Raar, maar ongelukkig waar
As ek die sakie
reg beskou, kos dit so iets soos R2 300+ vir een nag in die hotel hier
oorkant ons. Vir my is dit ‘n aardige
bedraggie. Vir die talle busse wat stop met toeriste wat uitpeul, is dit sekerlik
nie baie dollars of euros of wat ookal nie!
Wat interessant
sal wees, is hoeveel gaste hier bly wat nie self verantwoordelik is vir die
vereffening van die rekening nie. Wat ek bedoel, is: hoeveel maatskappye,
organisasies, vakbonde, ens is verantwoordelik vir die rekeninge? En o ja,
pappies en mammies wat swaarverdiende geldjies bymekaarskraap om vir boet of
sus op daai “moet-gaan” toer te stuur.
Want as mens self
betaal, gooi mens tog sekerlik nooit as te nimmer bottels (hopelik meesal
plastiek), blikke, papier by die venster uit nie. Natuurlik kan dit vet pret
wees om te sien watter rol toiletpapier die langste vat om onder te kom as dit uit
die twintigste verdieping se vensters gegooi word. Maar alle vet pret is nie
aanvaarbaar nie!
Vanoggend beskou
ek hoe twee manne hier oorkant uitbeur teen die toue om herstelwerk aan die
gebou te doen. En glo dit as jy wil: iemand gooi uit ‘n venster - omtrent 10
verdiepings hoër op - ‘n plastiekbottel! Vertikaal bokant die twee manne se
koppe vlieg die bottel by die venster uit. En daar is beslis iets in as ek na
die plofgeluid luister waarmee dit die oppervlak onder tref. Weliswaar op ‘n
dak waar daar nie voetgangers is nie.
Dis hartseer.
En dis nie asof ek
heeldag sit en kyk wat oorkant die straat aangaan nie. Dis maar met so nou en
dan se verbystap dat my oog ‘n beweging vang. So dalk gebeur dit baie meer as wat ek vermoed.
Maar as daai manne
toue klim, maak ek ‘n koppie koffie en gaan sit en kyk.
Dis fassinerend!
Dis harde werk! (Nie die koffie nie, die klim!)
Dis fassinerend!
Dis harde werk! (Nie die koffie nie, die klim!)
No comments:
Post a Comment