Friday 15 July 2016

Die omgee vir ander

Vroeёr die week stap ons een middag in Woodstock. Dis so ‘n lieflike dag en ons stap sommer nog ‘n ekstra blok verder om die sonskyn te geniet.

Woodstock se “opstaan uit die verlede se stof” is indrukwekkend. Alhoewel sekere dele nog erg gehawend en verwaarloos is, is daar baie kreatiewe siele wat wondere verrig het met opknap van industriёle- en ander geboue. Die huisies tussenin is eenvoudig en ingeprop tussen mure en heinings van lemmetjiesdraad. Sommige vertel ‘n storie van moedeloos verby. Die slotte aan hekke by party blyplekke, waarsku dat hier nie gespeel word nie.

Ons oog vang The Haven se naambord en ons vind uit dat daar sommer ‘n paar van dié plekke in die omgewing is – sommige vir bejaardes, ander vir enigeen wat beskerming teen die lewe soek. Hartskos, ‘n tv-program met ene Elmarie as aanbieder, het ons op The Haven  se spoor gesit. Hier werk engele en ek onthou een se naam. Ons besluit om te gaan inloer en klop aan. Dis hoё heinings en stewige hekke en slotte. Die gebou is ingewig onder ‘n snelwegbrug. Dit neem ‘n tydjie om iemand te kry wat kom oopsluit. Ons word met ope arms ontvang. En ons is verstom oor die netheid van die plek. Skoon en agtermekaar. Op die oomblik word 108 mense elke nag daar gehuisves. Gedurende die somermaande is daar minder wat onderdak daar soek. Meeste van die inwoners gaan bedags uit om te gaan werk.

Met die uitstap vra ek die bestuurder wat mens te doen staan as haweloses op straat bedel. Sy beaam net weer: moenie geld vir mense op straat gee nie; stuur hulle hierheen. ‘n Praktiese oplossing vir die dilemma, is om ‘n boekie met koepons te koop @ R10 per koepon. Hou dit in jou binnesak en gee dit vir mense wat hulp nodig het. Op elke koepon is ‘n lys met plekke van veiligheid waar kos en verblyf verskaf word. Hier word medemense met respek behandel – menswaardig.


Ja, Kaapstad het my verander… 


2 comments:

Afrika-sussie said...

Nou dat ek weer toegang tot die internet het, lees ek al die blogs wat ek gemis het so in sarsies...jy kry dit reg om my te laat dink, te laat huil, te laat lag, te laat besin, te laat Afrika-sussieonthou!
Ek's so bly dat die Kaap jou die tyd gee om so te inspireer..
Jy't gedink jy gaan die Kaap verander,
toe verander die Kaap jou
en nou bly jy daardeur almal om jou verryk!
DANKIE!

Afr-sus said...

Die Afr-sussie het per ongeluk voor die onthou ingespring!!