Wednesday 30 November 2016

Dis net eenvoudig heerlik!

Saam met sommige mense kuier mens net eenvoudig heerlik! En meesal is dit presies wat dit so heerlik maak: die eenvoud. Ongekompliseerd.

Ons skinder van niemand. Ons kompeteer nie met mekaar nie. Ons hoef nie te wys hoe goed ons kan of is nie.

Dan raak die kuier opreg en kosbaar. 

En ons hoef ook niks vir mekaar weg te steek nie. Ons kan maar vertel wat pla. Sonder om ‘n oplossing of ‘n antwoord te kry. Ook goed so. En as daar wyse raad vorendag kom, soveel te beter!


Dankie tog dat ek geseënd is met soveel dierbare mense met wie ek net eenvoudig heerlik kan kuier!


Tuesday 29 November 2016

Gehaperde onthoue

My ma se wasmasjien het in die buitekamer gestaan. Ek het daar niks mee te doen gehad nie. Die klere is gewas, gestywe en gestryk sonder dat ek ooit gewonder het hoe dit gebeur. Op ‘n lang tafel het my en sus se rokke op strykdag regop gestaan – gewas en gestywe. Ja, met stysel gestywe, kinders!

Later jare, in die nuutgeboude huis, was daar ‘n waskamer met ‘n nuwe wasmasjien. Een met ‘n dubbelbalie. Van hom onthou ek – dalk omdat die pyp ‘n keer uitgespring het en water oral gespuit het?

Skoonnma het ‘n wasmasjien gehad met twee rollers waardeur die water uitgepers is. Dit het my gefassineer om te sien hoe die nat kledingstukke eenkant tussen die twee rollers ingaan en anderkant styf in ‘n nuwe vorm uitkom. Maar veel het ek ook nie verder daarmee te doen gehad nie.

Sien, ek was bederf. Net altyd wasgoed in die mandjie laat inglip.

Toe kom die dae van doeke was en emmers SteriNappi en wasgoed en wasgoed en wasgoed! My suster het gewaarsku dat die rondomtalie wasgoedlyn in ons agterplaas, wat so in die tierende suidoos rondtol, iemand gaan onthoof. Toe gelukkig nie, maar ek kan die hooikoorsbuie onthou as ek daar by die wasgoedlyn besig was! Hier van Oktober af as die Jasmyn en die Yesterday, Today & Tomorrow so lieflik geblom het en die boere hul landerye gespuit het! Ai, was dit nou ‘n neusloop en tranerige besigheid! So is ek deur ‘n hele klomp wasmasjiene in my leeftyd. Hoe dankbaar tog dat ek dit nie op ‘n wasklip moes doen nie.

My vriendin meen sy sal nie my leefstyl kan doen nie. Hoe sal sy haar wasgoed droog kry as dit nie in die sonnetjie hang nie? Ja, vriendin, daar is niks wat lekkerder ruik as wasgoed wat in Vader se gratis sonlig droogword nie! 


Monday 28 November 2016

Lankal se Lekkerbekkie
Die afgelope naweek het ons met sommige van die spruite en een se vriendin in die Pakhuispas gaan draai. ‘n Besonderse naweek van uitspan en opnuut bewus raak van die Sederberge se stilte. (Maar ook agtergekom hoe eina die angel van ‘n kleine bytjie kan maak!)
Saterdagmiddag het ons by Lekkerbekkie in Wupperthal gaan rooibostee drink. In die hitte. Maar dit was goed. Die eenvoud. Die koelte van die stoep.

En ook net so goed om ‘n slag weer te dink aan die Afrikaanse geneesheer, plantkundige, joernalis, digter,  dramaturg, skrywer – C Louis Leipoldt (1880 – 1947) – wie se oupa stigter was van Wupperthal. Alhoewel Leipoldt in Kaapstad gepraktiseer het as pediater, is hy tussen sy geliefde Hantamberge in die Pakhuispas begrawe.
Wat ‘n heerlike voorreg om saam met geliefdes die sterre dop te hou in ‘n Karoonag! Blink diamante wat skitter en verskiet!
Al is Oktober nou ook al hierdie jaar verby, bly dit seker een van Leipoldt se mees geliefde gedigte.
“Dit is die maand Oktober! Die mooiste, mooiste maand!
…………
Wat gee ek om die winter? Wat praat jy nou van Mei?
Wat skeel dit as ons later weer donker dae kry?
Ek is nou in Oktober, die mooiste, mooiste maand,
met elke dag so helder, so pragtig elke aand!”
Dr C Louis Leipoldt se nagedagtenis word lewendig gehou deur o.a. plekke wat na hom vernoem is, soos Louis Leipoldt MediClinic waar ons jongste gebore is en Leipoldt’s Restaurant in Pretoria.

“Food and wine were Leipoldt’s abiding passions, but he approached cooking with the authority of a medical doctor and knowledge of a botanist. Experimenting with herbs in food became an avid interest.”
 


Thursday 24 November 2016

Kurwes en kleur

Onlangs stap ek saam met vriende deur die stad. Ons speel ons is toeriste. Ons praat Afrikaans, dan dink sommige ons kom van verre lande!

Volgens die nuusblaaie, gaan meer aandag geskenk word aan die Groentemarkplein en St George’s Wandellaan. Om dit veiliger te maak – maar ek voel geen onveiligheid as ek daar rondloop nie Selfs as ek alleen is, voel ek veilig. Natuurlik moet mens weet wat om jou aangaan. Nie net in die stad nie. Nie net in Suid-Afrika nie.

Oral is sekuriteitsbeamptes wat sigbaar is. Hulle kom vra vriendelik dat jy jou handsak moet toerits indien dit oop is. Hulle verneem gereeld of jy veilig voel en verleen hulp met waarheen as hulle die padkaarte en papiere met aanwysings sien waarmee toeriste sukkel.

In ons jonger dae was die Groentemarkplein die plek waar mens skamele somersrokkies en kleurvolle plakkies en oorbelle wat waai en swaai gekoop het. Deesdae is dit ‘n Afrika-mark. Die soort wat die toeriste geniet. Maar vir my is dit nie alles Kaaps nie. Die hoeveelheid winkels wat Afrika snuisterye verkoop, is verstommend baie hier in die middestad. Ek wonder dikwels of hulle elke dag iets verkoop. En ek is werklik diep dankbaar dat ek nie hul “stock-taking” hoef te doen nie. Daar is miljasters goetertjies!

Maar of dit Kaaps is of nie, en dat meeste van die mense wat die goetertjies verkoop beslis nie uit die Kaap kom nie, is seker. Wat wel waar is, is dat die vriendelikheid waarmee ieder en elk gegroet word, oorweldigend is. As jy bereid is om te glimlag, word jy met vreugde verwelkom! Foto’s saam met die Rastas, waarmee toeriste terug by die huis kan gaan spog, is ‘n gewilde aktiwiteit. Dit alles met die hoop op ‘n goeie verkope? Dalk is hulle uit nature sulke vriendelike mense! Mense wat kleur en kurwes waardeer.
   



In life, as in art, the beautiful moves in curves.
-Edward Bulwer-Lytton

Wednesday 23 November 2016

Realiteite

Terwyl ons vir die bus wag in Adderleystraat, vang my oog die kardoesie in ‘n vrou se hand. Ek vra of ek maar ‘n foto mag neem – dis tog immers my naam wat op haar kardoes geskryf staan. Sy gee nie om nie. Solank ek net nie dink ek kan deel in wat binne-in is nie…. Dis seker haar aandete. Of dalk het sy helfte geniet en neem vir iemand by die huis die orige helfte saam.


Nou wonder ek oor daai advertensie op die sak. Beteken dit ‘n hoender is na my vernoem? Of is die verbruiker nou veronderstel om vol energie en vrolik te wees na die ete? Sal sy beter voel nadat sy die wegneem-ete geniet het? Staan my naam op al hul sakke? Dalk moet ek vra vir ‘n deel van die wins aangesien ek vir hulle adverteer. Gits, hulle skryf oor Linda in die verlede tyd - beteken dit dat sy "nie meer is nie" of beteken dit dat sy nie meer moeg en honger is nie?

Hoe lus kry ek nou vir dingetjies in daai sak…. Hier is hoeka ‘n rooi-en-wit winkel van die kolonel hier oorkant op die hoek. Mens moet mos darem die plaaslike ekonomie ondersteun. Dan kan ek dalk uitvind of my naam op al hul sakke is.

En dan onthou ek met 'n nare realiteit-skok dis somer se tye wat voorlê. Kleertjies moet afgeskil word. Verlede jaar se nommertjies moet weer pas.


Calories: “Tiny creatures that live in the closet and sew your clothes a little bit tighter every night.”

Monday 21 November 2016

Waar daar ‘n krakie is


Leonard Cohen se dood het baie mense aangegryp. Soos wat sy lirieke ook mense aangeraak het. Woorde met emosie belaai. ‘n Man wat met woorde kon werk. En ons het die voorreg om dit nog vir lank te kan beluister en geniet.

Maar die saak van die krakie bly my by. As daar ‘n krakie is waardeur die lig inskyn, is daar mos ‘n krakie waardeur die lig uitskyn….

Ja, ons het almal krakies. Sommige probeer dit letterlik en figuurlik toepleister op verskeie maniere. Maar ‘n krakie het mos nou maar die gewoonte om weer te verskyn – veral as daar druk op geplaas word. Of as omstandighede nou nie so gunstig is nie. Dan verskyn daai krakie. Ongevraag. Meesal op ‘n ongewensde tydstip. Wie wil dan elk geval herinner word aan daai lastige krakie wat so maklik ‘n verleentheid kan wees?

Krakies maak ons kwesbaar. Maar tog is dit die krakies wat karakter gee. Dis die krakies wat help dat die lig inskyn. Wat vir ‘n ander moed gee om nader te staan en te help. Want sien, die krakie wys “perfek” is nie ‘n woord wat mense beskryf nie.

En uiteindelik is dit die krakies wat die lig ook kan laat uitskyn. Wat vir die wêreld wys hoe ons binneste lyk. Ietsie van ons eie unieke weerloosheid wys. Wat vir ‘n naaste ‘n liggie gee om bietjie beter te kan sien waar om te tree.


Kosbare krakies. Dis wat donker verdryf. Die lig kan inskyn. En vir seker ook uitskyn - maar daarvoor moet jy 'n liggie aan die binnekant hê!

Friday 18 November 2016

Die vere en die voël

Maak die vere regtig die voël? Dis tog belangrik wat ons aantrek.

Vanoggend is ek weer in ‘n wêreld van my eie. RSG se onderhoud met Zyma Amien het my weggevoer na kleremakers oraloor. Sy raak nogal aan mens se hartsnare met haar manier van vertel van haar kunswerke wat hulde bring aan haar ouma, haar ma en kleremakers in die algemeen. Klink my sy het nog ‘n hele paar stories om uit te beeld.

Ek wonder soms hoekom kuns dikwels gebruik word om die kru en kras dinge uit te beeld. Maar dan besef ek – soos Zyma dit vertel – dat dit vir sommige kunstenaars ‘n manier is om sake uit te lig. Om aandag te vestig op dinge wat seermaak. Wat aandag nodig het.

Haar installasie wat SASOL prys gewen het, is pragtig. En as mens die storie daaragter hoor, is dit nog mooier! En tog hartseer. Soos wat die gaas wat sy in die kledingstukke gebruik, uitbeeld.

Dit bring my terug by die klere. En die vere.

Ek stap by ‘n winkel verby en sien ‘n uitrusting wat my so na my liewe kind laat verlang! Natuurlik laat die vere my aan die liewe voëltjie, wat nie meer in my nes is nie, verlang! 

En nee, ek dink nie die vere maak die voël nie. Dis maar net uiterlike versiering. Wat in ons harte aangaan, is baie, baie belangriker! 


En Zyma se versugting dat ons nie die kleremakers moet vergeet nie, laat my diep dink.

Thursday 17 November 2016

Hoeveel pote het jy?

Ek het min pote. Dit pas my leefstyl.

Vriendin meen sy het te veel pote. Dit bemoeilik sake.

So moet elkeen van ons besluit hoeveel pote ons wil hê. Sommige kan self besluit en kies. Sommige kry dit so en moet dit maar net deel maak van die elke dag se lewe.

Ek verkies min pote. En die wat wel daar is, moet sagte onderkantjies hê – van die soort wat dit maklik maak om oor die vloer te skuif. Dan hoef die stoele mos nie opgelig te word nie! Mens skuif dit net maklik op die gladde teelvloer rond. Maklik vir die skoonmaakslag. Ook maklik om weg te skuif en die vloer leeg te kry vir ‘n draai en ‘n swaai!

Vriendin meen die baie pote maak dit vir haar ‘n uitdaging om skoon te maak. Om al daai stoele weg te dra na ‘n ander plek of onderstebo te keer op die tafel, is net so ‘n beslommernis en harde werk – en dan het die vloer vee en was nog nie begin nie!


Ek het ‘n liefde vir stoele. Stoele vertel stories. Stories van kuiers. Stories van stil word. En dis moeilik om van hulle afskeid te neem as mens se woonplek moet krimp.

Maar ek kies maar die minder pote. Dis makliker. Maar om te kies watter pote gehou moet word, is ‘n ander saak…

Wednesday 16 November 2016

In verwondering

Vanoggend luister ek na Johan Heystek se boodskap wat aanmoedig dat ons weer – en meer – in verwondering moet leef.

‘n Goeie oefening is dit beslis! Raak weer bewus van elke ietsie in en om jou. In die oggend as jy wakker word, in die aand voor jy gaan slaap. Deur die dag. In die nag.


So was menige die afgelope week in verwondering oor die maan. Die superman. So mooi. So spesiaal. En vir baie was dit toe ook sommer ‘n verskoning (asof ouboet ‘n verskoning nodig het om so ‘n besonderse foto te neem!) om saam te kuier en saam te kyk.


Tuesday 15 November 2016

Noudat ek ouer is …



Weet ek dat elke dag nie Krismis is nie
… dat ek nie alles kan verklaar nie
… dat ek nooit alles hoef te verstaan nie
… dat my drome vlerkies het, maar nie noodwendig gaan vlieg nie
… dat ons elkeen tog o, so spesiaal en uniek is
… dat ons soms mag hartseer wees.
En dat ons elke dag dankbaar moet wees.



Monday 14 November 2016

Dit laat ek my nie (meer) vertel nie

Die afgelope paar jaar is dit opvallend hoeveel mense uit buurlande in ons restaurante en hotelle werk. Baie suksesvol. Ten koste van ons plaaslike inwoners.

Ons knoop graag ‘n geselsie aan met die kelners om te hoor waar hul geboorteland is. Vriendelike mense. Behulsame mense. Mense wat maklik lag.

Maar dikwels sien ons ook, veral by die vrouens, die hartseer vlak in hul oë oor verlange na hul land van herkoms en hul mense. Feitlik almal noem dat hulle weer eendag wil teruggaan na hul lande in die noordelike rigting.

Dan wonder ek oor “my” mense van die Kaap. Hulle wat swaarkry omdat hulle weer ‘n  keer nie ‘n kans kry nie. So maklik word dit afgemaak as “hulle wil nie werk nie”. Natuurlik is daar – onder alle rasse, volke, nasies – mense wat nie wil werk nie. Wat lui is. Wat nie eens hand wil uitsteek nie, maar net wil hê.

Gister het ons in die lieflike Babylonstoren se tuine gaan rondloop. Vir my is dit die nommer een plek in SA om te besoek. (As hulle vir my ‘n werkie het, sal ek dit sowaar oorweeg ook!) En wie werk daar? Mense van die omgewing. Vriendeliker en meer professioneel kry jy nie. Hulle word goed opgelei en lewer uitmuntende diens. Pragtige mense. Mense op wie ek opreg trots is.

Ek laat my nie weer vertel dat my mense lui is nie. Dis ‘n gruwelike veralgemening wat net skade doen!

Saturday 12 November 2016

Dis die kleur

Op pad terug van die lieflike varsprodukte mark langs die waterfront, ry ons vanoggend met die bus by die Groenpunt stadion verby. Bondels oranje balonne wys hier is iets aan die gebeur. Ek meen die kleur dui die tydgleuf aan waarin ons leef: Cheetahs en Trump.

Dis ‘n bedrywigheid van deelnemers aan die Color Run Rainbow Tour. Die saak word beskryf as the happiest 5 km on the planet. Deelnemers word versoek om wit klere te dra – verkieslik ou klere. Dan is daar ‘n geheime bestemming en ‘n groot gekuier wat voorlê. Elke kilometer is daar kleur-ontploffings van poeierverf oor ieder en elk (veiligheid word gewaarborg, maar deelnemers word versoek om sonbrille te dra vir beskerming). En aan die einde van die 5 km is daar ‘n hewige partytjie met nog meer kleur en kuier! As jy dus in die volgende paar dae ‘n werknemer het met ‘n vreemd-gekleurde bos hare, kan jy maar weet dit was ‘n lewenslustige!

Vanmiddag moet ons weer onsself beteuel en die bloeddruk in toom hou as ons span uitdraf. Dalk het hulle die groen en goud met bietjie oranje bygekom….. 

Friday 11 November 2016

Wie nooi jy?

Om saam te eet is vir ons gesin baie belangrik. Ons geniet ons kos. Hoe dit lyk, hoe dit ruik – en natuurlik hoe dit smaak! En heel dikwels hoe eenvoudiger en naaste aan natuurlik, hoe beter.

Maar wie saam eet, is baie belangrik! Mense wat kla en knor om ‘n tafel, sorg vir maagsere en slegte spysvertering. Ek wil lag en vrolik wees om my tafel. Die lewe vier.

Tog te lekker om saam met mense om ‘n tafel te sit wat die passie vir kos deel. Wat stories van ver lande se kos vertel. Wat onthou van ‘n Aga stoof en ‘n ouma se voorskoot waarin sy jou kon toevou.


Wie nooi jy die naweek om by jou te kom eet? As dit vir jou ‘n vreesaanjaende gedagte is, maak soos my vriendin uit my verlede: dek die tafel mooi, steek ‘n kers of twee aan, skink die wyn en sit die bak slaai op die tafel sodra die manne van die viswinkel af instap met lekker vars gebakte vis. Heerlike, ongekompliseerde en stresvrye kuier wat ons vir altyd na aan die hart sal bly! Dit was met liefde voorgesit. En met liefde ontvang en geniet.

Thursday 10 November 2016

Kuier kuier-kuier

Gisteraand het ek en manlief statistiese verskuiwings hier in die stadskom veroorsaak. Dit was Tuning the Vine – Innercity Wineroute. Ons het beslis die gemiddelde kuier-ouderdom van die Kaap bietjie gelig (of is dit juis afgetrek?)!

Heerlik om so deur die strate te kan kuier saam met honderde (of was dit duisende?) jong wynliefhebbers wat al vroliker kwetter! Oral is daar natuurlik spyskaarte wat mens kompromis laat probeer tref tussen jou maag en jou beursie. So 20 restaurante neem deel aan die gedoente wat een maal per maand in die middestad plaasvind. As jy lus het vir ‘n aand van joligheid is dit vir jou! Dis wynlandgoedere van oraloor wat hul wyn kom bekend stel.

Maar ons kan en wil nie net wyn drink nie!



Vanoggend was hier weer die gebruiklike vars produkte mark in St Georges wandellaan. Heerlike tuisgebak, kos, groente, vrugte, blomme, kos vir elke smaak. Dis sommer lekker om daar deur te drentel en te kyk wat alles aangebied word. Beslis uitstekende kopies by die groente-stalletjie. Die toeriste wat in ‘n groep verbystap, sukkel om by die toergids te bly, want dis ‘n kleurvolle spul waarvan hulle foto’s wil neem. En die vreemde kossoorte lyk en ruik verleidelik. Maar daai toergids is haastig, want iewers wag ‘n bus en lyk my hulle moet nog deur die kerk en die Tuine. Gelukkig kan ek kuier-kuier verder kyk waaraan ek vandag wil knibbel.

Tuesday 8 November 2016

Wat moet ons hieraan doen?

Opvallend dat daar geen bedelaars in die V&A Waterfront omgewing is nie.

Dis heerlik om daar rond te loop sonder iemand wat gedurig jou voorkeur met “I don’t want money ……” wat dan uiteindelik - na ‘n gesprek - daarop neerkom dat dit maar geld is wat nodig is. Want wie van ons kan dan sonder geld regkom hier op aarde? Geld is beslis nie alles nie en ook nie die belangrikste in die lewe nie, maar hoe oorleef jy sonder die rande en sente?

Vroeër vandag ry ons die stad in by die Kasteel verby. Feitlik teen elke boompie se stam probeer ‘n bergie ‘n koeltetjie kry. Daar is duisende mense wat hier in die stadskom op straat woon. En ja, ek weet meeste van hulle wil nie gehelp word en teruggaan na hul families nie. Maar dit bly hartseer-ontstellend.

Hoe los mens hierdie probleem op? Dis nie meer ‘n uitdaging nie. Dis ‘n probleem.

Vanmiddag klim ek weer uit my gemaksone uit om by die nagskuiling boekies te gaan koop om bladsytjie vir bladsytjie uit te skeur en aan te gee as ons gaan stap. Dis beslis nie ‘n oplossing nie. Dis sekerlik ook nie wat die bedelaar eintlik van my wil hê nie. Maar dalk is daar net iemand vir wie dit moed gee.

Maar ek moet dit gaan koop. Daar net om die draai van waar die bergies dik strepe teenaan mekaar onder die brug lê. Hulle pla nie eens nie. Hulle is net te moeg van sukkel. En binne die omheining van die Haven Night Shelter werk engele. Ek moet net moed bymekaar skraap. Dis nie lekker nie. Dit gaan mos elk geval nie oor of dit vir my lekker is of nie… Genadiglik help manlief my om oor daai drumpel te trap.


Die vraag bly: Wat moet ons hieraan doen? Wil ek help om ‘n piepklein verskil te maak? Net uit dankbaarheid. Omdat ek hier knus gemaklik sit nadat ek 'n heerlike bord kos geniet het. En weet dat ek vanaand warm water en 'n bed het.

Monday 7 November 2016

Hiervan is ek seker

Vanoggend stap ek deur een van die groot winkelsentrums. Verbeel ek my of is die “jingle bells” versierings van ouds bietjie getemper? Ek het nêrens die afgewaterde liedjies hoor speel oor luidsprekers nie. Ek het ook nie overdaad versierings gesien nie. Ja, wel klokke en blink, maar in ‘n meer stylvolle manier.

Verlede week luister ek so met een oor na ‘n radiopraatjie oor die onmin wat deel is van Kersvakansies. Hoe hartseer! Dis nou een van daai tradisies waaraan ons saam met die wêreld vasklou. Wat spesiaal kan wees as familietyd en omgeetyd, word dikwels ‘n bakleiery oor wie waarheen wil en moet of nie mag nie.

Onmoontlik om almal tevrede te stel!

Ja, die ou-ou raad van kommunikasie bly maar die enigste oplossing. Praat, praat, praat! En kies die regte tyd om daaroor te praat! Moenie wag tot almal oorhoeks gejaag en op ‘n knop is oor Kersfees nie! Doen dit sommer nou!

Maak dit weer ‘n fees van liefde. Eenvoud.

Dis regtig nie nodig om te baklei oor wie se beurt dit hierdie jaar is om vir die oumense te sorg nie! En ook nie nodig om jaloers te wees oor wie die grootste geskenk gee of kry nie! Laat ons die een dag wat ons onsself Jesus-volgelinge noem (die dag wat nêrens aangeteken is dat ons dit moet doen nie!) onthou van eenvoud. Van nederigheid. Van omgee. Want ai, hoe het ons onsself in so 'n komplekse klomp bog toegewikkel!


Hiervan is ek seker: dat dit eenvoudig ‘n dag van liefde – in eenvoud - moet wees! Dankie, my kinders, dat julle jul ma se hart verstaan.

Saturday 5 November 2016

Wat is daar?

Wat is op jou bedkassie?

Dit vertel dalk bietjie meer oor jou. Oor in watter fase van jou lewe jy is.
‘n Glasie water. Met ‘n kraffie by? Dalk met ‘n gehekelde doilie oor? Om te drink. In vergange se dae was daar ook ‘n glasie om die tande in te sit. Die kunsgebit. Want, o wee, niemand mag mens sonder jou tande sien nie! (Nogal een of meer van die vroulike geslag wat my destyds laat belowe het ek moet hul tande in hul mond sit sodra hulle “bykom” na ‘n operasie!)

Dalk ‘n slaappilletjie langs die water? Enetjie wat so laat as moontlik gedrink word sodat die nagrus nie knap na middernag eindig nie. En dalk nog ‘n pilletjie vir die angstigheid of lastige pyn? Beslis ‘n leesbril om seker te maak die regte medikasie vir die regte moeilikheid.

En deesdae ‘n flits. Dis noodsaaklik. Nie meer vir die ESKOM eskapades nie, maar vir veiligheid. En pepersproei naby die flitslig? Moet net nie dit op onskuldiges gebruik nie.
Selfoon. Afgeskakel? Aangeskakel? Klank net af, maar byderhand vir wie-weet-wat? As jy jonk is, is dit op jou ore – hoe skadelik dit ook, volgens sekere kenners, mag wees. Jy moet in voeling bly. Dalk skakel vriendin om te vertel hoe haar aand verloop het. Of dalk wag jy vir daai spesiale nagsê-boodskap wat droomland verseker. Miskien moet jy in kontak bly met iemand wat op gevaarlike paaie diens doen.

Handeroompie om daai hardwerkende handjies mee te troos. Of ‘n pynwerende smeertjie waarmee manlief net daai seer skouer moet invryf om die spierspasma vir die oomblik weg te jaag.

En boeke! Ja, meer as een. Vir die siel. Vir stilte. Om tot rus te kom. En ‘n lekker leesboek. Die akademiese een wat kopwerk vereis, is nie langs die bed nie; dié soort laat mens se gedagtes dwarrel en formules uitwerk. Hier langs die bed is ‘n sagter storie nodig. Dalk oor reise na ver plekke. Of reise na binneplein.

Tyd dat ek my bedkassie ‘n slag afstof en weer kyk hoe sake staan….  

Friday 4 November 2016

Het jy al uitgevind wat hulle dalk weet?

Dit gons hier om ons! Toeriste waar jy jou draai!

Hulle weet dalk iets waarvan jy nie weet nie? Kaapstad is ‘n bestemming om van te droom!
Kom kuier ‘n slag in jou moederstad! Hier is soveel om te sien en te doen! Ja, dit kos geld, maar mens kan op ‘n goedkoop manier die stad verken en die mooi beleef.

Met dapper en stapper het ek en manlief baie meer beleef as wat ons dit in ‘n voertuig sou doen. En dan is dit natuurlik gesonde oefening daarmee saam! Gratis! En as mens moeg is, is die MyCiti bus altyd naby – gerieflik en bekostigbaar.

Google discover cape town en kyk net wat ‘n heerlike klomp uitdagings om jou omgewing te leer ken!

Hoop ek sien jou binnekort!



Hierdie lieflike woonplek is in Cape Quarter omgewing. As ons nie gestap het nie, het ons dit gemis! En daai rooi hibiscus blom doen net die ding!

Thursday 3 November 2016

Gits, dis ‘n foutjie!

Vroeër die week gaan ons vir ‘n stappie. Ek stel voor ons ry bus tot by die V&A Waterfront, stap ‘n ent langs die promenade, stap tot by die winkel om kosvoorraad effens aan te vul en kry die bus terug huis toe. Manlief het rugsak vir die aankope en ek halveer sommer dadelik my lysie.

Toe stap ons heelpad terug met my sandale ‘n ent in my hand omdat die wintervoetjies nie gewoond is aan die riempie tussen die tone nie…. So kom ons bietjie later tuis as gewoonlik.

Met die skottelgoed was later die aand, hoor ek ‘n gehamer aan ‘n deur. Ek wonder wie vir wie uitgesluit het. Gewoonlik is die bure baie stil en hoor ons hulle net wanneer hulle hul deur oop- of toesluit. Maar dit klink regtig soos ‘n gehamer aan hulle deur. En daar hoor ek ook ‘n roepstemmetjie en besef dit is van binne die deur.

Foeitog, dis toe al die tyd die vrou wat hul woonstel kom skoonmaak, van wie hulle vergeet het. Ek gesels bietjie met haar deur die toe deur en probeer haar tot bedaring bring. Sy is al van 07:00 die oggend in die woonstel toegesluit. Ons kry ‘n selnommer, maar hulle antwoord nie. Ek probeer die arme vrou bemoedig en stel voor dat sy probeer kalm bly en vir haar solank iets maak om te eet. “Here is nothing to eat…” En ek kan niks doen om te help nie. Dis al donker en die arme vrou moet nog ver paaie om weer tuis te kom. Dalk staan daar iewers by ‘n toegesluite huisie ‘n verlate kindjie en wag vir ‘n mamma…. Uiteindelik laat weet die bure hulle is op pad.


En vanoggend is daai vrou sowaar weer op haar pos…. Toe ek haar vanmiddag in die gang raakloop, lag sy vriendelik oor haar wedervaring. Sjoe, vergifnis is ‘n wonderlike ding! En as mens kos moet koop en skoene vir jou voete, kom jy sekerlik maar terug na die werk toe waar jy weet jy jou dagloon kry. Al vergeet hulle soms van jou….


Wednesday 2 November 2016

‘n Jaar se dae en dinge

Gister het ons ‘n jaar se verblyf hier in onse kasteel gevier.

En skielik is daar moontlik net so 6 maande se bly hier neffens die groot klip oor…

Die een vraag wat seker die meeste in ons ouderdomsgroep gevra word, is: “Hoe lank gaan julle nog in jul huis aanbly?”  Maar vir ons word gevra: “Wat gaan julle doen nadat die broodwinner afgetree het?”

Ons weet nie! Die lekkerte is dat ons opsies het, maar nie nou hoef te besluit nie. Dus probeer ons werklik “in die oomblik” leef. Ons geniet die stad se energie. Die voorreg om in een van die mooiste stede in die wêreld te mag woon. Om saam elke dag die nuwe en vreemde en snaakse van hier om ons te kan beleef, is vir ons lekker! Om dit te kan beleef, maar veral om dit saam te kan beleef.

En hier is ‘n paar van die vele lesse wat ek die afgelope jaar geleer het:


Tuesday 1 November 2016

Wat neem jy saam?

Kindertyd was die padkos ‘n groot en belangrike saak. Skaars buitekant die dorp teen die eerste bultjie was dit al tyd vir die eerste “bederfie” – gewoonlik ‘n paar skyfies biltong. Dan het kleinboet syne in sy hempsakkie gesit. Hy het tussen my en ousus op die agterste sitplek van die motor gesit. Dis voor die dae van veiligheidsgordels. Die afklapsitplekkie (seker bedoel gewees as armlening) was net reg vir hom. Ek dink my biltong was eerste op. En so ‘n myl of wat later (ja, daar was toe nog nie eens kilometers nie!) het boetie vermakerig sy skyfies biltong een vir een uit daai hempsakkie uitgehaal en dit knibbel-knibbel geniet. Moenie dink dit het my geleer om ook bietjie terug te hou nie!

Ons het nooit ‘n piekniekmandjie gehad nie. Daar was wel ‘n leertas met alles wat mens nodig gehad het vir ‘n propperse piekniek – en elke bord en mes en vurk en lepel het ‘n spesiale plekkie gehad waar dit met leerbanjies vasgemaak is. Maar dit was nie vir padkos langs die pad bedoel nie. Hardgekookte eiers, hoenderboudjies, toebroodjies, frikkadelletjies ….. dit was vir die stilhou langs die pad in die dae toe dit nog veilig was.

Onse groot vriend was altyd goed voorberei op ‘n stop langs die pad vir ‘n koffietjie. Die koffiefles en blikbekertjies gereed vir ‘n lafenissie langs die pad onder ‘n koelteboom. En as daar ‘n uitsig was, des te beter om die omgewing te verken terwyl die lang beskuite in die koffie gedoop en ‘n wysheid kwytgeraak word. Dit alles om te keer dat mens nie pienk kolletjies voor jou oë sien as die hongerte jou beetkry nie.

Ek en manlief pak minimum padkos in. Maar reis ons saam met dogter en haar man, weet ons daar is selfs ‘n gasstofie en alles wat nodig is om ordentlike koffie te maak. En hoe lekker is dit tog nie! Dit laat my sommer ekstra verlang en uitsien na ‘n vakansie met die kinders….. Dalk kan hulle ons weer leer van piekniek hou. Onder ‘n boom. Met ‘n uitsig. En tyd vir wyshede.