Gesondheid!
Soms gebeur dit
mos so dat daar skielik baie doktersafsprake is wat nagekom moet word. Sommer
so onverwags. En sommer so op ‘n hoop sodat die mediese fonds (dankie tog vir
daai!) nie kan bybly nie.
Die afgelope tyd
was ons doenig met ‘n kind wat sy toon sleg sny, ‘n pa wat ‘n tand moet laat
trek, ‘n vriendin wat vir chemo moet gaan, iemand wat in die hospitaal sit by ‘n
siek kind, ‘n ander se kind wat met kanker gediagnoseer word, twee vriendinne
wie se ma’s erge beroerte-aanvalle gehad het …..
Die afgelope
naweek het ek die voorreg om vir ‘n uurtjie by my tannie van 88 tyd te verwyl.
Die gedagtetjies is vlak en die gesels onsamehangend. Maar sy herken my en my
man voorwaar met ‘n vriendelike laggie en daai bekende ondeundheid in die
ogies. Sy is nog kleiner as voorheen. Broos. Ek gesels met haar oor lank gelede
se dinge en onthou weer die saamspeel – hoe sy ons kleintyd leer swem het in
Waenhuiskrans se waters! Kosbare onthou. En sy lag. En sy neurie vir my ‘n
wysie – wat ek wel nie herken nie, maar ek kan vir haar van die Halleluja –liedjies
sing wat ouma op die traporreltjie gespeel het. Sy verras ons almal met “haar
gesels” en hier en daar breek daar vir ons ‘n stukkie verstaan deur.
En ek weet net
weer: wees dankbaar oor jou gesondheid. Al die skatte in die heelal kan dit nie
vir jou teruggee nie. Prag en praal is nie wat belangrik is nie. Dis die klein
dingetjies wat saak maak. Dis die eenvoud opgesluit in die basiese dinge.
1 comment:
Prys die Heer.
Post a Comment