Gits, dis ‘n foutjie!
Vroeër die week
gaan ons vir ‘n stappie. Ek stel voor ons ry bus tot by die V&A Waterfront,
stap ‘n ent langs die promenade, stap tot by die winkel om kosvoorraad effens
aan te vul en kry die bus terug huis toe. Manlief het rugsak vir die aankope en
ek halveer sommer dadelik my lysie.
Toe stap ons
heelpad terug met my sandale ‘n ent in my hand omdat die wintervoetjies nie
gewoond is aan die riempie tussen die tone nie…. So kom ons bietjie later tuis
as gewoonlik.
Met die
skottelgoed was later die aand, hoor ek ‘n gehamer aan ‘n deur. Ek wonder wie
vir wie uitgesluit het. Gewoonlik is die bure baie stil en hoor ons hulle net
wanneer hulle hul deur oop- of toesluit. Maar dit klink regtig soos ‘n gehamer
aan hulle deur. En daar hoor ek ook ‘n roepstemmetjie en besef dit is van binne
die deur.
Foeitog, dis toe
al die tyd die vrou wat hul woonstel kom skoonmaak, van wie hulle vergeet het.
Ek gesels bietjie met haar deur die toe deur en probeer haar tot bedaring
bring. Sy is al van 07:00 die oggend in die woonstel toegesluit. Ons kry ‘n
selnommer, maar hulle antwoord nie. Ek probeer die arme vrou bemoedig en stel
voor dat sy probeer kalm bly en vir haar solank iets maak om te eet. “Here is nothing to eat…” En ek kan niks
doen om te help nie. Dis al donker en die arme vrou moet nog ver paaie om weer
tuis te kom. Dalk staan daar iewers by ‘n toegesluite huisie ‘n verlate kindjie
en wag vir ‘n mamma…. Uiteindelik laat weet die bure hulle is op pad.
En vanoggend is
daai vrou sowaar weer op haar pos…. Toe ek haar vanmiddag in die gang raakloop,
lag sy vriendelik oor haar wedervaring. Sjoe, vergifnis is ‘n wonderlike ding!
En as mens kos moet koop en skoene vir jou voete, kom jy sekerlik maar terug na
die werk toe waar jy weet jy jou dagloon kry. Al vergeet hulle soms van jou….
No comments:
Post a Comment