Duwweltjies en dorings
Soms kan ons ligvoets
hardloop. Vry en kommerloos. Dan dink ons nie eens daaraan hoe ons beweeg nie.
Dit kom sommer net vanself. Moeiteloos.
En dan is daar
ander dae wat die duwweltjies pla. Die eina-goed wat ons viervoet laat
vassteek. Eina! So seer en so ongenaakbaar! Dit stuit jou in jou spore. En
eintlik sou jy dan graag iewers in die lug wou “hang” om net eers van daai
steekding ontslae te raak!
Maar aikôna! Daai duwweltjie het homself in jou
sagte vleisies geanker. Dis net vir stop en nie verder gaan nie. Beste wat jy
kan doen, is hoop vir ‘n polletjie sagte grassies of ‘n kolletjie sand om
ontslae te raak van daai doring.
Dis mos maar so
met die lewe ook. Ons kan so sagkens net met die dae saambeweeg. Tot ‘n eina
ons laat stop. En net daar ons plat op ons alie laat sit. Om te weet dis tyd
vir net gou bietjie vashaak en plan te maak met die oorsaak van die seer.
En siedaar!
Spoedig huppel ons weer verder! Nie sonder die branderige jeukerigheid wat
agterbly nie, maar dalk is dit net daar om vir ons te leer: wees op die uitkyk –
hier is dorings en duwweltjies!
No comments:
Post a Comment