Verlof om vakansie te hou
Vanoggend het ons net
buite Richmond in die Noord-Kaap ‘n -3⁰C beleef.
Gisteroggend is
ons vroegdag uit ‘n stormagtige en papsopnat Kaapstad weg om ons vakansie te
begin. Op Laingsburg het ons biltongvoorraad aangevul – heerlike koedoe,
springbok en blesbok (laasgenoemde die eersteprys!) en by Granaat varsgebakte
brood geniet.
Iewers deur die
dag het ons in Beaufort-Wes by Hessie se Nessie gestop vir verruklike
sjokoladekoek soos net ‘n Kokkedoor-deelnemer kan bak! Sappig en heerlik! Dit
was ook sommer ‘n viering ter herinnering aan my ma se verjaardag. Kosbare
herinneringe wat ons deur die dag met mekaar kon deel.
Teen laatmiddag
kon ons teen ‘n stewige spoed deur Richmond se strate stap om die boude net so
effens ruskans te gee en die spiere te strek. Dit was lekker koud, maar met ‘n
wolmussie, handskoene en ‘n lekker warm baadjie het ons die koue trotseer.
Vanoggend het ek
so vinnig uit my nagklere uitgespring en so vinnig weer in my klere ingespring,
dat ek nie die koue gevoel het nie. Ons was gewaarsku dat die waterpype gevries
sal wees, maar die water was net lekker koud vir gesig was om op-en-wakker op
die besige pad te wees! Baie, baie groot trokke tot in Pretoria.
Nou is ons veilig
by vriende in Pretoria en dis heerlik om lyf lank te maak tot die naweek. Die
sonnetjie skyn en oral langs die pad was waterplasse en vol damme – veral die
Vrystaat jubel met vreugde oor die reёns wat geval het!
No comments:
Post a Comment