurwes en kleur
Onlangs
stap ek saam met vriende deur die stad. Ons speel ons is toeriste. Ons praat
Afrikaans, dan dink sommige ons kom van verre lande!
Volgens
die nuusblaaie, gaan meer aandag geskenk word aan die Groentemarkplein en St George’s
Wandellaan. Om dit veiliger te maak – maar ek voel geen onveiligheid as ek daar
rondloop nie Selfs as ek alleen is, voel ek veilig. Natuurlik moet mens weet
wat om jou aangaan. Nie net in die stad nie. Nie net in Suid-Afrika nie.
Oral
is sekuriteitsbeamptes wat sigbaar is. Hulle kom vra vriendelik dat jy jou
handsak moet toerits indien dit oop is. Hulle verneem gereeld of jy veilig voel
en verleen hulp met waarheen as hulle die padkaarte en papiere met aanwysings
sien waarmee toeriste sukkel.
In ons
jonger dae was die Groentemarkplein die plek waar mens skamele somersrokkies en
kleurvolle plakkies en oorbelle wat waai en swaai gekoop het. Deesdae is dit ‘n
Afrika-mark. Die soort wat die toeriste geniet. Maar vir my is dit nie alles
Kaaps nie. Die hoeveelheid winkels wat Afrika snuisterye verkoop, is
verstommend baie hier in die middestad. Ek wonder dikwels of hulle elke dag
iets verkoop. En ek is werklik diep dankbaar dat ek nie hul “stock-taking” hoef te doen nie. Daar is
miljasters goetertjies!
Maar
of dit Kaaps is of nie, en dat meeste van die mense wat die goetertjies verkoop
beslis nie uit die Kaap kom nie, is seker. Wat wel waar is, is dat die
vriendelikheid waarmee ieder en elk gegroet word, oorweldigend is. As jy bereid
is om te glimlag, word jy met vreugde verwelkom! Foto’s saam met die Rastas,
waarmee toeriste terug by die huis kan gaan spog, is ‘n gewilde aktiwiteit. Dit
alles met die hoop op ‘n goeie verkope? Dalk is hulle uit nature sulke
vriendelike mense! Mense wat kleur en kurwes waardeer.
In
life, as in art, the beautiful moves in curves.
-Edward Bulwer-Lytton
-Edward Bulwer-Lytton
No comments:
Post a Comment