Tussen ‘n boek se blaaie
Iewers in my
kindertyd het ek ‘n lieflike boek present gekry. Alice in Wonderland. As ek reg onthou, was die name van die twee
dogters Delsia en Sherine (sp?). Hulle was paar jaar ouer as ons en wat later
van hulle geword het, weet ek glad nie. Ek dink hul pa was die landdros op die
dorp en ons paaie het geskei. En nou is my ma ook nie meer hier om te vra nie…
Die boek was groot en mooi en kosbaar. Alice en haar vreemde vriende se
mannewales het my nog altyd gefassineer
alhoewel dit nie my geliefkoosde storie is nie.
Vanoggend oor RSG
vra hulle die luisteraars om te laat weet wat hul geliefkoosde kinderboeke was.
En daar laat weet die mense van heinde en ver! Lieflike herinneringe! Hoe
kosbaar is almal se onthou!
Ek onthou veral
vir Buksie die Bobbejaan wat my pa
vir my by Oom Boetie se Kafee by die rooistoepies gekoop het na my mangels
verwyder is. Daai boek van die bobbejaan wat nie wou luister nie en toe sy
vinger raakgesny het met ‘n sker, het ek oor en oor gelees! En hopelik onthou
dat skerp goed seermaak!
Dis vir my steeds
lekker om op papier te lees. Het al gewonder oor ‘n elektroniese sakie, maar ek
het ‘n liefdesverhouding met papier en ink.
En toe hoor ek
onlangs dat boekeverkope weer 10% gestyg het en dat Leserskring wat toegemaak
het, oorgekoop is en weer van nuuts af besigheid gaan doen (seker onder ‘n nuwe
naam). Is dit nou nie lekker nuus nie!!!
“A
book without pictures is not interesting”, says Alice.
No comments:
Post a Comment